Misdaad raak een uit elke twee SA’ners

Foto ter illustrasie. (Foto: pixabay)

Meer as die helfte van Suid-Afrikaners was al die slagoffer van ʼn misdaad of het al ʼn misdaad sien gebeur. Die meeste van die misdade was inbrake of ʼn rooftog en het dikwels ʼn langtermyn- fisieke of sielkundige uitwerking op slagoffers en hul naasbestaandes.

Dié bevindings word gemaak in ʼn verslag deur die Automobiel-Assosiasie (AA), wat Vrydag bekendgestel is.

Data is verkry op grond van ʼn opname onder 1 473 Suid-Afrikaners.

Hiervolgens was 68% van Suid-Afrikaners al die slagoffer van misdade. ʼn Vyfde (21%) van mense was die slagoffer van ʼn huisbraak of rooftog en nagenoeg 10% die slagoffer van bedrog of skade aan eiendom. Slegs 1% was al die slagoffer van ʼn ontvoering.

“Dit is interessant dat die meeste respondente meen hulle voel die veiligste in hul huise, terwyl die statistieke wys dat misdade binne huise die meeste voorkom,” sê die AA.

Foto ter illustrasie. (Foto: Pixabay)

Luidens die verslag sal dié syfers hoër wees as die amptelike misdaadstatistieke, aangesien baie misdade nie by die polisie aangemeld word nie. Dit is omdat Suid-Afrikaners nie meen dit gaan enige verskil maak om die misdaad aan te meld nie of omdat dit te moeilik is om ʼn klagte aan te meld. Die AA se syfers wys dat die meerderheid van die respondente (74%) meer vertroue in privaat sekerheidsinstansies as die polisie het.

Wat ooggetuies van ʼn misdaad betref, het 53% van deelnemers gesê dat hulle al ʼn misdaad sien gebeur het. Die meeste hiervan (17%) was rooftogte, 13% aanrandings en 11% skade aan eiendom. Net 2% van respondente (ongeveer drie mense) sê hulle het al ʼn moord of seksuele aanranding sien gebeur.

Om ʼn slagoffer van misdaad te wees, lui die verslag, het nie net ʼn fisieke of sielkundige uitwerking op ʼn persoon nie, maar kan ʼn invloed op verskeie fasette van mense se lewe hê, soos die rol wat hulle binne ʼn samelewing speel of die soort werk wat hulle doen. “Dit raak dus nie net een persoon nie, maar die mense rondom die slagoffer ook.”

Luidens die data het 13% van slagoffers aangedui dat hulle nou sekere plekke of situasies vermy. 12% het aangedui hulle het angs ontwikkel ná afloop van die misdaad, 7% kan nie slaap nie of het depressie ontwikkel ná die voorval en 4% sukkel nou met slegte gesondheid weens die voorval.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Samuel ·

Dit is tragies dat mense in soveel vrees leef en eerder privaat sekerheidsmaatskappye vertrou as die SAPD.

Strandloper ·

Naar maar waar….dit is hoekom ons voorouers gedoen het wat hul gedoen het… Kruisig my maar vir my stelling maar dit is die reine waarheid.

Papsak ·

Ja dit is n skande dat ons so in vrees moet lewe alles moet dig toe wees om jou anders het jy probleme

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.