Misdaadstatistiek: Dié stasies kry meeste klagtes

Bheki Cele, minister van polisie, het Vrydag die afgelope jaar se misdaadstatistiek bekendgestel (Foto: Verskaf)

Die stasies wat die meeste klagtes met betrekking tot kontakmisdade tydens die vorige boekjaar aangeteken het, is oorwegend in Gauteng en die Wes-Kaap geleë.

Só het Bheki Cele, minister van polisie, Vrydag gesê toe hy die jaarlikse misdaadstatistiek in die parlement bekendgemaak het.

Volgens dié statistieke is 16 van die 30 polisiestasies (53%) met die meeste klagtes in Gauteng geleë, gevolg deur agt stasies in die Wes-Kaap (26%), vyf in KwaZulu-Natal (16%) en een in Mpumalanga (3%).

Die vyf polisiestasies waar die meeste misdade vir die afgelope boekjaar aangemeld is, is almal in Gauteng en die Wes-Kaap:

  • Volgens die statistiek is die meeste kontakmisdade by die Johannesburg sentrale polisiestasie aangemeld. Die stasie het die vorige boekjaar 4 828 klagtes aangeteken. Dit is egter 10,8% minder as die jaar daarvoor.
  • In Mitchells Plain in die Wes-Kaap is 4 231 kontakmisdade aangeteken, ʼn daling van 1,7% van die vorige jaar. Die stasie is ook onder die top-3-stasies landswyd waar die meeste klagtes van poging tot moord gelê is. Altesaam 202 gevalle van poging tot moord is hier aangeteken, wat ʼn 5,2%-daling van die vorige jaar se 213 gevalle is.
  • Altesaam 4 218 misdade is in Hillbrow in Gauteng aangemeld, ʼn daling van 5,1% van die vorige boekjaar.
  • In Delft in die Wes-Kaap is 3 603 misdade aangeteken, ʼn styging van 3,2% van die vorige jaar. Die meeste moorde (265) is ook by dié stasie aangemeld.
  • ʼn Totaal van 3 577 kontakmisdade is in Thembisa in Gauteng aangemeld, wat ʼn styging van 30,4% van die vorige jaar is. Thembisa het die grootste styging in klagtes van kontakmisdaad vir die jaar getoon.
  • Nyanga in die Wes-Kaap het die eerste keer in baie jare ʼn groot daling in klagtes en veral moorde aangeteken. Klagtes wat verband hou met kontakmisdade het van 4 260 sake in die 2018-’19-boekjaar tot 3 522 sake in die 2019-’20-boekjaar gedaal. Dit is ʼn daling van 17,3%. Moorde het in die ooreenstemmende tyd met 36% gedaal.
  • Ivory Park in Gauteng het ook ʼn daling van 14,9% getoon, en het van 3 214 in 2018-’19 tot 2 736 misdade in die vorige boekjaar gedaal.

Ander stasies wat ʼn aansienlike toename in klagtes oor kontakmisdade ervaar het, is Phoenix in KwaZulu-Natal (15,9%), Rietgat in Gauteng (12,7%), Mamelodi-Oos in Gauteng (10%) en Eldorado Park in Gauteng (8,6%). Hierteenoor het Ivory Park en Pretoria-Sentraal, albei in Gauteng, aansienlike afnames van onderskeidelik 14,9% en 9,7% in dié tipe klagtes aangeteken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Daleen ·

Soos alles in die land is die statistieke ook gekook. Misdaad is soos Covid getalle net besig om te styg en altwee statistieke word “aangepas” om die ANC te pas.

Morné ·

En nou dat ons weet waar die brandpunte is, gaan jy wat die polisie is iets doen oor dit? Whahahahahha hoe dom van my om so vraag te vra as ek klaar die antwoord het. Niks absoluut niks!

Corne123 ·

Ek wonder nou wat van Bheki. In n openbare plek sonder masker oor sy gesig. Het hy nie gese jy sal aresteer word as jy nie masker dra nie?

Persheks Adri ·

Sy masker is mos onder sy gesig so dis seker ok vir hulle, maar laat ons dit waag! Aikona reëls is reëls vir almal van ons!

Mieliestronk ·

Toe my pa geleef het, het hy so sê ding gehad wat ek nie hier kan herhaal nie. Dit bring nogsteeds perspektief in hierdie gemors.

Okmardom ·

Bekkie! Vergeet al hierdie polisiëring goeters en gaan kyk! Jou pay is in!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.