Misdaadplan ‘ontbloot polisie se gebreke’

Argieffoto

Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, sê Bheki Cele, die minister van polisie, se misdaadbekampingsplan dui op “ernstige gebreke wat in die polisie bestaan”.

Groenewald sê Cele se erkenning dat misdaadintelligensie vir sowat ses jaar disfunksioneel was, is ʼn ernstige aanklag teenoor vorige kommissarisse- en ministers van polisie.

“Dit het eers ʼn ernstige vlaag transito-rooftogte gekos om te besef dat georganiseerde misdaad net doeltreffend bestry kan word met beter misdaadintelligensie deur die misdadige groepe binne te dring. Die erkenning van korrupsie in die polisie moet daadwerklik aangespreek word, anders is die misdaadplan gedoem tot mislukking,” sê hy.

Groenewald sê sy party verwelkom die besluit om sigbare polisiëring te verhoog. “Die 2010 Wêreldbeker-sokkertoernooi in Suid-Afrika het gewys dat behoorlike sigbare polisiëring ʼn beduidende afname in misdaad tot gevolg gehad het. Die besluit om offisiere beter op te lei is in werklikheid ʼn klad op die naam van die polisie, aangesien dit effektiewelik ʼn erkenning is dat hulle voorheen nie voldoende opgelei was vir hul taak nie.”

Volgens hom sal die beter aanwending van die polisie se taktiese afdeling tesame met beter skietopleiding vir alle lede ʼn groot bydrae lewer om misdaad beter te bestry.

Die spesiale fokus op motorkapings, rooftogte, en veral rooftogte by woonhuise moes volgens Groenewald lankal deel van die misdaadbekampingsplan gevorm het.

Volgens hom is dit teleurstellend dat plaasmoorde weer nie aangespreek is of deel van die misdaadbekampingsplan uitmaak nie. Groenewald sê hy sal dit egter persoonlik met Cele bespreek.

“Dit was opmerklik dat genl. Khehla Sitole [die nasionale kommissaris] kamoefleerdrag aangehad het tydens die mediakonferensie. Dit kan die indruk wek dat die polisie gemilitariseer raak – iets wat nie bevorderlik is vir die beeld van die polisie nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Kobus ·

As far as i know Only members of the SAPS Special Task Force who were selected, trained and are on active duty at the STF, are allowed to wear this camo uniform!!

Dafer ·

Al wat die polisie moet raak is maerder, meer opgelei, en minder skelm, en hey presto, probleem opgelos!

Kobus ·

Daar is net soveel lede. En dan is daar soveel om te polisieer. Die verhouding is maar sleg. Sal wat wil gee as SAPD weer wil militariseer. Hoe is dit dan dan so verkeerd.

christa ·

Nie net die polisie is korrup nie. Kan iemand vir my se wat goed het plaasgevind na 1994. Die polisie, weermag, staatsdiente, hospitale kan ek nie eers van praat nie.

Alida ·

Kom dan met beter voorstelle en meer bekwame name te vore en hou op om Cele te kritiseer. In 2011 was hier baie min of geen misdaad toe hy aan die stuur was nie.

Riaan ·

Maak sekuriteit reaksie maatskapye deel van saps of saps ons is nie so korip soos die meeste saps nie, en ons doen ons werk nog beter as die saps. OF IS JUL BANG DAT ONS AL JUL KORIP SAPS UIT HAAL

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.