Minstens 5 mense met hondsdolheid gediagnoseer

Argieffoto (Foto: DarkoStojanovic, Pixabay)

Minstens vyf gevalle van mense wat met hondsdolheid gediagnoseer is, is sedert Desember 2017 in Suid-Afrika aangeteken.

Volgens die Nasionale Instituut Vir Oordraagbare Siektes (Nios) is pasiënte in Limpopo, Mpumalanga, KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap met dié siekte gediagnoseer.

Sinenhlanhla Jimoh, woordvoerder van Nios, het gesê daar is nog ʼn waarskynlike geval van hondsdolheid in Desember in die Vrystaat aangemeld by ʼn pasiënt wat ʼn kliniese diagnose van hondsdolheid getoon en gesterf het nadat die persoon in aanraking was met ʼn huiskat voordat die pasiënt siek geword het.

“In hierdie geval was bevestiging deur laboratoriumtoetse nie moontlik nie weens ʼn tekort aan toepaslike monsters om dit te doen,” het Jimoh gesê.

“Hondsdolheid in mense kan voorkom word deur profilakse ná blootstelling. Wanneer moontlike blootstelling gebeur, is dit belangrik om die wond deeglik met seep en water te was en by ʼn mediese gesondheidsorgfasiliteit aan te meld sodat ʼn hondsdolheid- assessering onmiddellik gedoen kan word.”

Jimoh het gesê voorkomingsbehandeling teen hondsdolheid sluit in ʼn reeks inentings, asook die toediening van die hondsdolheid-immunoglobulien. Wondbehandeling sluit in was en ontsmetting van die wond, ʼn tetanus-inenting en moontlike antibiotiese behandeling.

Die ses voorvalle van hondsdolheid wat genoem is, was almal mense wat blootgestel is aan troetelhonde en -katte wat hondsdolheid gehad het.

“Ander diere kan ook hondsdolheid opdoen en die virus aan mense oordra, maar sulke gevalle word minder gereeld aangemeld. Die hondsdolheid-virus is teenwoordig in die speeksel van die aangetaste dier en kan aan mense oorgedra word deur byte, krappe en ander wonde wat die vel stukkend maak en toelaat dat die besmette speeksel die liggaam binnedring,” het Jimoh verduidelik.

Sy het bygevoeg hondsdolheid in diere kan beheer word deur ʼn inenting. Die eerste voorsorgmaatreël wat dus getref behoort te word is om te verseker dat diere beskerm is teen die virus sodat hulle nie geïnfekteer kan raak en die virus aan mense oordra nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.