Misdaadstatistieke vir Gauteng ‘skets donker prentjie’

Argieffoto (StevePB, Pixabay)

Argieffoto (StevePB, Pixabay)

Die mees onlangse misdaadstatistieke vir Gauteng toon dat moord in die provinsie die afgelope jaar met ʼn kommerwekkende 10,2% gestyg het, terwyl motorkapings, vragmotorkapings, huisrooftogte en roof almal met meer as 14% gestyg het.

Hierdie syfers het Dinsdag aan die lig gekom in misdaadstatistieke wat AfriForum vir die provinsie bekendgemaak het. AfriForum beweer dit is reeds maande terug aan hulle gelek.

Ian Cameron, die hoof van gemeenskapsveiligheid by die organisasie, het in ʼn verklaring gesê die statistieke “skets ʼn donker prentjie”, veral wanneer dit met verlede jaar se syfers vergelyk word.

In die syfers wat deur AfriForum verskaf is, word daar aangedui dat 2 965 sake van moord tussen April 2014 en Januarie 2015 in Gauteng aangemeld is. Daarby is 3 511 sake van poging tot moord ondersoek.

Altesaam 39 430 sake van roof met verswarende omstandighede is aangemeld, 14,1% meer as die voorafgaande jaar. Die skerpste styging kan gesien word in vragmotorkapings wat met ʼn allemintige 54,5% gestyg het. Daar is ook 5 638 sake van algemene motorkapings aangemeld, 14,4% meer as die vorige tydperk.

ʼn Daling kan gesien word in die getal verkragtings wat aangemeld is (3,6% minder), asook sake van aanranding (2,7% minder), opsetlike saakbeskadiging (13% minder), kommersiële misdaad (13,4% minder) en seksuele oortredings (27,2% minder).

“[Ons] voorspel ʼn drastiese styging in geweldsmisdaad oor die hele Suid-Afrika,” het Cameron gesê. “Sedert genl. Riah Phiyega se aanstelling as nasionale polisiekommissaris het Suid-Afrikaners slegs stygings in dié misdade, veral moord, poging tot moord, huisrooftogte, besigheidsrooftogte en motorkapings, gesien. Dit is eenvoudig, genl. Phiyega moet gaan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Johann Marx ·

Elke misdaad wat gepleeg word het ‘n finansiële implikasie vir die slagoffer…..en die koste daarvan word kunsmatig verhoog deur ‘n regering wat NIKS doen om misdaad te bekamp nie, want hulle gryp 14% BTW op elkeen van daardie uitgawes. Miljoene bang Suid Afrikaners lees hierdie statistieke en spandeer miljarde (na belasting) Rande om hulle self en hulle eiendomme te beveilig…en weereens genereer dit 14% BTW vir die regering. As daardie 14% op misdaad verwante transaksies dan nie vir hulle iets beteken het nie…..kan hulle dit net sowel teen 0% aanslaan……want 14% op die prys van die vervanging van ‘n gesteelde of gekaapte motor maak ‘n helse verskil aan die verbruiker se sak.

Johann Marx ·

As daar nie misdaad in SA was nie, kon al die bakstene wat tans in “veiligheidsmure” ingebou is, gebruik gewees het om huise vir mense te bou. Sou daar baie beter sosiale interaksie tussen mense gewees het……..wat in die nuwe Suid Afrika huistoe jaag, die elektriese hek agter hulle toemaak, die heinings en die alarms aansit, en nie ‘n hel omgee WIE hulle bure eers is nie. Ons leef in selfgeboude tronke, ons is ons eie hoof-bewaarders (met ‘n bos sleutels), en ons gebruik dit as ‘n “plus punt” wanneer ons ons eiendom verkoop….Skande.

Johann Marx ·

Suid Afrika het ‘n misdaad-gebasseerde ekonomie. Hoeveel minder voertuig transaksies sou daar nie gewees het sonder misdaad nie? Hoeveel minder ligte, sensors, drade, alarms, batterye, hekke en hoë mure sou daar verkoop gewees het sonder misdaad? Misdaad veroorsaak dat daar tans twee maal MEER gewapende “wagte” in SA is, as polisie lede. Totale besighede BESTAAN en dryf handel as gevolg van mense se vrees vir misdaad. As ons al die misdaad op ‘n gegewe oomblik UIT Suid Afrika kon verwyder….het ons ekonomie ineengestort.

Johann Marx ·

Elke misdaad wat gepleeg word het ‘n finansiële implikasie vir die slagoffer….en daardie uitgawe word kunsmatig met 14% verhoog deur die regering. Miljoene (na belaste) Rande word spandeer in ‘n poging om mens en eiendom te beveilig….en 14% daarvan gaan reguit na die regering se koffers. As dit nie vir hulle ‘n noemenswaardige “inkomste” was nie, hoekom slaan hulle dan nie misdaadverwante uitgawes teen 0% BTW aan nie? 14% op die prys van ‘n gekaapte vervangingsvoertuig maak een helse verskil aan die slagoffer se sak.

Johann Marx ·

En moenie dink misdaad het geen invloed op jou omdat jy nog nie beroof of aangeval is nie. Die reuse kettingwinkels verloor jaarliks miljoene Rande deur “misdaad”. Wat doen hulle om dit te voorkom? Niks. Want dis goedkoper om net die prys van die rak-produkte met 10% te “laai” om te kompenseer vir misdaad. As die misdaad gebeur, het die kettingwinkel daarvoor “voorsien”….en as die misdaad NIE gebeur NIE….maak hulle net groter wins. Sonder misdaad sou lewenskoste in SA laer gewees het….vir almal.

Johann Marx ·

Jou motor word gekaap. Die kaper kry ongeveer R15 000,00 vir sy “werk”. Die besteller kry ongeveer R25 000,00 as hy jou motor in Mosambiek aflewer. Jou versekeraar betaal jou “boekwaarde” uit…..en gebruik misdaad as ‘n rede om hulle premies te verhoog (en hulle maak wins want as hulle NIE wins gemaak het nie, was hulle lankal bankrot). Die bank kry hulle geld (wat afgelos word met jou versekerings uitbetaling). Nou moet jy ‘n nuwe voertuig koop. Kom ons aanvaar jy het al ‘n jaar of wat aan jou voertuig afbetaal. Die prys van ‘n nuwe voertuig veroorsaak nou dat jy ‘n R100 000,00 tekort het daarop. Die bank is maar te gretig om daardie “tekort” WEER vir jou te finansier. Die prys van daardie vervangingsvoertuig is, kom ons sê, R400 000,00. Die oomblik as jy jou voertuig vervang, kry die regering ongeveer R49 000,00 se BTW. En al wat hulle daarvoor moes doen? Is NIKS om die misdaad te verhoed nie. En dan praat ons nie van die BTW op die oorspronklike transaksie nie….

Rynhardt ·

Misdaadstatistieke is uiters misleide en daar is geen neutrale liggaam wat die werklike syfers kan gee nie.Kom ek stel dit liewer anders!Misdaad is lankal buite beheer in SA!Oopgrense vir 21jaar het nie SA in n feetjie-paradys verander nie!Tot ophede het geen lamsakkige politikus ooit die volgende vraag gevra nie:”Hoeveel duisende wapens en dwelms het SA binne gekom die afgelope 21jaar?” Dit se alles,want hul jippies en vet salarisse is op die spek!Die indruk moet gewek word dat alles is nog op koers in ou reenboogland.Verlede jaar is daar byvoorbeeld in Gauteng n beslag gele op n”rockett launcher” wat n vent wou verkoop by n padstalletjie,iets wat Rambo trots sou maak!Die vraag bly egter,hoeveel van die goed is reeds onwettig in SA?Daar is ook bevind dat die polisie misdaadstatistieke bekook om vir ouboet,die Anc goed te laat lyk!Dan het jy ook nog die SAUK wat deur die Anc finansieel geondersteun word,en siedaar,jy het die prefekte resep!Niks is verkeerd in reenboogland nie,behalwe as jy ou eenoog die monster is,wat dit glo!

Johann Marx ·

Die regering vra die gemeenskap konstant om “betrokke te raak” in die stryd teen misdaad. Met ander woorde….betaal jou belasting (wat die regering moet aanwend namens jou en tot jou voordeel om onder andere misdaad te bekamp), en dan met die geld wat oorbly, is jy veronderstel om “betrokke te raak” in die stryd teen misdaad. Jy beveilig jou eiendom met hekke, ligte, sensors, drade, alarms, en ‘n kontrak met ‘n sogenaamde gewapende reaksie-mag (wat streng volgens die konstitusie GEEN bestaansreg het nie). As die regering enigsens ernstig was met misdaadvoorkoming, sou hulle jou tegemoet gekom het deur jou “betrokkenheid” teen NUL% BTW aan te slaan…..Maar is hulle?

Johann Marx ·

Dink jy jou “gewapende reaksiemag” beskerm jou? Volgens die konstitusie het hulle GEEN reg om enige iemand in jou woonbuurt voor te keer en te deursoek nie. Hulle het GEEN reg om arrestasies te maak nie. Hulle het GEEN reg om iemand te verhoed om jou woonbuurt binne te kom nie. Hulle het GEEN reg om enige iemand uit jou woonbuurt te verwilder nie. So wat doen hulle dan daar? Hulle hou dop….en as daar ‘n “probleem” is, kontak hulle die SAPD om die situasie te kom hanteer. En as jy die dag ‘n slagoffer word, neem daardie maatskappy wat “jou veiligheid waarborg die dag as jy ‘n kontrak moet teken” enige verantwoordelikheid vir jou skade? Dink daaroor….

Johann Marx ·

As die regering se uitgangpunt “gemeenskapsbetrokkenheid” is in die stryd teen misdaad, hoekom woon NIE EEN van die polisielede van my naaste polisiestasie IN my gemeenskap nie? Die polisiemanne wat in my gemeenskap bly, word in Soweto aangewend, waar hulle NIE die taal praat nie, nie die gemeenskap ken nie, nie straatname kan uitspreek nie, en konstant aangeval word……en die polisiemanne wat in Soweto bly word daagliks aangery (met polisievoertuie) om te kom diens doen in MY gemeenskap….waar hulle NIE die taal praat nie, nie gemeenskap ken nie, NIE deel is van skool, kerk en ander sosiale aksies nie. Sou dit nie beter gewees het as die polisiemanne en vroue wat ‘n gemeenskap dien, UIT dieselfde gemeenskap kom nie? Dit maak mos net sin op soveel vlakke? Nou waarom gebeur dit dan nie?

Johann Marx ·

Ons het hulle uitgevang in ons woonbuurt. Daardie outjies wat so deur jou strate “drentel” in klein karretjies met “badges” op die deure…..en elke maand by elke huishouding honderde Rande kollekteer. Hier by ons het hulle in ‘n straat in gegaan…….die huise getel wat “opgeteken” is, en toe ‘n paar kriminele aangery en gewys watter huise om bietjie te gaan “skud” (sodat hulle nuwe kliënte kan kry)……terwyl hulle stadig aan die aaaaaanderkant van die woonbuurt gaan rond drentel in hulle karretjies tydens die “bemarkings proses”. Word wakker, en gaan kyk of dit in jou woonbuurt ook gebeur…

Winston ·

Johann Marx jy het alles gesê en ek kan maar net byvoeg en saamstem. Terwyl jy praat van voorkomende optredes, buurtwag, wagte, hekke en heinings en so kan ek aangaan, wat alles inkomste genereer, word patetiese opvolgwerk gedoen. Ondersoek, arrestasie, hofprosedure en gevangenisstraf kos die staat geld, so dit word afgewater om koste te beperk. Hoeveel klaers in sake word weggewys by Polisiestasies? Statistiek sê nie alles nie. Misdaad is onder beheer uit. Kriminele het baie meer regte as klaers. Volg dit op en jy sal skrik.

Johann Marx ·

As ‘n plaasmoord gebeur word daardie boer se einste belastingbydraes gebruik om SAPD se salarisse te betaal om die kriminele te vang. Indien hulle tot by verhoor gebring word, kry hulle “gratis” regshulp…wat betaal word met dieselfde boer se belasting. As tronkstraf opgelê word, word die kostes gedra deur dieselfde boer se jare lange belastingbydrae. Die herstel en begrafniskoste genereer vir die regering ‘n hoop BTW….en die oomblik as die boer se boedel beredder is? Kry sy weduwee ‘n “rekening” van die staat…vir boedelbelasting. En dit nadat die regering sy hoof konsitusionele plig nl. veiligheid en sekuriteit van die burgers van die land, klaaglik gefaal het. Die naasbestaandes van moordslagoffers behoort kwytgeskeld te word van enige vorm van belasting aan die staat vir die res van hulle lewe. As die regering boedelbelasting wil hef, moet hulle mense aan die lewe hou tot by natuurlike afsterwe. As hulle nie kan nie, verbeur hulle die reg tot daardie belasting.

Hein ·

Ek is geskok deur die syfers en het nie gedink dat dit so rof gaan in die stede/dorpe nie. Ons ry net op die snelweg na ons werk toe en het nie geweet dat dit so gaan so aan die buitekant van die snelweg nie. Miskien omdat ons net ‘n 4 voet heining het en nie alarms,reaksiemag, diefwering en veiligheidshekke het nie. Miskien is die keuse om alles self te doen by die huis wat nie die vliee lok nie. Ek is nie onsimpatiek nie maar die mense moet nou ‘n kopskuif begin maak en hulle hande lig. Die binne inligting moet beperk word. Daar is te veel inligting wat uitkom deur tuindienste, bediendes, rondlopers in buurte.

pop ·

Daar se julle almal dit. Misdaad is te lonend vir die staat om enigiets daaraan te doen. Inteendeel!!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.