Misdaad só erg dat kliniek deure moet sluit

Die Helenvale-kliniek moes noodgedwonge sy deure sluit. Foto: Raahil Sain/ANA

Die Helenvale-kliniek in Nelson Mandelabaai se noordelike gebiede moes sy deure sluit aangesien voortslepende geweld en skietvoorvalle die werksomstandighede vir verpleegsters ondraaglik maak.

Verpleegsters het Vrydag die voorbereiding gedoen vir die verskuiwing na ʼn ander perseel nadat die Oos-Kaapse departement van gesondheid besluit het dié fasiliteit het disfunksioneel geraak weens kommer oor veiligheid in die bende-geteisterde gebied.

Farouk Jeptha, gemeenskapsleier van Concerned Citizens of PE Metro, sê daar is voortdurende voorvalle van geweld in die gebied en in die afgelope week is mense by die kliniek met messe gedreig. Jeptha het verduidelik wanneer ʼn skietvoorval plaasgevind het, kom gewonde bendelede na die kliniek vir mediese behandeling, terwyl hul teenstaanders dit dan as ʼn geleentheid sien om op hul vyande toe te slaan terwyl hulle in die kliniek behandel word.

“Mense voel net baie onveilig, selfs die polisie. Verlede week is ʼn veiligheidswag aangerand en met ʼn vuurwapen gedreig,” het hy gesê.

“Dit is nie goed vir ons [gemeenskap] nie. Ongeveer ʼn jaar gelede moes ʼn poskantoor ook sy deure sluit oor die voortdurende geweld. Ons het probeer onderhandel dat dit weer oopgemaak kan word, maar ek dink nie dit sal nou meer gebeur nie.”

Hy sê die verpleegsters word daagliks geïntimideer en moet gereeld nagmerrie-ervarings beleef met misdadigers wat instorm en die medisynekaste oopruk en vat wat ook al hulle wil hê.

Hoewel die gemeenskap volhou misdaad is buite beheer, sê die polisie daar word nie sake in dié verband aangemeld nie. Kol. Priscilla Naidu, woordvoerder van die polisie, sê geen aanrandingsake by die Helenvale-kliniek is die afgelope maand aanhangig gemaak nie.

Naidu sê sy is wel bewus dat die kliniek vir ʼn paar dae toegemaak het en dat daar verlede maand ʼn vergadering plaasgevind het waar daar ooreengekom is dat ʼn polisievoertuig voltyds by die kliniek ontplooi sal word.

Die Helenvale-kliniek se personeel sal nou by die Malabar-gemeenskapskliniek aansluit, wat normaalweg een keer per week op ʼn Vrydag oop is. Terwyl die Helenvale-personeel by dié kliniek ontplooi is, sal die kliniek egter elke dag oop wees.

Lwandile Sicwetsha, woordvoerder van die provinsiale departement van gesondheid, het bevestig die situasie by die Helenvale-kliniek het nou ʼn punt bereik waar die kliniekpersoneel nie meer in staat is om hul pligte uit te voer nie. Sicwetsha sê die bendebedrywighede en skietvoorvalle het nou ʼn kritieke stadium bereik waar veiligheidsmaatskappye en die SAPD nie meer enigiemand se veiligheid tydens werksure of ná kantoorure kan waarborg nie.

Sicwetsha sê die polisie is die afgelope maand ingebring om te probeer om die situasie te stabiliseer en seker te maak personeel is veilig, maar die plan is sedertdien laat vaar.

Jeptha sê die toename in mense wat nou na die Malabar-kliniek moet gaan vir mediese behandeling is ʼn rede tot kommer. “Ek voorsien daar gaan probleme wees, want daar is nie ruimte by Malabar vir nog mense nie. Dink ook aan die afstand en hoe ver dit is van Helenvale tot by Malabar. Wat gaan die mense doen wat nie vervoer het nie?” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

PJ ·

Ooo die NUWE SUID AFRIKA darem net voorspoed na voorspoed fantasties

Gert ·

Is dit die land wat CR aan die wereld voorhou om biljarde se dollars te bele??? Noem hulle dit stabiliteit?? Waar gaan ons eindig???

LR ·

Geweld, korupsie en algemene midaad verswelg hierdie land.
Is dit omkeerbaar. Indien wel, hoe! Gee raad. So kan ons nie aangaan nie.

Erwee ·

Anc en Polisie kan nie meer burgers beveilig nie hulle raak irrelevant

Pieter ·

Hoe dan anders as 90% van die regering self misdadiers is?
Sluipmoord op sluipmoord om n magsbasis te behou. Hoe sal die regering hulle dan nou steur aan die gewone mense en hulle kleinlike bende skermutselings?

Willehond ·

Hulle eet die vet van hulle eie kallers! Geniet dit, die kallers word bitter min!

Andrea ·

Ek stel my voor: die ou SA polisie- en weermag beweeg in hierdie bendegeteisterde gebiede in en maak skoon van n kant. Dit sou wees soos om n sweer oop te steek. Wat n verligting sou dit wees om van die etter ontslae te kon raak. Ek mis my effektiewe, wet-en-orde gedrewe vaderland.

Gemaskerde Sopbeen ·

Wat gebeur wanneer ‘n regering, wie se eerste verpligting volgens die konstitusie die veiligheid en sekuriteit van sy landsburgers is, openlik erken dat misdaad gewen het en dat hulle nie meer iemand se veiligheid kan waarborg nie? Is hierdie burgers dan nog belastingpligtig teenoor die staat wat nie meer hierdie veiligheid kan bied nie?

Maljan ·

En wie moet ons bedank? N polisie diens wat wemel van oppertuniste en skurke maar te geelgat om wet toe te pas.

Elsa ·

Ek wonder of daar enige blanke is wat besef dat ons nog steeds baie het om voor dankbaar te wees, want nie een van ons moet leef in sulke omstandighede soos hierdie mense in hierdie woonbuurte nie. Hoevele van hulle word nie daagliks doodgemaak nie en ek dink nie eens daar word behoorlik rekord gehou van sterfgevalle nie. Plaasmoorde is erg en ek voel bitter jammer vir al die slagoffers en mense wat dierbares verloor het. Ons blankes maak asof dit net ons boere is wat uitgemoor word en praat van blanke uitwissing, maar wat van al die swartmense wat nog meer onder hierdie geweld en moorde ly as ons? Hulle lewens is vir hulle net so kosbaar soos wat ons lewens vir ons is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.