Minstens 41 vas ná skole in Gauteng geplunder is

Een van die verdagtes na wie die polisie op soek is (Foto: SAPD Gauteng)

Die polisie in Gauteng het sedert Maart 2020 reeds 41 persone in hegtenis geneem in verband met die inbrake en brandstigting by skole in Gauteng. Meeste van die persone het reeds in die hof verskyn ná hulle aangekla is van onder andere brandstigting en sakeroof.

Sewentien verdagtes is in Johannesburg (insluitend Soweto) aangekeer, nege in Pretoria, sewe in Sedibeng, vier in Ekurhuleni en nog vier aan die Wes-Rand.

“Sedert die aanvalle op skole verlede maand in die provinsie begin toeneem het, het die Gautengse provinsiale polisiekommissaris, lt.genl. Elias Mawela, ʼn span senior en ervare polisiebeamptes aangestel om die sake te ondersoek en die oortreders aan te keer,” het kapt. Mavela Masondo, woordvoerder van die polisie, in ʼn verklaring gesê.

“Die span het onverpoosd gewerk om die verdagtes aan te keer. Tot dusver is 41 persone in hegtenis geneem en nog inhegtenisnemings sal volg.”

Mawela het gesê hy is tevrede met die vordering wat die span tot dusver gemaak het. “Ek glo nog verdagtes sal binnekort aangekeer word. Ons doen ʼn beroep op die gemeenskap om met die polisie saam te werk om diegene te ontbloot wat ons kinders van ʼn beter opvoeding wil ontneem.”

In die aangehegte foto is een van die verdagtes wat op kringtelevisiebeeldmateriaal te sien is tydens ʼn inbraak by ʼn skool in Roodepoort. Die polisie versoek enigiemand met inligting oor dié verdagte of enige ander verdagte wat by die misdade betrokke is, om hul naaste polisiestasie te kontak of Crime Stop by 08600 10111. Inligting kan ook anoniem ingedien word deur die MySAPS-app.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Racheltjie Debeer ·

Ja, nou brand hulle weer als af en as hulle moet teruggaan skool toe, dan huil hulle oor die skool afgebrand is en dan word apartheid weer die sondebok.

Burgermeester ·

Die persoon in die foto poseer so mooi vir die kringtelevisie. Ek wonder of hy van plan is om die foto op Instagram te gaan plaas? Ek wil nou nie te krities wees nie, maar hy kon dalk ‘n bietjie nader aan die kamera gestaan het, en nie sy oe so gerol het nie. Die keuse van agtergrond werk ook nie vir my nie. Die skoolomgewing pas hom nie, ek dink dit sou meer van pas gewees het as die foto deur tralies geneem was.

Rodger17 ·

Ha ha ha lagwekkend dat mens jou eie kinders van n opvoeding beroof.Mooi so dis knap gedaan!

Frank ·

Ok, ons gaan nie die doodstraf terugkry nie, maar bring ten minste die lyfstraf terug, wat betref misdadigers wat met hulle hande in die koekieblik betrap word. Voeter hulle goed en laat hulle gaan, soos jare gelede. Help nie jy beboet hulle nie, en in die tronk vir jaar na jaar verhoorafwagtend, kos hulle die land net geld.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.