Minstens een sterf in Kaapstadse betogings

Groot skade is tydens die betogings aangerig. (Foto: CapeTownEtc/Twitter)

Talle paaie in die Kaapstad-omgewing was Donderdag weer gesluit weens voortgesette betogings in die omgewing. Minstens een lewe is boonop geëis nadat die persoon tydens Woensdag se gewelddadige protes deur ʼn motor getref is. Vier polisiebeamptes is tot dusver beseer.

Albert Fritz, LUR vir gemeenskapsveiligheid in die Wes-Kaap, het die betogings reeds veroordeel en gesê dit ry dienslewering en ekonomiese herstel in die wiele.

Die betogings het Maandag in die vroeë oggendure reeds verkeer in die omgewing van die N2-hoofweg, Mewweg, die R300, Hindleweg en Baden Powellrylaan ontwrig en gemeenskappe in Khayelitsha, Belhar, Kuilsrivier en Kraaifontein geraak.

Daar was ook berigte van klipgooiery en buitebande en rommel wat aan die brand gesteek is.

Talle paaie was Donderdagoggend weereens onbegaanbaar.

“Ek vra vir die onmiddellike beëindiging van die gewelddadige betogings wat nie net gevaarlik is nie, maar dienslewering aan ons mees kwesbare gemeenskappe selfs verder in die gedrang bring. Ek wil ook my diepe medelye betuig met die oorledene se naasbestaandes en wens al die beseerdes ʼn spoedige herstel toe,” het Fritz gesê.

Die LUR sê terwyl almal die reg het om te betoog, is die gebruik van geweld en die saai van verwoesting onaanvaarbaar.

“Dit is gevaarlik en onwettig om dit ten koste van ander se regte te doen, veral hul reg op veiligheid, op eiendom en die reg om vryelik te beweeg.”

Fritz het betogers ook herinner dat die verwoesting van openbare en staatseiendom ʼn misdaad is en die ekonomiese geleenthede van talle kwesbare inwoners in die provinsie pootjie.

Die LUR sê die polisie se eenheid vir openbare orde is in die omgewing ontplooi en monitor die betogings.

Hy het mense ook gevra om na vore te kom met inligting oor diegene wat by geweld en plundery betrokke is.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Misky ·

Hoe kan jy “demand” en betoog vir dienslewering, maar jy betaal nie daarvoor nie. M.a.w. dan kry jy mos jou geld se waarde….. Inteendeel, hy kos ons net ekstra geld in die tussentyd en brand, verwoes en plunder tydens die betogings. Geen logika nie

Kokerboom ·

Mnr Fritz u mors u asem. U praat NIE met stout skoolseuns maar boewe aangepor deur EFF en ANC wat so hul vuilwerk gedoen kry! ANC lag in sy mou!

Vranet ·

Dit is tyd dat wet en orde terugkeer. Die betoging is onwettig. Sover my kennis strek, moet toestemming vir optogte verkry word. Waarom laat die Wetstoepassers, polisie, openbare orde polisieëring dit toe. Dis tyd dat wette toegepas word. Neem alle betogers in hegtenis en kla almal aan en veral die aanhitsers. Orde moet herstel word. Almal het regte, maar as jy my regte skend, verbeur jy sekeres van joune.

Dup ·

Die A en C en sy rooi beret voetsoldate sal nie ophou alvorens die Wes Kaap nie getransformeer(verwoes) is nie.

Coenraad ·

Dit word erken dat die terrorisme wat tydens betogings gepleeg word ‘n misdaad is, maar niks word daaraan gedoen nie.

Samuel ·

Wie gaan die amokmakers verkla? As ACE Magashule by die studente betogers kan aansluit, waarom mag die takbokke nie betoog nie?? Wanneer die wet toegepas word, kom die wetstoepassers in die moeilikheid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.