Minstens 27 sterf tydens Eswatini-betogings

Koning Mswati III, koninkryk van Swaziland (Amptelike Withuis-foto deur Amanda Lucidon via Wikimedia Commons)

Minstens 27 persone is verlede week dood tydens pro-demokrasie-betogings in die Koninkryk Eswatini (Swaziland), het ʼn kabinetminister Woensdag aan AFP gesê.

Betogings het al in Mei begin maar het verlede week geëskaleer en die regering is gedwing om die weermag te ontplooi om die polisie te ondersteun tydens die gewelddadige betogings.

“Ja, 27 mense het ongelukkig hul lewens verloor,” het Manqoba Khumalo, handelsminister, tydens ʼn telefoniese onderhoud gesê en bygevoeg dit is betreurenswaardig dat mag gebruik moes word om die betogers onder beheer te bring.

Plaaslike burgerregteorganisasies en opposisiegroepe voer aan tot 60 siviele burgers is dood.

Die Verenigde Nasies het alarm gemaak oor die dodelike onluste en versoek dat ʼn onafhanklike ondersoek van stapel gestuur moet word na beweerde menseregte-vergrype, insluitend deur wetstoepassers.

“Dit was nie bedoel nie, maar die aanvalle was van só aard dat mag in sommige gevalle gebruik moes word,” het Khumalo bygevoeg. “In sommige gevalle is skote gevuur en daar was sterftes. In sommige gevalle is mense in geboue vasgekeer toe die geboue gebrand het. Dis baie betreurenswaardig.”

Volgens hom is koning Mswati III “baie besorg” oor die lewensverlies. Meeste van die geweld het verlede week tussen Maandag en Donderdag plaasgevind.

Eswatini, voorheen Swaziland, is ʼn klein landingeslote land van 1,3 miljoen mense, tussen Suid-Afrika en Mosambiek.

Maroela Media het vroeër berig betogers het verlede week politieke hervorming in die land begin eis – Afrika se laaste absolute monargie.

Khumalo het gesê ʼn ondersoek sal gedoen word na die optrede van sekuriteitsmagte. “As ons bewyse vind dat die polisie of selfs die weermag iets aan burgers gedoen het wat nie deel was van die kriminele optrede nie, sal dit ook deur ons stelsel ondersoek word en regmatige stappe sal gedoen word.”

Sowat 3 miljard lilangeni ($210 miljoen of sowat R3 miljard) van sakebates is verloor deur brandstigting en plundery. Sowat 5 000 mense het hul lewensbestaan verloor.

“Wat verlede week gebeur het was nie ʼn betoging nie. Dit was plundery, brandstigting en verwoesting. Groot winkels is vernietig,” het die minister bygevoeg.

Betogers het na bewering ondernemings geteiken wat met die koning verbind kan word. Die koning word veroordeel vir sy weelderyke lewe saam met sy 15 vroue terwyl gewone mense in armoede gedompel is.

Khumalo blameer “buitelandse elemente” wat die geweld aangehits het – met spesifieke verwysing na Suid-Afrika se Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF). “Daar is samewerking tussen die mense wat onstabiliteit aanhits en die EFF.”

Die VN se woordvoerder vir die menseregtekantoor, Liz Throssell, het Dinsdag gesê daar is gerugte dat sekuriteitsmagte “onbehoorlike en onnodige mag” toegepas het.

Betogings het in Mei begin ná die afsterwe van ʼn 25-jarige regstudent – na bewering deur die polisie, maar die minister het gesê die betogings het “vinnig bedaar”. “Daardie kwessie is nie meer die kwessie nie. Die kwessie is nou hierdie politieke hervorming wat gevra word. Ons het ʼn Grondwet wat wys hoe dinge gedoen moet word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
marius

Nou kom haal die rooi petters se aanvoerders .

Pieter

Wie befonds die EFF? Soek die mense agter Malema.

Coolbanana

Die koning moes al lankal onttroon gewees het….. 15 vroue…. Goeie genugtig.. En die mense lewe in armoede? …. En SA gee hulle nog geld ook

Genis

Nou is die vraag, hoekom laat die ANC en Parlement toe dat die EFF in a ander land geweld aanhits… Wat se die VN van die EFF?

Swerwer

Georganiseerde Misdaad. Weet nie of mens nog die speletjie “Risk” kry wat ons in die vroeg 70-tigs
gespeel het nie, maar ja, al hierdie gemors wat nou plaasvind laat my elke keer dink aan die speletjie.