Misdaadstatistiek: 47 moorde elke dag; Suid-Afrika meer gewelddadig

Nkosinathi Nhleko, minister van polisie, tydens die bekendmaking van die 2013/2014 jaarlikse misdaadstatistiek in Pretoria op 19 September 2014 Foto: Werner Beukes/SAPA

Nkosinathi Nhleko, minister van polisie, tydens die bekendmaking van die 2013/2014 jaarlikse misdaadstatistiek in Pretoria op 19 September 2014 Foto: Werner Beukes/SAPA

Die burgerregte-organisasie AfriForum het Vrydag ná die bekendmaking van die misdaadstatistiek vir 2013/14 gesê groter klem op gemeenskapspolisiëring en die bemagtiging van gemeenskappe is nodig.

Dié statistiek, wat deur die minister van polisie Nkosinathi Nhleko en nasionale polisiekommissaris genl. Riah Phiyega vrygestel is, dui op ’n toename in moord, geweldsmisdaad en sosiale onrus. Die statistiek toon onder meer dat 47 Suid-Afrikaners na raming elke dag vermoor word.

“Die statistiek dui aan dat basiese misdade nie deur die SAPD gestop word nie,” het Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, gesê. “Die oplossing vir geweldsmisdaad gaan gepaard met doeltreffende misdaadintelligensie en vinnige reaksie nadat ʼn misdaad gepleeg is. Gemeenskappe in Suid-Afrika leef in vrees weens onbevoegde en traag optrede.”

Roof met verswarende omstandighede het toegeneem met sowat 12.7% en huisrooftogte met 7.4%. Moord het met 5% toegeneem. Meer as 17 000 moorde is gepleeg, dit is 809 meer moorde as in die vorige jaar. Die moordsyfer het gestyg van 16 259 in 2012/2013 tot 17 068 in 2013/2014. Volgens die Vryheidsfront Plus is Suid-Afrika se moordsyfer dus amper vyf keer meer as die wêreldgemiddeld.

Cameron meen dat dié drastiese toename in geweld slegs die hoof gebied kan word deur gemeenskappe op ʼn meer doeltreffende wyse te betrek en op te lei om misdaad te bekamp.

“Die toename in geweldsmisdade waaronder roof, roof met verswarende omstandighede en moord is kommerwekkend,” het Lorraine Claasen, kriminoloog by AfriForum, verduidelik. “Roof kan binne sekondes moord word. Die toename in onwettige wapens, wat deur die polisie aangemeld word, dra by tot die probleem.”

AfriForum meen gemeenskappe moet op ’n groter skaal bemagtig word deur doeltreffende buurtwagte en reservis-stelsels wat reg toegepas word.

Intussen het Pieter Groenewald, woordvoerder van polisie vir die Vryheidsfront Plus, gesê die jongste misdaadstatistiek toon dat Suid-Afrika ʼn meer gewelddadige land geword het.

Groenewald het bygevoeg die korrektheid van die statistiek word ook bevraagteken, aangesien polisiestasies nie die korrekte kategorie van misdaad rapporteer nie. “ʼn Rooftog word soms as ʼn diefstal gerapporteer en baie inbrake word glad nie gerapporteer nie,” het hy gesê.

Hy meen misdaadstatistiek moet ook meer gereeld bekend gemaak word en behoort kwartaalliks gegee te word. “Die huidige statistiek is verouderd en strek van 1 April 2013 – 31 Maart 2014.”

Groenewald het ook sy kommer uitgespreek oor die toename in roof by woonhuise, roof met verswarende omstandighede, motorkapings en roof by besighede. “Dit is juis by jou huis, op pad werk toe en by die werk, waar mense veilig wil voel. Die publiek het dus rede om onveilig te voel en is korrek as hulle sê hulle ervaar dat misdaad toeneem.”

Die Vryheidsfront Plus verwelkom wel die afname in ander misdade en veral seksuele misdade teen vroue en kinders, hoewel daar ʼn vraagteken is oor hoeveel sulke misdrywe wel aangemeld word.

Lees ook:
Misdaadstatistiek: Minder brande gestig
Misdaadstatistiek: Nagenoeg 2 000 gewelddadige betogings
Misdaadstatistiek: 800 meer moorde as verlede jaar
Misdaadstatistiek: Moorde het toegeneem

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Francois ·

…maar NEE ons het geen problem in die land nie! Werkloosheid dra natuurlik glad nie by tot die statistiek nie. Nie eens te praat van die SAPD, Metro Polisie of howe wat nie ordentlike vonisse kan uitspreek nie. Ooooh en amper vergeet ek van die 16 wat so pas ontsnap het uit aanhouding en die wat hulle moes oppas weet van niks!

Bienkie ·

Gewelddadig, meer gewelddadig, mees gewelddadigste land. Kommerwekkend en dit neem steeds toe op ‘n daaglikse basis.

Piet Publiek ·

47 Moorde elke dag. 84 mense sterf in Lagos omdat ‘n gebou instort. Die dag daarna innige deelneming en simpatie van Zuma, mense word hiervandaan soontoe gestuur om te help (uiteraard op koste van die Regering, m.a.w. belastinggeld), maar daar word nie met ‘n woord gerep oor al die wreedaardige en gruwelike plaas- en ander moorde nie. Al die plaasveiligheidvoorsorge is saamgetrek by Nkandla. Het JZ eintlik enig idee wat hier in sy eie land aangaan ? Is hy daaroor bekommer ?

Sarie ·

Die bloedbad wat volgens die media en in 94 voorkom is het toe al die tyd net begin en dit gaan al vir 24 jaar so aan. Wanneer gaan iemand op die wereldverhoog se oe oopgaan en sien wat werklik hier aangaan. Dis nou die werklike misdaad teen die mensdom waarvan Apartheid beskuldig word.

Paul ·

Sarie,
Die bloedbad is voorwaar baie sterk aan die gang en die slagoffers is die blankes. Die JA-stem was eintlik maar net die die goedkeuring vir die ANC om ons te vermoor en te verneder.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.