Misdaadstatistieke: Cele se ‘propaganda’ veroordeel

Bheki Cele (Foto: GCIS)

Die Demokratiese Alliansie veroordeel polisieminister Bheki Cele se ‘skaamtelose’ gebruik van die misdaadstatistieke om politieke punte te werf.

Andrew Whitfield, die DA se skaduminister van polisie, het gesê Cele het vandag die kwartaallikse misdaadstatistieke bekendgemaak vir die afsonderingsperiode voor dit eers aan die parlement voorgehou is, en rekenskap gegee is aan die portefeuljekomitee oor polisie.

“Die jaarlikse misdaadstatistieke vir 2019/20 is in Julie aangekondig, in plaas van in September, wanneer dit gewoonlik vrygestel word. Die portefeuljekomitee oor polisie het jare lank al tevergeefs die polisieminister versoek om kwartaallikse misdaadstatistieke vry te stel. Nou het die minister skielik, vir die eerste keer, besluit om kwartaallikse statistieke vry te stel terwyl dit gerieflik binne die afsonderingsperiode gebeur en dit volg net twee weke ná die voortydige aankondiging van verlede jaar se misdaadstatistieke,” het Whitfield bygevoeg.

“Die tydsberekening om die jaarlikse misdaadstatistieke vry te stel en die minister se jongste toewyding om kwartaallikse misdaadstatistieke vry te stel, ontbloot die minister as ʼn skaamtelose politieke propagandis wat eerder speletjies wil speel met statistieke as om misdaad te bekamp.”

Whitfield het gesê toe die jaarlikse misdaadstatistieke twee weke gelede vrygestel is, was die portefeuljekomitee eensydig om die minister se oorhaastige benadering te veroordeel, omdat hy reeds ʼn perskonferensie gereël het, onmiddellik ná die komiteevergadering. Hy het die komitee dus slegs twee ure gegun om die statistieke te bestudeer.

“Die minister het weereens sy absolute minagting vir die parlement gewys, deurdat hy hierdie keer die komitee heeltemal gesystap het ten gunste van mediablootstelling om die illusie te skep dat hy besig is om die stryd teen misdaad te wen.”

Die inperking-misdaadstatistieke kom uit ʼn periode toe alle Suid-Afrikaners onder “huisarres” was deur ʼn toenemend outoritêre regering en is nie ʼn ware weerspieëling van die misdaadsituasie in Suid-Afrika nie. “Ons het in hierdie tyd ook ʼn ongekende getal polisiebeamptes en weermagpersoneel op ons strate gesien wat, in talle gevalle, uiteindelik wetsgehoorsame burgers gekriminaliseer het deur drakoniese regulasies wat deur ʼn magshonger ANC uitgedink is.”

Whitfield het bygevoeg dit wil voorkom of die minister glo hy kan misdaad bekamp deur aandklokreëls in te stel, alkohol te verbied, sigarette te konfiskeer en die burgerlike vryhede van wetsgehoorsame Suid-Afrikaanse burgers te ondermyn.

“Vandag se politieke truuk is ontwerp om die minister se oorgretige aptyt vir beheer oor ons vryhede as ʼn misdaadbekampingstrategie te regverdig. Dit moet ʼn groot waarskuwing vir ons almal wees. Dit is nou in die hande van die voorsitter van die portefeuljekomitee oor polisie, Tina Joemat-Peterson, om te wys dat die komitee nie net ʼn rubberstempel vir die uitvoerende raad is nie en rekenskap eis van dié dwarstrekker-minister.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

11 Kommentare

jongste oudste gewildste
Sarel

Glo die man homself?

Pieter J

Hy kan verbied net wat hy wil. Ons koop net wat ons wil.

Anel

Ek wonder van watter planeet kom hy?

Harry

Afwesig met die beskerming van die gewone mens op straat. Waar was hy toe al die vroue,kinders en boere mishandel en vermoor is. Nee wat hierdie man is n verleentheid vir vrede in ons land.

Willem

Hy is absoluut arrogant…en het GEEN idee van die SAP se werkswyse nie…dit geld ook meesal vir die meerderheid ministers in hul portefeuljes. Mbalula is een van die grootste narre.