Misdaadintelligensiehoof ‘nog ʼn Zuma-kader’

Argieffoto

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, het Donderdag gesê genl.maj. King Bhoyi Ngcobo, wat pas as waarnemende afdelingskommissaris vir misdaadintelligensie aangestel is, is “duidelik net nog ʼn ontplooiing van ʼn lojale kader van pres. Jacob Zuma”.

Ngcobo is vandeesweek in die posisie aangestel nadat lt.genl. Lesetja Mothiba, waarnemende nasionale polisiekommissaris, besluit het om genl.maj. Pat Mokushane terug te skuif na sy permanente posisie as die provinsiale hoof van beskerming- en veiligheidsdienste in die Noord-Kaap. Mokushane is van die amp as waarnemende hoof van misdaadintelligensie onthef te midde van bewerings dat hy geld van misdaadintelligensie misbruik en sy eie ondernemings uit sy polisiekantoor bedryf het.

Groenewald het egter in ʼn verklaring gesê hoewel dit voorkom asof Ngcobo met sy 20 jaar lange diens in die polisie redelike ervaring het, is daar ʼn wolk van omstredenheid oor sy kop weens bewerings dat hy sy matrieksertifikaat vervals het.

“Voordat Ngcobo vir ʼn kort tydperk waargeneem het as hoof van intelligensie met Richard Mdluli se skorsing, was hy ʼn persoonlike lyfwag van die president en dus baie na aan die staatshoof,” het Groenewald gesê. Volgens hom is dit duidelik dat Zuma algehele beheer oor die verskillende afdelings van die intelligensiedienste, waaronder misdaadintelligensie wil hê.

“Die vorige waarnemende hoof van misdaadintelligensie [Mokushane] is juis vervang omdat hy ʼn vervalste sekerheidsklaring verkry het. Dit laat vrae ontstaan oor die geloofwaardigheid van die proses van sekerheidsklarings. Die vraag kan daarom gevra word: Hoe geloofwaardig gaan Ngcobo se klaring wees?” het Groenewald laat hoor.

“Hierdie aanstelling laat ook kommer ontstaan oor die toekomstige aanstelling van ʼn permanente nasionale polisiekommissaris. Dit is duidelik dat Zuma hom met lojaliste omring en nie sal skroom om weer ʼn politieke aanstelling in dié pos te maak nie.

“Die polisie is in ʼn krisis omdat sy topbestuur nie op peil is nie, weens waarnemende aanstellings in strategiese poste, en omdat politieke ontplooiings nie ʼn hoë prys stel op kundigheid en ervaring nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Andre van der bank. ·

O maggies!! Ek hoop van harte hy kan wel die pos sonder oogklappe aanpak. Suid-Afrika het beslis nie n “kader” nodig nie, veral nie die polisie wat elke landsburger moet beskerm en dien nie.

Andre ·

Dit is omdat onbevoegde mense aangestel word dat ons land nie meer veilig is nie , die kriminele doen net wat hulle wil . Ons benodig Senior Polisie vir die mense , nou word senior Polisie aangestel vir die staat ?????

Johan ·

Dit gaan al lankal nie meer om kundige mense met goeie leiers vermoens aan te stel nie dit gaan net oor politieke inmenging, beskerming van sekere persone. Dit gaan al lankal nie meer oor die veiligheid van elke landsburger en wets gehoorsame persone nie

Callie ·

Dit is tyd dat almal besef waarmee die president besig is. Die weermag, polisie, intilligensie, staatskas, noem op, alles waarmee hy mag in die land kan behou is totaal onder sy beheer. As hy nie kwytskelding kry van alles nie gaan Mugabe soos n kleuter lyk teen hom. Hy sal mag net vat en hoe gaan hy gekeer word? Kyk na sy persoonlike lyfwagte. Die man gaan daar bly

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.