Minstens R17 miljard nodig vir Bela-wet

(Argieffoto: Christel Cornelissen/Maroela Media)

Die omstrede wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette, alombekend as die Bela-wet, gaan minstens ʼn bykomende R17,7 miljard in finansiering benodig. En dit lyk nie of die departement van basiese onderwys enigsins ʼn idee het waar dié geld vandaan gaan kom nie.

Deidré Baartman, ʼn DA-lid van die Wes-Kaapse provinsiale wetgewer en die party se Wes-Kaapse woordvoerder vir onderwys, sê die voorlegging wat die Finansiële en Fiskale Kommissie (FFK) vandeesweek oor die wetsontwerp gedoen het, het reuse- finansiële en grondwetlike probleme blootgelê.

Die FFK het die Wes-Kaapse staande komitee oor onderwys op die hoogte gebring van die kwessie, die eerste keer in Suid-Afrikaanse geskiedenis wat die komitee ʼn provinsiale wetgewer inlig oor ʼn wetsontwerp van dié aard.

Baartman sê dit benadruk die erns van die situasie.

Die FFK het bevind daar is beduidende gapings in die departement se kosteberekening vir die wetsontwerp en het die departement se ramings as “naief” bestempel. Die kommer hou veral verband met die verpligte inwerkingstelling van gr. R.

Volgens die grondwetlike onafhanklike kommissie maak die departement se berekeninge nie voorsiening nie vir verskeie van die bykomende infrastruktuur-toevoegings wat by skole aangebring sal moet word sou die wetsontwerp deurgevoer word. Dit sluit in ekstra ablusiegeriewe, veiligheid en onderwyserhulpbronne. Dit maak ook nie voorsiening vir lewenskoste-aanpassings of salarisverhogings vir die bykomende personeel wat Bela sal vereis nie.

Selfs daarsonder sal infrastruktuur minstens R12,4 miljard beloop. Personeelkoste sal nog sowat R2,6 miljard elke jaar van die belastingbetaler verg.

Die FFK het bevestig dat die departement se raming nie voorsiening maak vir bykomende administrasie, vervoer of die koste van ondersteuning aan diegene met spesiale behoeftes nie.

“Hulle het aangedui dat die geraamde R17,7 miljard ʼn konserwatiewe skatting is en het kommer te kenne gegee oor of die regering die ‘nodige finansiële hulpbronne’ het wat nodig is om die wetsontwerp in werking te stel,” sê Baartman.

Die nasionale tesourie het die Bela-konsepwet as ʼn “ongefinansierde mandaat” bestempel en gesê dit is die departement van basiese onderwys se verantwoordelikheid om met die geld daarvoor vorendag te kom.

Die FFK het aan die komitee gesê akkurate en omvattende kosteberekenings van voorgenome wetgewing is ʼn grondwetlike vereiste en dit lyk of die departement ernstige vrae het om te beantwoord oor die koste en finansiering van die Bela-wet. Dit sluit in of nie net die gebrek aan finansiering nie, maar ook die gebrek aan ʼn behoorlike kosteberekening, die wetsontwerp ongrondwetlik maak.

“Die FFK se bevinding dui daarop dat die wetsontwerp waarskynlik veel meer gaan kos as wat die departement van basiese onderwys bereken het en dat die regering nie die hulpbronne het om vir Bela-koste te betaal nie,” sê Baartman.

“Om Bela as wetgewing sonder die nodige finansiering deur te voer, is ʼn nuttelose oefening en maak ʼn bespotting van die parlementêre proses.

“In Bela koop ons as Suid-Afrikaners iets wat ons eenvoudig nie kan bekostig nie,” sê Baartman.

Hoewel die DA in beginsel ten gunste van universele gr. R is, lyk dit of die inwerkingstelling daarvan ten beste chaoties gaan wees.

“Dit het duidelik geword dat die departement noemenswaardige vrae het om te beantwoord oor die finansiële gevolge van die wetsontwerp.”

‘Politieke agenda duidelik’

Intussen sê dr. Wynand Boshoff, die VF Plus se woordvoerder vir basiese onderwys, die “politieke agenda” van die Bela-wetsontwerp is nou duideliker as ooit.

Hy sê ook om te dink dat die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, ʼn ommekeer oor taal- en toelatingsbeleid gemaak het, is om ʼn uiters beperkte toegewing na veel meer te laat lyk.

Motshekga het vroeër gesê skoolbeheerliggame moet self die taal- en toelatingsbeleid kan bepaal, terwyl ʼn vetoreg daaroor by die betrokke provinsiale onderwyshoof sal berus.

James Ndlebe, die departement se hoofdirekteur vir beplanning en toepassingsondersteuning, het vandeesweek aan die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) se gekose komitee oor onderwys en tegnologie, sport, kuns en kultuur toegegee dat dit onprakties sou wees om te vereis dat skoolbeheerliggame taal- en toelatingsbeleid moet opstel om binne 60 dae deur die provinsiale departementshoof goedgekeur te word. Hy het voorgestel dat die NRP hierdie vereiste verwyder.

“Nogtans bly die finale gesag by die departementshoof sou daar ʼn dispuut ontstaan. Dit is dus geen ommekeer nie, maar bloot ʼn stukkie voetwerk,” sê Boshoff.

Die VF Plus het Motshekga ook uitgedaag om Afrikaanse skole wat halfvol is te noem, nadat sy dié bewering – dat sommige kinders nie toegang tot onderwys in hul omgewing het nie terwyl ander skole (verwysende na Afrikaanse skole) halfvol is – weer herhaal. Motshekga het dit nog nie gedoen nie, sê Boshoff.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.