Suid-Afrikaners wat met misdaadrekords sit weens oortreding van die inperkingsregulasies tydens die Covid-19-pandemie kan dalk binnekort ʼn nuwe blaadjie omslaan.
Die Wysigingswetsontwerp op Geregtelike Aangeleenthede, wat hierdie week in die Nasionale Vergadering aanvaar is, sal die Strafproseswet wysig en maak voorsiening vir die skrap van misdaadrekords wat weens die oortreding van inperkingsregulasies ontvang is.
Afgesien van die EFF en Al Jama-ah, het al 12 ander politieke partye wat in die Nasionale Vergadering verteenwoordig is ten gunste van die wetsontwerp gestem. Die wetsontwerp sal nou na die Nasionale Raad van Provinsies verwys word vir instemming.
Die burgerregte-organisasie AfriForum sê dit is ʼn reuseoorwinning vir Suid-Afrikaners en ʼn noodsaaklike stap in die proses om misdaadrekords wat tydens die Covid-19-ramptoestand opgelê is, te skrap.
“Dit is onaanvaarbaar dat mense misdaadrekords ontvang het vir die oortreding van belaglike inperkingsregulasies. Sommige van hierdie mense kon intussen nie werk kry nie omdat hulle as misdadigers gebrandmerk is en ander kon om dieselfde rede nie na die buiteland reis nie,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se woordvoerder vir gemeenskapsveiligheid.
Die organisasie sê die aanvaarding van die wetsontwerp is ʼn direkte uitvloeisel van die volgehoue druk wat hy uitgeoefen het vir die uitwissing van misdaadrekords weens die oortreding van Covid-19-regulasies. Suid-Afrikaners is destyds ʼn boete opgelê en het ʼn misdaadrekord gekry bloot deur nie ʼn masker in die openbaar te dra nie of op die strand te gaan stap.
Teen 2021 het die polisie meer as 400 000 mense aangekeer wat die inperkingsregulasies oortree het. Bheki Cele, minister van polisie, het dié syfer destyds bevestig.
Ronald Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste, het dit al in Junie 2022 laat blyk dat die Wysigingswetsontwerp op Geregtelike Aangeleenthede in die parlement ingedien sou word met die doel om die misdaadrekords uit te wis van diegene wat Covid-19-inperkingsregulasies oortree het. Dié proses het egter maande lank gesloer.
“AfriForum het in Augustus vanjaar aan die minister geskryf en duidelikheid geëis oor die regering se planne om amnestie te verleen aan mense wat tydens die nasionale ramptoestand skuldig bevind is aan die oortreding van Covid-19-inperkingsregulasies. AfriForum het ook spesifiek gevra of die minister bewus was van enige stappe wat deur die parlementêre portefeuljekomitee oor justisie en korrektiewe dienste gedoen word om ʼn vorm van amnestie aan hierdie mense te verskaf, en of die minister dit oorweeg om enige stappe te doen om wetgewing voor te stel of regulasies in te stel om ʼn vorm van amnestie en skrappingsproses in hierdie verband in te stel,” sê Broodryk.
Ná verskeie navrae deur AfriForum se regspan het die minister bevestig dat die wetsontwerp in die parlement ter tafel gelê is.
AfriForum sal voortgaan om hierdie aangeleentheid te monitor totdat die wetsontwerp finaal deur die Nasionale Raad van Provinsies goedgekeur is.