Misdaadreekse inspireer jong uitvinder

Miné Steenkamp (16) het danksy haar sukses by die eskpo ook die kans gekry om in ‘n universiteitslaboratorium ervaring op te doen.

ʼn Liefde vir raaisels, chemiese formules, groot nuuskierigheid – en natuurlik misdaadreekse op televisie – is ʼn jong wetenskaplike van Griekwastad in die Noord-Kaap se inspirasie.

Miné Steenkamp (16), ʼn graad 11-leerder aan die Hoërskool Douglas in die Noord-Kaap, land dié naweek in Taiwan waar sy haar baanbrekerswerk by ʼn internasionale wetenskap-ekspo sal ten toon stel.

Miné en Farida Cajee (18), ʼn leerder aan die Hoërskool Schweizer-Reneke in Noordwes, verteenwoordig Suid-Afrika by 2020 se Taiwan International Science Fair.

Die tieners is uit duisende deelnemers aan Eskom se jaarlikse Ekspo vir Jong Wetenskaplikes gekies om Suid-Afrika te verteenwoordig.

“Ek is baie lief daarvoor om [die misdaadreeks] CSI te kyk en dit is ook wat my geïnspireer het om die taak te doen. Ek is al van baie klein af lief vir forensiese stories én wetenskap,” het Miné vandeesweek, kort voor haar vertrek na Taiwan, gesê.

Toe sy dus ʼn chemieprojek by die skool moes aanpak, het sy besluit om luminol haar fokus te maak. Dié stof word op misdaadtonele gebruik om bloedspatsels te help opspoor. Dit reageer met die yster in bloed en vertoon dan blou wanneer bloed teenwoordig is. Luminol reageer egter ook met verskeie ander stowwe en bleikmiddel, kopersulfaat, bruinsuiker, urine en selfs peperwortel kan vals positiewe lewer, vertel Miné entoesiasties.

Die stof reageer egter nie op sommige oppervlakke nie en dit was nog iets wat Miné met haar oplossing wou verbeter.

Aanvanklik het haar navorsing die gebruik van luminol by verskillende temperature behels. Sy het haar projek later uitgebrei en besluit om luminol met artemisinien te meng om ʼn akkurater mengsel te probeer vind.

(Foto: Facebook)

Die eerste ronde het in haar ma se kombuis plaasgevind. Sy het toets na toets gedoen tot sy tevrede was – en haar werk het die beoordelaars geweldig beïndruk.

Sy het haar navorsing in ʼn forensiese stel saamgevat – met omvattende instruksies oor hoe om die mengsel te gebruik – wat nou op bykans enige plek en deur selfs onervare misdaadtoneelondersoekers gebruik kan word.

Terwyl ʼn kamera gewoonlik gebruik word om die spatsels uit te wys, het Miné eerder ʼn slimfoon ingespan om dié werk te doen. Sy sê ʼn slimfoon is iets wat byna almal het, wat dit toegankliker maak.

“Ek werk nou al van April verlede jaar hieraan. Dit was bitter harde werk gewees. As jy navorsing wil doen, moet jy kan hard werk. Jy moet opofferings maak, jy gee jou naweke en vakansies prys,” sê Miné.

“My leuse in die lewe is ‘don’t ever quit, because you can’t beat someone who doesn’t quit’.

“As jy nooit opgee nie, kan jy nie verloor nie.”

Miné sê sy was gelukkig om vroeg al haar belangstellingsveld te vind. “Die Here het my gedra en die wysheid gegee om hierdie te doen.”

Miné Steenkamp (16), ‘n leerder aan die Hoërskool Douglas, aan die werk in ‘n universiteitslaboratorium.

Danksy Eskom kon sy ook ʼn week lank by ʼn universiteit deurgebring waar sy aan haar projek kon werk. “Ek is van nature regtig nuuskierig en dit was heerlik om in die laboratorium te werk. ʼn Mens droom van hoe dit sou wees, maar jy weet nie hoe dit regtig is nie. Dit was ʼn wonderlike geleentheid.”

Miné het nog nie op ʼn studierigting ná skool besluit nie en sê sy hou in die stadium haar opsies oop. Haar liefde vir wetenskap en groot liefde vir diere, kan egter later ʼn rol speel in haar besluit.

Maar eers lê Taiwan voor en ja, sy het ʼn masker in haar reistas.

“Dit sal my eerste keer op ʼn vliegtuig wees – en dít om oorsee te gaan! In só ʼn kort tydjie het ek soveel geleenthede gekry: ek was op die radio en televisie, ek het in ʼn laboratorium gewerk en nou is ek in ʼn vliegtuig op pad oorsee.”

Die gevreesde koronavirus, wat in China reeds meer as 200 lewens geëis het en groot kommer oor internasionale reis veroorsaak, is wél iewers in haar agterkop.

Sy vertel haar ma het vroeër vir haar ʼn video gestuur van Chinese wie se temperatuur geneem word en ander wat met gesigsmaskers rondloop. Wat haar ma egter die meeste bekommer het, vertel sy, was die jasse wat die mense in die video gedra het. “My ma het vir my gesê die mense is so dik aangetrek, sy is baie bang ek gaan dood van die koue,” skerts Miné.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Gawie ·

Baie geluk Miné!
Kan Maroela egter vir ons ook meer vertel van die ander leerder wat saam met haar Taiwan toe gaan?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.