Misdaad wurg ook skole

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Calvin Ma/Unsplash)

Die mees onlangse misdaadstatistieke het oudergewoonte ʼn somber prentjie van veiligheid in Suid-Afrika geskets. Dit is ook waar vir ons onderwysinstellings, waar nie minder nie as sewe moorde tussen Oktober en Desember verlede jaar gepleeg is. Altesaam 24 gevalle van poging tot moord is boonop aangemeld en 61 verkragtings het glo plaasgevind. Verder is 252 voorvalle van aanranding by onderwysinstellings aangemeld, die meeste hiervan in skole.

Kenners sê dié probleem se wortels lê dieper as om bloot bykomende veiligheidsmaatreëls by skole aan te stel.

Luidens die misdaadstatistieke wat verlede week bekendgemaak is, het ses uit die sewe moorde en 38 van die 61 verkragtings wat tussen Oktober en Desember aangemeld is, by skole plaasgevind. Die enigste ander moord was by ʼn tersiêre instelling, waar 11 verkragtings ook plaasgevind het. Verder het ses beweerde verkragtings by ʼn dagsorg of naskooldiens plaasgevind en ses by ʼn spesiale skool.

ʼn 13-jarige leerder van Laerskool Primrose in Germiston is juis verlede week in hegtenis geneem, nadat hy die skoolhoof by die skool geskiet het. Die hoof het die voorval oorleef.

Die getal moorde in skole is wel steeds baie minder as die getal moorde wat in dieselfde tydperk op plase (107), sakepersele (83) of selfs myngebiede (16) aangeteken is.

Die getal verkragtings, voorvalle van poging tot moord en aanranding by onderwysinstellings het egter toegeneem, in vergelyking met dieselfde tydperk in 2022. Toe is 12 moorde, 21 pogings tot moord en 201 aanrandings aangemeld. Altesaam 56 klagtes van verkragting by ʼn onderwysinstelling is ook aangemeld. Die meeste hiervan was weereens by ʼn skool gewees.

Grafika: Elsabe Erasmus.

Die DA het Maandag gesê die “bloedbad” in skole moet end kry, en gesê dié party se beleid skep ʼn veilige ruimte binne skoolomgewings. “Die DA se Wes-Kaapse veiligeskoleprogram is ʼn holistiese benadering wat veilige ruimtes skep wat die geleentheid vir mishandeling minimaliseer en seker maak veiligheidsbeleidstellings en strukture om voorvalle aan te meld, is in plek,” het Marina van Zyl, die DA se skaduminister van onderwys, Maandag gesê.

Tog het die meeste verkragtings van al die provinsies (12) by onderwysinstellings in die Wes-Kaap plaasgevind. Die Wes-Kaap het ook die naasmeeste moorde (2) en die derde meeste aanrandings (32) op skoolterreine aangeteken.

Basil Manuel, voorsitter van die onderwysersvakbond Naptosa, sê hoewel hy bogenoemde syfers nie as ʼn bloedbad sal beskryf nie, is dit uiters kommerwekkend dat kinders by die skool sterf. “Dis uiters tragies. Daar is niks ergers vir ʼn skoolhoof as om vir ʼn ma te sê haar kind is by die skool dood nie.”

Hy sê hoewel dit beslis sal help indien skole meer hulpbronne het om die terrein te beveilig, lê die oplossing eerder op maatskaplike vlak. “So baie gemeenskappe sien geweld as ʼn manier om ʼn probleem op te los. Ons almal het ʼn rol om te speel om ons gemeenskappe minder gewelddadig te maak. Onderwysers kan nie alleen hierdie probleem oplos nie.”

Hy sê sigbare polisiëring kan ook ʼn groot rol speel in die bekamping van misdaad in en rondom skole.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.