Misdaad ‘gemeenskaplike vyand’, sê Cele aan boere

Die minister van polisie, Bheki Cele, gee terugvoer oor landelike veiligheidskwessies. (Foto: SA Polisie)

Die minister van polisie, Bheki Cele, het Donderdag in Bethlehem in die Vrystaat gepleit vir nie net groter samewerking tussen verskillende staatsdepartemente om landelike misdaad te stuit nie, maar ook in die landboubedryf self.

Cele het terugvoer aan die landbougemeenskap gegee ná sy aanvanklike besoek aan die Vrystaat ná die grumoord op Brendin Horner (21). Verskeie ander plaasmoorde het die provinsie sedertdien verder geruk. Dit sluit in die moorde op Pieter Hills en sy seun, Eddie, die afgelope naweek, asook die mees onlangse voorval waarin Mark Regal gisteraand op ʼn plaas naby Odendaalsrus doodgeskiet is.

Lt.genl. Bailey Motswenyane, provinsiale polisiehoof in die Vrystaat, het ook terugvoer gegee oor die polisie se vordering in die ondersoeke na die voorvalle. Volgens haar word veroordeelde misdadigers in die meeste van dié onlangse gevalle met die misdade verbind.

In een geval word daar ná ʼn aanval in die Hennenman-omgewing gesoek na ʼn verdagte wat verlede jaar, ná 11 jaar in die tronk ná ʼn lewenslange vonnis vir sy betrokkenheid by ʼn vorige plaasaanval, op parool vrygelaat is. Dié man word nou weer in verband met ʼn plaasaanval gesoek.

Cele het dié verskynsel skerp gekritiseer.

Hy het ook gevra vir beter samewerking tussen die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) en die polisie om te verseker sake is waterdig. Volgens die minister is dit onaanvaarbaar dat sake teruggetrek word omdat ʼn polisieondersoek onvolledig is.

“Jy kan nie ʼn saak terugtrek omdat die polisie nie hulle werk gedoen het nie. Gaan sê vir die polisie om hulle werk te doen. As die aanklaer nie genoeg [bewyse] het nie, moet hy vir die polisie gaan sê om daardie gapings te vul.”

Verenigde front

Motsepe Matlala, president van die National African Farmers’ Union (Nafu), het aan Cele gesê die verhouding tussen swart boere en die polisie is swak en dat hy agter geslote deure met die minister oor kwessies wat swart boere raak, wil vergader. Hy het ook aangevoer dit lyk of die moorde op wit boere meer gewig dra as die moorde op swart boere. “Hoekom lyk dit asof swart lewens nie belangrik is nie? Dis nie ʼn kwessie van ras nie, dis ʼn kwessie van gelyke behandeling,” het hy gesê.

Cele het egter gepleit dat ras uit die gesprek oor plaasmoorde gehaal moet word en het die bedryf gevra om saam teen misdadigheid te werk. “Ek is nie die minister van polisie van wit of swart Suid-Afrikaners nie. Ons kan nie ʼn situasie hê waar daar ʼn belangriker dood of ʼn minder belangrike dood is nie.

“Die bedryf moet saambaklei. Ons moet luister na die boerderygemeenskap. Na boere, nie wit of swart boere nie. Ons moet daaraan werk dat mense in die boerderygemeenskap nie sterf nie.”

Cele het ook benadruk dat daar geen sogenaamde volksmoord op wit boere is nie. “Moenie verdeeld wees nie. Misdaad is die gemeenskaplike vyand,” het hy gesê.

Hy het ook weer ontken dat hy vroeër in Normandien in KwaZulu-Natal by ʼn byeenkoms gesê het dat boere wat nie luister nie, gaan seerkry. Hy het ook gesê die dag as hy énige moord goedpraat, hy die tuig moet neerlê.

Herkie Viljoen, voorsitter van die veiligheidskomitee van die Bethlehem distriksboerevereniging, het gesê daar kon die afgelope ruk reeds verandering gesien word danksy vorige besprekings, maar dat beter samewerking steeds nodig is.

“Ons probeer in hierdie stadium net oorleef. Hierdie is nie net ʼn plaasprobleem nie, dis ʼn misdaadprobleem,” het Viljoen gesê en ook verwys na die talle mense in dorpe en townships wat ook slagoffers van misdaad is.

Veediefstal

Die minister van polisie, Bheki Cele. (Foto: SA Polisie)

Cele het erken dat veediefstal ʼn enorme probleem is en dat dit dringend gepak moet word. Die jongste misdaadsyfers word Vrydag bekend gemaak.

“Ek het die [veediefstal-]syfers gesien. Dis hel.”

Cele sê volgens dié syfers is meer as 4 000 stuks vee ter waarde van R14 miljoen die afgelope paar maande gesteel.

“Dit is ekonomiese sabotasie. Dit moet benader word soos enige ander ernstige misdaad, soos ʼn transito- of bankroof. Dit kan nie gewone, onbenullige misdaad wees nie.”

Polisiebetrokkenheid by misdadigheid

Daar was die afgelope ruk ook verskeie bewerings van beweerde polisiebetrokkenheid by misdaad, veral by veediefstal. Cele het opdrag gegee dat dié bewerings volledig ondersoek word. “Daar is net te veel bewerings en ʼn ondersoek daarna moet gedoen word.”

Een van die mense in die gehoor het gesê hy het al by verskeie geleenthede inligting oor beplande misdade aan die polisie deurgegee, sonder dat enigiets daaromtrent gedoen is.

Komitee

Cele het gesê wat betref die komitee wat kyk na veiligheidskwessies in die provinsie gaan daar voortaan ook groter samewerking wees tussen die veiligheidsgroepering in die regering (JCPS) en departemente soos landbou en internasionale samewerking, asook openbare werke.

Cele sê die minister van internasionale betrekkinge sal byvoorbeeld betrokke raak weens die groot getal buitelandse burgers wat by misdaad in Suid-Afrika betrek word, terwyl openbare werke die kwessie van onbegaanbare paaie langs die grens moet help pak.

Die minister sê die polisie kan nie die probleem alleen oplos nie.

“Daar is baie vrees hier en ons kan nie toelaat dat mense in vrees leef nie. Of hulle nou boere, of vroue of gewone burgers van die Vrystaat is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

20 Kommentare

jongste oudste gewildste
Werner

Solank hy terrorisme as misdaad beskryf stel hy in elkgeval nie belang om n oplossing te kry nie.Die feit dat hy dit wegsteek beteken dat hy dit goedkeur

Christina

Hy kan nie een ding sê en dan loop hy saam kriminele nie. Wie gaan dan glo hy bedoel dit. Meer nog baie polisie beamptes is skuldig aan misdaad. En om op parool te sit na moord!! So lank ‘n saak sloer mag so ‘ n persoon volgens my nie borg kry nie.

Persheks Adri

Talk is cheap!!! Cele bewys aan ons dat JY jou werk kan doen waarvoor JY betaal word! Natuurlik is ras ‘n kwessie duh. Hoekom doen JY niks aan Mal-emma en sy maters nie? Hulle hits dit dan aan pffft!

Persheks Adri

Regtig waar kyk die stelling:

Hy het ook gevra vir beter samewerking tussen die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) en die polisie om te verseker sake is waterdig. Volgens die minister is dit onaanvaarbaar dat sake teruggetrek word omdat ʼn polisieondersoek onvolledig is.

“Jy kan nie ʼn saak terugtrek omdat die polisie nie hulle werk gedoen het nie. Gaan sê vir die polisie om hulle werk te doen. As die aanklaer nie genoeg [bewyse] het nie, moet hy vir die polisie gaan sê om daardie gapings te vul.”

Blikke

Oëverblindery se ek jou….hoe MEER jy kyk hoe MINDER sien jy……die heuningkwas is aan die werk!!