Minstens ses verdrink in afsonderlike voorvalle

Argieffoto (Foto: Ylloh/Pixabay)

Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) het Maandag gesê hulle het die afgelope vier dae landswyd reageer op verskeie verdrinkingsvoorvalle.

Die organisasie doen ʼn beroep op die publiek om deurgaans veiligheid in gedagte te hou wanneer hulle naby water is. Hulle moedig die publiek aan om ook slegs strande te besoek waar lewensredders aan diens is. “Ouers moet ook seker maak dat ʼn verantwoordelike volwassene, wat self kan swem, altyd kinders monitor.”

  • Richardsbaai

ʼn 16-jarige seun het in die water by Pelican Island naby Bay Hall in die water verdwyn. Hy het saam met vier vriende geswem. ʼn Polisieduiker het die seun se liggaam onder die water uitgehaal. Hy is dood verklaar. ʼn Geregtelike doodsondersoek word gedoen.

  • Richardsbaai

Die NSRI is weer na Bay Hall ontbied toe ʼn 14-jarige meisie in die water verdwyn het. Haar liggaam is uit die water gehaal en sy is dood verklaar. ʼn Geregtelike doodsondersoek word gedoen.

  • Noordwes

ʼn Negejarige seun het Vrydag in die Tholwanerivier in Madikwe, noordwes van Rustenburg, in die water verdwyn. Hy het saam met drie vriende by die rivier gespeel. Die drie vriende het alarm gemaak. Die seun se liggaam is met behulp van ʼn polisiehelikopter opgespoor en uit die water gehaal – ongeveer 8 km van waar hy laas gesien is. ʼn Geregtelike doodsondersoek word gedoen.

  • Simonstad

Die NSRI en Stad Kaapstad se waterreddingsnetwerk is ontbied ná berigte oor ʼn verdrinking by Glencairn-strand ontvang is. ʼn NSRI-bemanningslid, wat nog opleiding ondergaan, bly oorkant die straat van die strand en was in daardie stadium op die strand. Omstanders het alarm gemaak en hy het die NSRI se pienk reddingsboei gebruik. Hy het op die man se lewelose liggaam in die water afgekom. KPR is tevergeefs op die 46-jarige man van Ocean View toegepas. Hy is dood verklaar. ʼn Geregtelike doodsondersoek word gedoen.

  • Monwabisi (Kaapstad)

Stad Kaapstad se lewensredders, aan diens by Monwabisi-hoofstrand, is deur omstanders ontbied waar die liggaam van ʼn man op die oostelike deel van die strand uitgespoel het. KPR is tevergeefs toegepas op die 37-jarige man van Mfuleni. Hy is dood verklaar. ʼn Geregtelike doodsondersoek word gedoen.

  • Strand

ʼn Stuurman van die NSRI Gordonsbaai, wat in ʼn woonstelblok in Strand woon, is deur die opsigter gekontak ná die liggaam van ʼn man in die woonstelblok se swembad opgemerk is. Die man, ʼn 60-jarige inwoner, is uit die swembad gehaal en KPR is toegepas. GB Med-ambulansdiens en ER24-paramedici het ook reageer. Pogings om hom by te bring was tevergeefs en hy is dood verklaar. Die man het vermoedelik ʼn mediese probleem ondervind toe hy geswem het. ʼn Geregtelike doodsondersoek word gedoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Mallie ·

Daar is nie meer lewensredders nie, want as hulle nie betaal word red hulle niemand. By Voetplaatpark het ons gesien hoe die lewensredders wag en kyk of van die sonbaaiers nie die mense help of dat jy self uit die moeilikheid kom, voordat hulle n poging aanwend om te help. Die beste manier is om waterveiligheid aan te moedig en te sorg dat n verantwoordelike persoon teenwoordig is.

Swerwer ·

Waar is die dae toe ouers verantwoordelik was vir hul kinders en nie die staat nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.