Misdaadstatistieke: ‘Cele se kop moet rol’

Bheki Cele, minister van polisie (Foto: GCIS)

Die jongste misdaadstatistieke is net verdere bewys van onvermoë en dit is hoekom die minister van polisie, Bheki Cele, afgedank moet word. Só sê Okkie Terblanche, die DA se adjunk-skaduminister van polisie.

Skokkende statistieke deur die SAPD vir die derde kwartaal van die 2021/2022- finansiële jaar wys ʼn toename van 8,9% in moord en 3,5% in poging tot moord, in vergelyking met die vorige jaar. Daar was ʼn 11,3% toename in moord sedert die tweede kwartaal van 2021/22 tot nou, sê Terblanche.

“Dit beteken dat byna 75 mense elke dag in die derde kwartaal vermoor is.”

Poging tot moord het ook van die tweede na derde kwartaal met 9,46% toegeneem.

“Dit is glad nie ʼn goeie teken vir Suid-Afrikaners wat al hoe meer kwesbaar word nie. Terwyl minister Cele en die nasionale polisiekommissaris Khehla Sitole bots, word vroue en kinders geteister. Die moordkoers teen vroue het 4,2% toegeneem jaar-op-jaar en poging tot moord het met 7,2% gestyg. Die moordkoers teen kinders het met 22,6% gestyg kwartaal-op-kwartaal. Poging tot moord teen kinders het met 30% gestyg jaar-op-jaar en 39,2% kwartaal-op-kwartaal.”

Tussen Oktober en Desember 2021 is 11 315 verkragtings aangemeld; 902 vroue is vermoor; daar was ʼn poging tot moord op 1 204 vroue; en 15 692 vroue is aangerand. In dieselfde periode was daar 352 kindermoorde; 394 pogings tot moord op kinders; en 2 048 kinders is aangerand.

“Die irrasionele oplossing van die minister? Minder stewels op die grond. Die jongste beskikbaar polisie-tot-bevolkingskoers uit die 2021/21-jaarverslag wys dat daar slegs een polisiebeampte vir elke 413 burgers is. Dié koers het jaar-op-jaar afgeneem van 1:358 in 2014/15, 1:375 in 2017/18 en dit wil voorkom of daar geen politieke wilskrag is om dié kommerwekkende neiging te verander nie. Trouens, die polisiebegroting sal na verwagting oor die volgende drie jaar met R11 miljard verklein word. Terwyl die SAPD en Suid-Afrikaners sukkel, floreer misdadigers.”

Terblanche sê die misdaadstatistieke benadruk die dringendheid van die mosie van wantroue wat die DA-leier John Steenhuisen teen die kabinet vroeër vandeesweek ingedien het. “Minister Cele en sy kollegas in die uitvoerende raad is onbekwaam en nie in staat om ʼn doeltreffende regering te lei nie.”

Effense stabilisering, maar groot taak wag om hoë vlakke om te keer

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, sê die polisie se jongste statistiek dui op ’n effense stabilisering in verskeie kategorieë misdaad, maar ’n groot taak wag om die land se uiters hoë misdaadvlakke om te keer.

“Die moordsyfer verteenwoordig sowat 37 per 100 000 van die bevolking teenoor ’n wêreldgemiddelde van 7 per 100 000. Dit is aanduidend van die land se hoë misdaadvlakke.”

Die aantal gevalle van vigilantisme en boendoehof-geregtigheid in die moordsyfer, wys dat die publiek hul vertroue in die polisie verloor het en toenemend die reg in eie hande neem, sê Groenewald.

Wat die gevreesde trio-misdaadgroepe aanbetref, het roof (10 524 gevalle) en roof met verswarende omstandighede (34 143) met onderskeidelik 11% en 1,3% afgeneem, terwyl roof by woonhuise (5 760) met 0,4% afgeneem het. Die derde trio-misdaad, motorkaping, het egter met 13,8% toegeneem tot 5 455. Dit is 661 meer as die 4 794 van die ooreenstemmende tyd verlede jaar.

Net so het vragmotorkaping met 2,8% toegeneem tot 448 gevalle en daar was 6 gevalle van bankroof teenoor slegs 1 in dieselfde tydperk in die voorafgaande drie jaar.

Wat geslagsgeweld aanbetref, het moord en poging tot moord op vroue toegeneem, maar dit is verblydend dat verkragting (11 315) en seksuele aanranding (2 069) afgeneem het met 7,4% en 13,4% onderskeidelik.

“Dit bly egter steeds onaanvaarbaar hoog en die VF Plus is van mening dat dit insiggewend sou wees om te sien in hoeveel gevalle van verkragting, moord en poging tot moord op vroue, die slagoffer wel voor die misdaad ’n klag of klagtes by die polisie ingedien het oor onder meer gesinsgeweld.”

Die VF Plus het vandag in die parlementêre portefeuljekomitee vir polisie aan die minister van polisie, Bheki Cele, asook aan die nasionale kommissaris, genl. Khehla Sitole, voorgestel dat hierdie statistiek bygehou word.

“Minister Cele het onderneem om daaroor in gesprek te tree en die VF Plus sal dit met hom opneem aangesien dit in die toekoms ’n sterk voorkomende rol kan speel wat geweld teen vroue aanbetref.”

Misdaadsyfers steeds te hoog, dringende plan nodig

TLU SA is dankbaar vir die SAPD se deursigtigheid om die land se misdaadsyfers bekend te maak, maar volgens Henry Geldenhuys, president van die TLU SA, is dringende optrede nou nodig.

Die misdaadsyfers – vir die kwartaal Oktober-Desember 2021 – soos bekend gemaak deur die Minister van Polisie, Generaal Bheki Cele wys 11 plaasmoorde.

“Dit is positief dat die syfers ’n afname in moord wys, ofskoon een moord gepleeg een moord te veel is. TLU SA se syfers wys daar was 12 plaasmoorde teenoor die 11 van die polisie se syfers. Ons werk streng volgens saaknommers. Die fokus moet egter nou wees om dié syfer af te druk met ’n daadwerklike poging. Die polisie se Landelike Veiligheidstrategie is ’n goeie plan, maar dit wil voorkom of dit nêrens geïmplementeer is nie en om die rede wil ons en sal ons in samewerking met polisie en ander organisasies moet toesien dat die plan tot op grondvlak geïmplementeer en toegepas word,” het Geldenhuys gesê.

“Ek weet tegnologie is duur, maar ons moet van dit gebruik maak om veiligheid op plase te verbeter. Ons boere moet ook opleiding kry in wat gedoen moet word as daar ’n plaasaanval is. Dit plaas meer druk op landbou en boere, maar dit is wat nou nodig is.”

Die syfers rakende veediefstal lyk op die oog af goed, maar Geldenhuys wys dat boere nie meer aldag die misdaad aanmeld nie. “Daar is afname van 450 sake landwyd wat baie goed lyk, maar ons weet op grondvlak is baie boere moedeloos omdat soveel van die sake wat wel aangemeld word nie afgehandel of suksesvol vervolg word nie en daarom doen sommiges nie meer die moeite om die saak aan te meld nie.”

TLU SA se hoofbestuurder, Bennie van Zyl, het daarop gewys dat die regering groter verantwoordelikheid moet vat en gou ook.

“Ons is dankbaar dat van die syfers afnames wys en dat die polisie deursigtig met ons as inwoners van Suid-Afrika is oor die stand van sake. Nou is die vraag egter wat doen ons met al die inligting oor misdaad. Kwartaal na kwartaal ervaar ons dat die land se misdaad-kultuur met ons weghardloop. Die regering het twee groot verantwoordelikhede en dit is om inwoners se veiligheid te verseker en die klimaat vir ekonomiese groei te skep. Of die ANC-regering die politieke wil het om die huidige stand van sake rakende misdaad te veroordeel, is onduidelik. As gevolg van die ongelooflike hoë werkloosheid – weens die ANC se beleidsomgewing – is daar armoede en mense sonder kos. Dit dra by tot misdaad. Dit is onaanvaarbaar. Die langtermyn-oplossing is ’n beleidsomgewing wat vertroue en stabiliteit skep. Dit is wat die misdaad-kultuur gaan omswaai.”

Van Zyl voeg by: “Daar moet suiwering in die polisiediens plaasvind. Hulle moet beter opleiding kry en bemagtig word sodat ons as publiek hulle weer kan vertrou. Ons het ’n polisiediens nodig wat weer die vriend van die wetsgehoorsame burgers van die land is.”

Sitole, Cele bloot toeskouers van geweld in SA

Ian Cameron, woordvoerder van Action Society, sê die jongste misdaadstatistieke behoort genoeg rede te wees vir die president om die nasionale polisiekommissaris Khehla Sitole en die minister van polisie Bheki Cele in die pad te steek.

“In vergelyking met die tweede kwartaal (Julie 2021 – September 2021) is daar niks waarop die SAPD trots kan wees nie.

“Sitole en Cele moet albei afgedank word. Suid-Afrikaners verdien ʼn SAPD wat bo verdenking is en wat dien en beskerm. Sitole en Cele is albei al in korrupsieskandale geïmpliseer en hoe moes nooit toegelaat geword het om ʼn posisie in die staat te beklee nie. Die feit dat byna 10 vroue elke dag in Suid-Afrika vermoor word, moet ʼn aanduiding wees dat die SAPD se leierskap onsuksesvol is.”

Action Society beveel aan dat ʼn eksterne paneel van polisiëringskenners aangestel moet word om die hele bestuur van die polisie te herstruktureer – volgens meriete en nie politieke verbintenisse nie.

“Die komitee moet saamgestel word uit individue wat verstaan wat dit beteken om deur die range te werk en ook voldoende teoretiese kennis hê om te bepaal wie die volgende nasionale polisiekommissaris, adjunk-kommissaris, streekskommissarisse, hul adjunkte en ander top- provinsiale poste moet beklee.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Hein ·

Dan glo ek sterk dat hulle ‘n paar onder die mat ook in gevee het on dit af te bring

domheks ·

anc nie bekommerd oor moord en roof nie, is net op uitkyk vir geld wat geplunder kan word.

Willempie ·

Niemand gaan afgedank of vervolg word nie. Elkeen van die ANC regering lede het een of meer geraamtes is die kas. Almal is bang vir mekaar

Johann ·

Als deel van die ANC se anargie. Geen maar geen gewete terwyl hy trots stats uitlees.

annie ·

Miskien moet iemand vir Ce!e inlig dat volgens etiketreëls mans hul hoede afhaal in sale en kerke en wanneer hulle mense toespreek, tensy hy glo dit is sy kroon.

Theo ·

Annie om jou hoed af te haal is om eer te betoon aan die wat gesterf het, dink jy die een wat eintlik verantwoordelik is vir die dood van die mense sy Hoed sal afhaal ter eerbetoning? Ek glo nie wys jou net hoe min hy voel oor die dood van mense

AW ·

Die Waarheid , Die Heilige Waarheid, Die Enigste Waarheid, is Dat Die Hele Top Bestuur , Provinsies in gesluit, Ontslaan MOET word !!!!

Papsak ·

Goeie begin laat sy kop rol dank hom ag hy te sleg om sy werk te doen kry iemand wat wakker en oplettend is vir die werk

Theo ·

“Sy kop moet rol” is n paar woorde wat ek verlede jaar gehoor het, voor verlede jaar gehoor het en en en… om dit te sê is om te sê die aarde het n maan… ons almal weet dit maar die vraag is wat doen die DA en ander om dit te laat gebeur…? Talk is cheap, it is actions that count… en ons sien maar eintlik min aksie em so sal dit hom herhaal jaar in en jaar uit. Politiek is die probleem.

Andries ·

“. Terwyl die SAPD en Suid-Afrikaners sukkel, floreer misdadigers.” Die hele kabinet is vol misdadigers , so hul boeties moet hul broers beskerm.

Roelof ·

Selfs al sou ons nuwe ministers kry wat 100% is sal dit ‘n amper onmoontlike taak wees wat hy/hulle moet aanpak. Die hele polisie is korrup . In die polisie en in ons bevolking het misdaad nou al so allerdaagse deel geword dat dit jare gaan vat om ‘n ander kultuur te skep.

Wielspore ·

Die misdaad syfers wat bekend gemaak is het selfs internasionale nuus gehaal. Wat ons polisie mag aan betref, van die minister tot die skoonmaker, die meerderheid van julle doen nie julle werk en behoort julle koppe in skaamte te laat sak. Daardie salaris wat julle die einde van die maand trek kan eerder vir iemand anders gegee word wat ‘n verskil sal maak. Die swak prestasie is ‘n reflektering van swak leierskap, jaag hulle weg.

Lillian ·

Ek berou die dag by Selebi se begrafnis toe ek vir Cele gesê het hy moet terugkom SAPS toe, want nou is hy ‘n marionette aan ‘n toutjie wat getrek word deur die regering se kaders. Hy moet maar liewer aftree.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.