‘Misdaadstatistieke toon krisis in polisie-topbestuur’

Die nasionale polisiekommissaris Riah Phiyega. Foto: Werner Beukes/SAPA

Die nasionale polisiekommissaris Riah Phiyega. Foto: Werner Beukes/SAPA

Die toename in geweldsmisdaad is ʼn aanduiding van die polisie se tekort aan strategie en ʼn “reekskrisis in die topbestuur” van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD).

Só het die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS) Dinsdag gesê kort nadat Riah Phiyega, nasionale polisiekommissaris, die jongste misdaadstatistieke bekendgemaak het.

Gareth Newham van die ISS het gesê dit is die derde agtereenvolgende jaar dat ʼn toename in die ernstigste kategorieë van gewelds- en georganiseerde misdaad aangeteken word en tog is daar geen duidelike strategieë om hierdie kommerwekkende neiging teen te werk nie.

“Gewapende rooftogte is ʼn sleutelaanduiding van die polisie se effektiwiteit omdat hulle gewoonlik deur ʼn relatiewe klein hoeveelheid oortreders gepleeg word wat meestal georganiseerd is,” het Newham gesê. “Dit beteken ʼn duidelike rooftog-verminderingstrategie wat deur intelligensie gelei word en deur gespesialiseerde spanne speurders ondersteun word, sal lei tot die identifisering, inhegtenisname en vervolging van die toenemende hoeveelheid gewapende rowers en die kopers van gesteelde goedere. Die toename in rooftogte laat vrae ontstaan of polisiehulpbronne effektief aangewend word.”

Newham het gesê daar is geen rede waarom Suid-Afrikaners onder gewapende rooftogte gebuk moet gaan nie. Hy het gesê die polisie het meer as genoeg personeel, kennis en hulpbronne om in te gryp. “Met ʼn begroting van ongeveer R80 miljard, van die beste tegnologie in die wêreld en meer as 194 000 personeel, moet die SAPD misdade soos rooftogte kan verminder,” het hy gesê.

Volgens Newham lê die antwoord in die implementering van die Nasionale Ontwikkelingsplan se voorstel dat die SAPD se nasionale en adjunk-kommissaris deur ʼn onafhanklike keurkomitee aangestel moet word volgens ʼn deursigtige en kompeterende werwingsproses.

“Alle senior polisiebestuurders se vaardighede, ervaring en integriteit moet ook geassesseer word om te verseker dat die beste persone moontlik aan die hoof van die SAPD staan.”

Polisie moet hande vat met ander

Newham het egter beklemtoon dat die polisie nie alleen misdaad kan beveg nie, veral wanneer dit kom by moorde, aanrandings en verkragtings. “Die SAPD moet meer strategies en deursigtig met ander regeringsdepartemente, sakeondernemings en die burgerlike samelewing te werk gaan [sodat vennootskappe gevorm kan word].”

Hy het die polisie ook gekritiseer vir die verouderde data wat aan die publiek voorgelê word. “Die syfers wat vandag bekendgemaak is, is reeds ses maande oud en gee dus nie ʼn akkurate prentjie van die misdaad- en geweldsvlakke in gemeenskappe nie. Ons moet weet wat op die oomblik aangaan as ons misdaadverminderingstrategieë behoorlik wil beplan, implementeer en hul effektiwiteit wil toets,” het hy gesê.

ʼn Vermindering in aangemelde sake beteken nie ʼn vermindering in misdaad nie, het Newham gesê. “Minder as die helfte van slagoffers meld hul ervarings by die polisie aan,” het hy gesê.

Die mees onlangse opname van nasionale slagoffers van misdaad het getoon dat 7% minder aanrandingslagoffers ʼn saak by die polisie aanhangig gemaak het as in 2011. Navorsing het ook getoon dat slegs een uit elke 13 verkragtings by die polisie aangemeld word, het Newham gesê. “Dit beteken die polisie se verkragstatistieke is nie akkuraat nie. ʼn Vermindering in aangemelde sake van seksuele aanranding toon nie minder verkragtings nie, maar eerder groter wantroue in die polisie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Piet Pompies ·

My eie ervaring met SAPD die afgelope twee jaar, meld ongeluk aan SAPD Nelspruit, staan in ‘n lang ry saam mense van die publiek om afskrifte te sertifiseer. Polisie beampte gee vir ons die verkeerde dokument om te voltooi. Twee ure later stap ek daar uit gewalg deur onkunde en gebrek aan respek deur SAPD lede teenoor die publiek. Gee vir my die R80 miljard om die SAPD reg te ruk.

Griki ·

Al die geld, hulpbronne, polisiepersoneel en tegnologie in die wêreld sal nie help as die wil en die bevoegdheid om misdaad te bekamp nie daar is nie. Die SAPD is tans soos ‘n vis wat van die kop af vrot.

amelia ·

Ja Piet Pompies Nelspruit polisie my kind op daardie stadium 14) ook gedryg oor telefoon Nadat Lothair polisie gebel het en gese het ek sal klag gaan le het dit opgehou Nelspruit se verskoning was is Lothair polisie se opdrag en Lothair polisie konstabel dit erken

Johnnie ·

Ek sal die polisie kommisaris nie eers in my kombuis laat werk nie want sy sal daarvan ook n gemors maak, ook met al die beste tegnologie in die wereld sal daar niks gebeur nie want hoe kan ongeskoolde goed daarmee werk hulle weet nie eers wat die bo of onder kant van n potlood is nie.

Tokkelossie ·

Kom ons gee die polise ‘n slag samewerking en hou op om hulle te kritiseer . As jy in nood is weet jy darem goed vir wie om te bel . Wat doen ons as publiek om misdaad te bekamp ?

Pierre ·

Dit is nie ons as publiek se werk om misdaad te bekamp nie. Waarvoor betaal ons dan belasting? Betaal jy belasting sodat jy die polisie se werk vir hulle kan gaan doen?

En ons weet presies wie om te bel as daar nood is: die privaat sekuriteits maatskappy.
Want hulle sal opdaag, en hulle het die vaardighede om hulle werk te doen.

Anders as die grap van ‘n polisie mag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.