Misdaadstatistieke: Moord weer aan’t toeneem

Minister Bheki Cele maak Vrydag die misdaadstatistieke bekend. (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Altesaam 19 mense is tussen begin Oktober en einde Desember verlede jaar vermoor in 18 voorvalle op plase en kleinhoewes in Suid-Afrika. Die meeste moorde was dié van slagoffers, hoewel dit ook aanvallers insluit.

Bheke Cele, minister van polisie, het Vrydag die kwartaallikse misdaadstatistieke bekend gemaak.

Luidens die statistieke het moord, seksuele misdrywe en misdade wat “mense die meeste vrees”, soos motorkapings, gedurende die afgelope drie maande van 2020 toegeneem. Dit is in vergelyking met dieselfde tydperk in 2019.

Dit volg nadat moord en seksuele misdade vir ʼn kort rukkie verlede jaar afgeneem het. Maroela Media het in November berig dat die aantal moorde en seksuele misdade wat tussen Julie en September verlede jaar gepleeg is, minder was as dieselfde tydperk in 2019. Dit kan egter grootliks toegeskryf word aan die regulasies wat gegeld het tydens die tydperk van algehele afsondering.

Cele is wel in sy skik met veediefstal en ander eiendomsverwante misdade wat einde verlede jaar ʼn afname getoon het.

Volgens Cele het moord in Suid-Afrika met 6,6% toegeneem. Dit beteken 389 meer mense is in die laaste maande van 2020 vermoor, vergeleke met dieselfde tyd in 2019.

Mpumalanga het die skerpste toename (13,7%) in moord van al die provinsies beleef, terwyl Limpopo, Noordwes en die Noord-Kaap ʼn afname in moordklagte aangemeld het.

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Altesaam 2 481 mense is tussen Oktober en Desember in die openbaar soos op straat, in ʼn oop stuk veld, parkeerterreine en verlate geboue vermoor, terwyl 1 643 moorde by die huis van die slagoffer of die oortreder gepleeg is.

Plekke waar drank verkoop word, is in dié stadium die derde waarskynlikste plek in Suid-Afrika om vermoor te word.

Seksuele misdrywe het ook in die laaste kwartaal van 2020 met 5% toegeneem.

Altesaam 12 218 mense is tussen Oktober en Desember verkrag – ʼn toename van 181 gevalle (1,5%) vergeleke met 2019.

Meer as 4 900 van die verkragtings het by die huis van die slagoffer of die huis van die verkragter plaasgevind. Altesaam 570 van die voorvalle hou verband met huishoudelike geweld.

Motorkapings het met 7% toegeneem, terwyl 77 huisrooftogte gedurende Oktober en Desember aangemeld is. Volgens Cele word hierdie misdade die meeste deur Suid-Afrikaners gevrees.

Sakerooftogte het egter afgeneem met 374 minder ondernemings wat gedurende die drie maande beroof is.

“Dieselfde kan ongelukkig nie vir die land se vragmotorbedryf gesê word nie. ʼn Toename in die teiken van afleweringswaens en vragmotors is aangeteken. Die meeste afleweringsvoertuie word geteiken vir hul vrag wat gewoonlik kos, toestelle en ander goedere insluit,” het Cele gesê.

Argieffoto bloot ter illustrasie van transitorooftogte. (Foto: SAPD)

Die minister is veral bekommerd oor die getal transitorooftogte wat in dié tyd gepleeg is. Altesaam 26 meer transitorooftogte is in die afgelope drie maande van 2020 aangemeld.

Cele het gesê dit is duidelik dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) sy benadering tot transitorooftogte moet verander. “Die huidige plan wat nou ingestel is, werk duidelik nie.”

Die minister het wel gesê daar is goeie nuus vir diegene wat eiendom en vee besit. Alle eiendomsverwante misdade het met 15,8% afgeneem.

Veediefstal het ʼn afname van 6,9% getoon.

Inbrake het volgens Cele ook drasties afgeneem, terwyl die diefstal van voertuie en motorfietse met meer as 20% afgeneem het.

Dit lyk ook of die regering se stryd teen geslagsgebaseerde geweld vrug afwerp. Altesaam 129 lewenslange vonnisse vir geslagsgebaseerde geweld is in die laaste kwartaal van verlede jaar opgelê, het Cele gesê.

“Laat ek die land daaraan herinner dat geslagsgebaseerde geweld en die moord op vroue ʼn prioriteitsmisdaad vir die SAPD bly.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Werner ·

2400 mense tussen Oktober en Desember vermoor.Dan is daar nog mense wat dink ou FW het ons van n oorlog gered.En almal is so bang vir corona

Androclus ·

Moord weer aan’t toeneem,TERWYL JY BY ZUMA TEE DRINK.SLEG

Andre ·

Dis darem snaaks hoe goed jou syfers lyk as jy die wet op onskuldige wets gehoorsame burgers toepas maar op n klomp waansinige kriminele weet jy en jou gespuis nie om die wet toe te pas nie!!lagwekkend

Pietertjie ·

Heng! Die misdaad-syfers is besig om die Covid-syfers verby te steek!

Oom Kobus ·

Dit is onlogies dat SA Misdaad statistiek die dood van aanvallers wat deur slagoffers (met gelisensieerde wapens) uit selfverweer gedood is, saam met die aantal slagoffers (waarskynlik met ongelisensieerde wapens) wat gedood word, as moorde bereken word.
Sekerlik is daar ń onderskeid in die motief en wettigheid van die twee dade?
Hoe kan ons gewone burgers ons misnoë met sulke wanvoorstellings gee.
KT

OW ·

Neem maar die eerbare weg en bedank.Julle is nie instaat om hierdie land te bestuur en te regeer nie.Anargie kom al jare op vele terreine voor en sal nie in julle leeftyd opgelos word nie.

Sarel ·

Ek dog dan Misdaad het afgeneem a.g.v. die Drankverbod.
So nog ‘n foeffie of ball in die broek

Porseleintjie ·

Drink minder tee en doen waarvoor jy aangestel is cele. Maar ek twyfel. n Boom word tog aan sy vrug geken. Statistieke spreek vanself.

Andre ·

Dit lyk of die covid griep storie en inperking alle misdadigers uit hul gate laat kruip het terwyl maskers as misdaad no een geteiken word. So erg dat selfs die weermag ingeroep is om denkbeeldige misdadigers te soek. Viva AmaAfrika.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.