Misdaadstatistiek: Moorde het toegeneem

Riah Phiyega

Riah Phiyega

Riah Phiyega, nasionale polisiehoof, het Vrydag tydens die bekendmaking van die nuutste misdaadstatistiek gesê daar was ʼn toename in moorde die afgelope jaar.

“Ons is baie bekommerd daaroor,” het Phiyega oor die misdaadstatistiek vir die 2103/2014-boekjaar gesê.

Moorde het met 5% toegeneem terwyl poging tot moord met 4,6% toegeneem het. Roof met verswarende omstandighede het met 12,7% toegeneem terwyl aanranding met die doel om ernstig te beseer met 1,5% toegeneem het.

Volgens die polisie het gevalle van aanranding met 3,3% afgeneem terwyl seksuele misdade met 5,6% afgeneem het. Verkragting het glo met 6,3% afgeneem.

Nkosinathi Nhleko, minister van polisie, het gesê daar is hoër vlakke van geweld in die samelewing. “Indien jy kyk na die neiging van die afgelope vyf of 10 jaar tesame met die jaar onder oorsig, dan is kontakmisdade ʼn permanente kenmerk.”

Veediefstal, seksuele misdrywe, winkeldiefstal, motordiefstal en brandstigting is volgens die polisie van die misdade waar daar die afgelope jaar ʼn afname gesien is.

Nhleko het egter gesê seksuele misdade teen vroue en kinders bly ʼn bekommernis. “Die afname beteken nie daar vind nie voorvalle plaas nie.”
Nhleko het ook gesê hy neem kennis dat daar kommer is oor die akkuraatheid van die misdaadstatistiek wat deur die polisie vrygestel word. Hy het gesê sy departement werk saam met Statistiek Suid-Afrika om dit te verbeter.


ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.