Misdaadstatistieke: Moord, roof, verkragting neem steeds toe

Bheki Cele, minister van polisie, het Vrydag die afgelope jaar se misdaadstatistiek bekendgestel (Foto: Verskaf)

Die aantal moorde wat jaarliks in Suid-Afrika gepleeg word, het oor die afgelope dekade stelselmatig toegeneem. Die aantal roofklagte wat ingedien is, het in dieselfde tydperk amper verdubbel, terwyl seksuele misdrywe ook die afgelope drie jaar weer begin toeneem het. Dít nadat ʼn stelselmatige afname in die aantal klagte van dié aard sedert 2011 waargeneem is.

Só wys die jongste misdaadstatistieke wat Vrydag deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens bekendgemaak is.

Gauteng is steeds ʼn brandpunt vir kontakmisdaad, terwyl KwaZulu-Natal se moordsyfer tans die hoogste is van al die ander provinsies.

Moord, poging tot moord en aanranding

Argieffoto ter illustrasie

Volgens die jongste misdaadstatistieke is altesaam 21 325 mense gedurende die tydperk 1 April 2019 tot 31 Maart 2020 in Suid-Afrika vermoor.

Dít vergeleke met 15 893 moorde gedurende die 2010-’11-boekjaar – ʼn styging van 34%. Die aantal moorde neem die afgelope tien jaar reeds stelselmatig toe. KwaZulu-Natal het die hoogste moordsyfer van al die provinsies tydens die vorige boekjaar aangeteken. Altesaam 4 859 moorde is gedurende die tydperk 1 April 2019 tot 31 Maart 2020 hier aangemeld – ʼn toename van 10,6% vergeleke met die vorige jaar (4 395). Gauteng volg kort op KwaZulu-Natal se hakke met 4 555 moorde in 2019-’20.

Die Wes-Kaap het gedurende dieselfde tydperk 3 975 moorde aangemeld. Dit is in dié stadium een meer moord as die vorige jaar. Die Noord-Kaap het die minste moorde (326) aangeteken, maar dit is steeds vier meer moorde as in die vorige jaar.

Die aantal voorvalle van poging tot moord landwyd is ook hoër (18 635) as tien jaar gelede toe dié getal op 15 360 gestaan het. Dit verteenwoordig ʼn styging van 21%.

Aansienlik minder voorvalle van aanranding met die doel om ernstig te beseer word wel nou aangemeld. Altesaam 197 470 voorvalle van dié aard is gedurende die 2010-’11-boekjaar aangemeld. Dít vergeleke met 166 720 gedurende die tydperk onder bespreking – ʼn afname van 15%.

Roof

(Argieffoto: Nico Strydom)

Dit blyk dat roof met verswarende omstandighede ook in die afgelope jaar amper verdubbel het. Altesaam 143 990 voorvalle van dié aard is gedurende die vorige boekjaar aangemeld, teenoor die 101 039 sake wat in die 2010-’11-boekjaar aangemeld is. Dit verteenwoordig ʼn toename van 42%.

Die statistieke toon verder dat motorkapings ook jaarliks toeneem. Altesaam 18 162 motors is gedurende die vorige boekjaar gekaap, vergeleke met 10 541 tien jaar gelede.

Geen bankrooftogte is wel tydens die vorige boekjaar aangemeld nie. Dít terwyl daar 39 voorvalle van dié aard destyds in die 2010-’11-boekjaar aangemeld is. Dít was die meeste nóg die afgelope dekade.

Seksuele misdrywe

Die aantal klagte van ʼn seksuele aard het verlede jaar met 1,7% toegeneem, in vergelyking met die 2018-’19-boekjaar.

Altesaam 53 293 seksuele misdrywe is verlede jaar aangemeld. Dit verteenwoordig ʼn aansienlike daling (17%) van die 64 921 seksuele misdrywe wat gedurende die 2010-’11-boekjaar aangemeld is. Dié syfers het egter sedert 2017 weer stelselmatig begin styg.

Meer verkragtings is ook tien jaar gelede (48 158) in vergelyking met verlede jaar (42 289) aangemeld. Dit kom egter voor of die aantal verkragtings ook sedert die 2016-’17-boekjaar begin toeneem.

Provinsies

(Argieffoto)

Gauteng blyk steeds die brandpunt van kontakmisdaad in Suid-Afrika te wees, met 177 737 voorvalle van dié aard wat gedurende die vorige boekjaar in dié provinsie aangemeld is. Dít dui op ʼn toename van 2 843 gevalle (1,6%) vergeleke met die vorige boekjaar.

Kontakmisdaad verwys na misdade waarin die slagoffers die teikens van geweld is, of wanneer eiendom geteiken en die slagoffers in die omgewing van die eiendom aan dreigemente of die gebruik van geweld onderwerp word.

Die Wes-Kaap het ook ʼn hoë aantal kontakmisdade (113 508) gedurende die 2019-’20-boekjaar aangemeld, hoewel voorvalle van dié aard sedert die 2018-’19-boekjaar met 0,4% afgeneem het.

KwaZulu-Natal (101 154) het egter die grootste toename in kontakmisdaad van al die ander provinsies oor die afgelope jaar aangemeld. Altesaam 3 649 (3,7%) meer kontakmisdade is hiér sedert die vorige boekjaar aangemeld.

Noordwes het om die beurt 1 201 minder kontakmisdade oor die afgelope jaar aangemeld. Hoewel dié provinsie steeds 36 286 kontakmisdade tydens die vorige boekjaar aangemeld het, dui dit op ʼn afname van 3,2% vergeleke met die 2018-’19-boekjaar. Noordwes se moordsyfer het ook met 10,1% gedaal, van 961 na 864 moordklagte in een jaar.

Moorde op SAPD-lede

Argieffoto

Die aantal polisiemoorde blyk ook af te neem.

Volgens die statistieke is 73 polisiebeamptes gedurende die 2019-’20-boekjaar vermoor. Dit is vier minder polisiebeamptes (5,2%) vergeleke met die 2018-’19-boekjaar.

Altesaam 18 van die 73 polisiemoorde was in KwaZulu-Natal, terwyl 16 beamptes in Gauteng aan die hand van misdadigers omgekom het.

Meer as die helfte (38) van die polisiebeamptes wat gedurende dié boekjaar vermoor is, was egter nie aan diens ten tyde van hul dood nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Porseleintjie ·

Bheki Cele moet afgedank word. Statistieke wys duidelik hy dra maar net sy titel.

Okmardom ·

Hy dra net twee goed. ‘n titel en ‘n drakoniese hoed

Jr ·

Eeeh but we are so proud of our success eeh in arresting eeeh over 250000 ” criminals ” who are smoking , drinking eeeh and not obeying “our eeeh rules “. And eeeh don’t forget eeeh our success in placing 19000 ” model ” prisoners back in society eeeh yes

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.