Misdaadslagoffers glo in hospitale geteiken

(Argieffoto: pixabay)

Die National Health, Education, and Allied Workers’ Union (Nehawu) is diep bekommerd oor ʼn beweerde gebrek aan behoorlike veiligheid by hospitale en klinieke in Noordwes en dreig met massa-betogings as die owerhede nie ingrypend optree nie.

Nehawu sê daar was die afgelope feestyd reeds talle voorvalle van geweld in verskeie hospitale en klinieke in die provinsie, veral in ongevalle-eenhede, wat gelei het tot die besering van werkers én pasiënte.

“Ons lede en werkers word hardhandig behandel en verbaal misbruik deur boewe wat na gesondheidsinstellings kom om diegene wat hulle beseer het, of wat vir mediese behandeling opgeneem is, te vermoor.”

In een voorval het ʼn bende Vrydag werkers by die Bophelong-hospitaal aangerand terwyl hulle op soek was na ʼn man wat vroeër die dag ʼn messtekery oorleef het. Hulle was by die hospitaal om die man finaal dood te maak, het Nehawu gesê.

“Nehawu pleit by die regering om as ʼn saak van dringendheid iets aan die kwessies te doen, omdat ons werkers nou vrees om op te daag vir werk.

“As die probleem nie binnekort uitgestryk word nie, gaan ons geen ander keuse hê as om ons werkers by alle gesondheidsinstellings wat aan die staat behoort aan diens te onttrek en met ʼn massa-staking te begin nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.