Misdaad teen boere ‘verontrustend’

Argieffoto (Foto: Reint Dykema)

Die jongste misdaadsyfers het ʼn verontrustende gevoel by landelike gemeenskappe gelaat.

Tussen Julie en September is altesame 68 mense op landbougrond, plase en kleinhoewes vermoor, terwyl 74 mense byna hul lewe weens aanvalle verloor het.

Die meeste van hierdie moorde is in die Wes-Kaap (24) aangeteken, gevolg deur Gauteng (12) en die Vrystaat (9).

Bheki Cele, minister van polisie, het Vrydag die misdaadsyfers vir die tweede kwartaal bekend gemaak, en daarmee saam ʼn donker prentjie van die stand van sake geskets.

Die syfers het onthul dat altesame 6 945 mense in die driemaande-tydperk vermoor is.

Cele het gesê dit is wel bemoedigend om te sien hoe veediefstal met 5,5% afgeneem het.

Daar is wel 6 935 gevalle van veediefstal aangemeld. Die meeste hiervan het in die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal plaasgevind, waar onderskeidelik 1 679 en 1 596 gevalle aangemeld is. Die Vrystaat het ook 801 gevalle van veediefstal gehad.

(Grafika: Megan Swart/Maroela Media)

Jaco Schoeman, voorsitter van die eiendomsregkomitee by TLU SA, sê dit is moontlik dat hierdie syfers ʼn verwronge beeld van die situasie skep, juis omdat baie veediefstalgevalle nie eens aangemeld word nie.

“Daar is baie mense wat hul vertroue in die polisie se vermoë om sake op te los verloor het, en wat dit bloot nie by die owerhede aanmeld nie,” sê hy.

“Dit sal wel in die belang van die polisie wees om alle misdade, maar veral veediefstal, met groter prioriteit te hanteer.”

Cele het gesê die polisiediens se landelike veiligheidstrategie funksioneer steeds en “ons is tevrede met die metodologie van misdaadstatistieke wat vir die boeregemeenskappe ingesamel is”.

Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, sê die hoë misdaadsyfer het oor die algemeen ʼn diepgaande en veelvlakkige uitwerking op die land se ekonomie.

“Die aanpak en vermindering van misdaad is nie net ʼn kwessie van openbare veiligheid nie, maar ook ʼn kritieke komponent om ʼn gesonde en lewendige ekonomie te bevorder,” sê hy.

“TLU SA doen ʼn beroep op alle Suid-Afrikaners om saam te span in die poging om landbouverwante misdaad te bekamp en ʼn veilige omgewing vir ons boeregemeenskappe te skep.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Di ·

Wie moet ons bedank dat misdaad die land oorgeneem het? ANC KADERS

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.