Misdaadstatistieke: Styging in moord verwag

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Pixabay)

Die burgerregteorganisasie Action Society verwag dat daar ʼn styging in moord, seksuele oortredings en trio-misdaad sal wees wanneer Bheki Cele, polisieminister, Vrydag om 12:00 die misdaadstatistieke vir die eerste kwartaal van die finansiële jaar 2022-’23 (April tot Junie) bekend maak.

Kapings, huis- en sakeroof sal na verwagting ook hoër as die aantal gevalle oor dieselfde tydperk verlede jaar wees.

Misdaadstatistieke vir April tot Junie 2021 het ʼn moordkoers van 5 760 getoon, terwyl die koers van seksuele oortredings en trio-misdaad onderskeidelik op 12 702 en 15 747 gestaan het.

Die moordkoers van verlede kwartaal (Januarie tot Maart 2022) se verslag was 6 083 en die koers vir seksuele oortredings en trio-misdaad onderskeidelik 13 799 en 15 369.

Ian Cameron, direkteur van gemeenskapsveiligheid by Action Society, sê as daar na dié statistieke gekyk word, is dit duidelik dat daar ʼn deurlopende styging in die meeste misdaadgevalle oor die afgelope jaar was.

“Uit ons ervarings binne gemeenskappe verwag ons om ʼn verdere opwaartse neiging te sien.

“As ons die totale van die vier kwartale van 2020-’21 bymekaartel, staan Suid-Afrika se jaarlikse moordkoers op 24 865 – dit is 2,88 moorde per uur. Die algehele koers vir seksuele oortredings is 52 653 per jaar, wat 6,08 oortredings per uur is.”

Maroela Media het vroeër berig dat moord veral in Gauteng toegeneem het – met ʼn skrikwekkende styging van 45% in die eerste drie maande van die jaar. Die nasionale moordkoers het in die vierde kwartaal met 22,2% toegeneem, vergeleke dieselfde tydperk verlede jaar.

Cameron meen die statistieke is bloot ʼn maatstaf vir mislukking as daar geen afnames in die algehele syfers gesien word nie.

“Dit beteken dat min. Cele nie sy werk doen nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Rocco ·

Glo nie dit sal goeie nuus wees nie, van die hoeddraende pateet.

domheks ·

Ou hoed is so vol van homself, hy moet oppas of hy gaan binnekort ontplof!

Johann ·

Wrede hartseer realiteit van die RSA. Niks meer of minder as statistiek nie. En die onbeholpe magsmal Madhatter lees dit af met GEEN gewetens raakpunt van enige aard nie. SHAME ON YOU AND YOUR UTTER FAILURE!

Swerwer ·

Verwyder Lord omgedraai uit sy pos en plaas iemand Bevoegd sonder B-BBEE en daar sal ‘n daadwerklike verandering/daling in misdaad wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.