Minuut se stilte ná Garsie-matrikulant sterf

Leerders van twee Pretoriase hoërskole het voor hulle mekaar vir die Stadsbeker die stryd aangesê het, ʼn minuut stilte gehou vir Jaco Fourie (17) wat ʼn dag tevore sy lewe in ʼn motorfietsongeluk verloor het.

Maroela Media het Saterdag berig Jaco, ʼn leerder aan die Hoërskool Garsfontein in die ooste van Pretoria, is Vrydagmiddag dood toe hy ná skool in ʼn motorfietsongeluk betrokke was.

Volgens Gareth Pahl, woordvoerder van Hi-Risk Unit se mediese eenheid, het die ongeluk omstreeks 13:00 naby die aansluiting van Serenestraat en Kommetjiesingel in Garsfontein plaasgevind.

“Hy het die aansluiting van Jacquelineweg se kant af genader toe hy om die een of ander rede beheer oor sy motorfiets verloor en teen ʼn boom langs die pad gebots het,” het Pahl Saterdag aan Maroela Media gesê. Jaco is in ʼn kritieke toestand aangetref. Hy is op die toneel behandel en met ʼn ambulans na ʼn nabygeleë hospitaal gehaas.

“Daar is onverpoos in die ambulans en in die hospitaal noodhulp op hom toegepas, maar ná ʼn poging wat ʼn hele ruk geduur het, is hy in die hospitaal dood.”

Pahl het gesê daar was vermoedelik nie nog ʼn voertuig in die ongeluk betrokke nie. Meer besonderhede oor die ongeluk is nie bekend nie en dit word deur die polisie ondersoek.

Leon Bantjes, hoof van die Hoërskool Garsfontein, het aan Maroela Media gesê die skool het met groot leedwese van Jaco se dood verneem.

“Hy was sy hele hoërskoolloopbaan in Garsfontein en het goed op alle vlakke presteer – akademie én sport. Hy het voluit gelewe en was veral lief vir CrossFit. Hy was vriendelik, borrelend en het altyd geglimlag, net soos op sy skoolfoto gesien kan word,” het Bantjes gesê.

Bantjes het gesê Jaco was baie gewild onder die matrieks, sy vriende en onderwysers. “Ons kon veral die laaste paar dae sien hoe diep hy in mense se harte ingekruip het.”

Die Hoërskool Garsfontein en die Hoërskool Menlopark het mekaar Saterdag vir die Stadsbeker in die A-afdeling vir makroskole die stryd aangesê. “Almal wat daar was, het ʼn minuut stilte vir Jaco gehou om eer te betoon. Ons wil baie dankie sê vir die Hoërskool Menlopark vir die wonderlike gebaar.” Die Garsies-span het hul harte uitgespeel en Menlopark met 66-21 geklop.

Die skool het Maandagoggend ʼn beradingsessie gehou waartydens beraders, leraars en sielkundiges die matrikulante, ouers en Jaco se vriende bygestaan het. “Ons wil ook vir hulle baie dankie sê vir wat hulle gedoen het. Beraders is steeds beskikbaar vir enigiemand wat hulp verlang,” het Bantjes bygevoeg. Drie matrikulante het tydens die sessie huldeblyke aan hul vriend opgedra as eerbetoning.

Bantjes het namens die skool sy innige meegevoel aan Jaco se ouers, Willie en Judy Fourie van Garsfontein, en al sy vriende betuig en gesê die skool staan die ouers by in hierdie moeilike tyd.

Jaco se begrafnis vind op Vrydag 2 Junie om 10:30 in die Lux Mundi-kerk plaas.

Kapt. Colette Weilbach, woordvoerder van die polisie, het die ongeluk aan Maroela Media bevestig. Die Garsfontein-polisie doen ʼn geregtelike doodsondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

J ·

My innige simpatie aan sy ouers en familie en vriende. So hartseer

toy ·

Ai my hart is seer vir sy familie. Sterkte en mag die Here julle krag gee en troos in hierdie hartseer tyd.

Nico ·

So hartseer. My oudste kind is 17. Jy doen alles om die leerlinglisensie en bestuurderslisensie te kry. En dan plaas jy hulle op die pad. Elke oomblik is bloot genade.

Anna ·

Ja dis waar. Iemand het my al gevra wat is die ergste van kindgrootmaak. Toe sê ek die dag as jou kinders kan bestuur of leer bestuur. Veral in die winter. En veral as hul met n motorfiets begin soos myne. Daardie bekommernis maak jou mal.

Ada ·

Ai dit is so hartseer. Sterkte aan die ouers familie en vriende. Dit is n ramp.

leon pit ·

Kan my nie self voorstel hoe sy Ouers moet voel nie. Ons dink aan sy Ouers familie en vriende.. God sal vertroosting bring. Die donker sal weg gaan.

cs ·

Ek dinkdis enige maar enige ouer se vrees om so oproep te kry- ‘n paar jaar terug het ons vriende hulle enigste kind in ‘n motorongeluk verloor en al wat die ma vir my gese het daarna-niemand kan haar ooit weer bel en vir haar se haar enigste kind is dood nie. Baie sterkte aan hierdie kind se ouers en familie, julle is ons gebede

Hannelie ·

Here ek dra hierdie seun se ouers en familie aan U op. Hou U hand van vertroosting oor hul. My innige simpatie aan sy ouers. So ‘n mooie seun.

HB ·

Ek is ‘n Garsie-ouer en my hart is net so seer saam met die ouers en mede leerders. Saterdag by Menlopark het my hart gebreek, al ken ek hom nie persoonlik nie, want langs my het ‘n dogter van Garsfontein vreeslik gehuil. Mag die Here vertroosting bring aan die familie en die leerders wat saam met Jaco op skool was.

Tina du Toit ·

Innige simpatie vir julle verlies. Dis net God wat julle in die moeilike tyd kan dra. Sterkte

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.