Misdaadstatistieke vir Gauteng ‘skets donker prentjie’

Argieffoto (StevePB, Pixabay)

Argieffoto (StevePB, Pixabay)

Die mees onlangse misdaadstatistieke vir Gauteng toon dat moord in die provinsie die afgelope jaar met ʼn kommerwekkende 10,2% gestyg het, terwyl motorkapings, vragmotorkapings, huisrooftogte en roof almal met meer as 14% gestyg het.

Hierdie syfers het Dinsdag aan die lig gekom in misdaadstatistieke wat AfriForum vir die provinsie bekendgemaak het. AfriForum beweer dit is reeds maande terug aan hulle gelek.

Ian Cameron, die hoof van gemeenskapsveiligheid by die organisasie, het in ʼn verklaring gesê die statistieke “skets ʼn donker prentjie”, veral wanneer dit met verlede jaar se syfers vergelyk word.

In die syfers wat deur AfriForum verskaf is, word daar aangedui dat 2 965 sake van moord tussen April 2014 en Januarie 2015 in Gauteng aangemeld is. Daarby is 3 511 sake van poging tot moord ondersoek.

Altesaam 39 430 sake van roof met verswarende omstandighede is aangemeld, 14,1% meer as die voorafgaande jaar. Die skerpste styging kan gesien word in vragmotorkapings wat met ʼn allemintige 54,5% gestyg het. Daar is ook 5 638 sake van algemene motorkapings aangemeld, 14,4% meer as die vorige tydperk.

ʼn Daling kan gesien word in die getal verkragtings wat aangemeld is (3,6% minder), asook sake van aanranding (2,7% minder), opsetlike saakbeskadiging (13% minder), kommersiële misdaad (13,4% minder) en seksuele oortredings (27,2% minder).

“[Ons] voorspel ʼn drastiese styging in geweldsmisdaad oor die hele Suid-Afrika,” het Cameron gesê. “Sedert genl. Riah Phiyega se aanstelling as nasionale polisiekommissaris het Suid-Afrikaners slegs stygings in dié misdade, veral moord, poging tot moord, huisrooftogte, besigheidsrooftogte en motorkapings, gesien. Dit is eenvoudig, genl. Phiyega moet gaan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

15 Kommentare

jongste oudste gewildste
Johann Marx

Elke misdaad wat gepleeg word het ‘n finansiële implikasie vir die slagoffer…..en die koste daarvan word kunsmatig verhoog deur ‘n regering wat NIKS doen om misdaad te bekamp nie, want hulle gryp 14% BTW op elkeen van daardie uitgawes. Miljoene bang Suid Afrikaners lees hierdie statistieke en spandeer miljarde (na belasting) Rande om hulle self en hulle eiendomme te beveilig…en weereens genereer dit 14% BTW vir die regering. As daardie 14% op misdaad verwante transaksies dan nie vir hulle iets beteken het nie…..kan hulle dit net sowel teen 0% aanslaan……want 14% op die prys van die vervanging van ‘n gesteelde… Lees meer »

Johann Marx

As daar nie misdaad in SA was nie, kon al die bakstene wat tans in “veiligheidsmure” ingebou is, gebruik gewees het om huise vir mense te bou. Sou daar baie beter sosiale interaksie tussen mense gewees het……..wat in die nuwe Suid Afrika huistoe jaag, die elektriese hek agter hulle toemaak, die heinings en die alarms aansit, en nie ‘n hel omgee WIE hulle bure eers is nie. Ons leef in selfgeboude tronke, ons is ons eie hoof-bewaarders (met ‘n bos sleutels), en ons gebruik dit as ‘n “plus punt” wanneer ons ons eiendom verkoop….Skande.

Johann Marx

Suid Afrika het ‘n misdaad-gebasseerde ekonomie. Hoeveel minder voertuig transaksies sou daar nie gewees het sonder misdaad nie? Hoeveel minder ligte, sensors, drade, alarms, batterye, hekke en hoë mure sou daar verkoop gewees het sonder misdaad? Misdaad veroorsaak dat daar tans twee maal MEER gewapende “wagte” in SA is, as polisie lede. Totale besighede BESTAAN en dryf handel as gevolg van mense se vrees vir misdaad. As ons al die misdaad op ‘n gegewe oomblik UIT Suid Afrika kon verwyder….het ons ekonomie ineengestort.

Johann Marx

Elke misdaad wat gepleeg word het ‘n finansiële implikasie vir die slagoffer….en daardie uitgawe word kunsmatig met 14% verhoog deur die regering. Miljoene (na belaste) Rande word spandeer in ‘n poging om mens en eiendom te beveilig….en 14% daarvan gaan reguit na die regering se koffers. As dit nie vir hulle ‘n noemenswaardige “inkomste” was nie, hoekom slaan hulle dan nie misdaadverwante uitgawes teen 0% BTW aan nie? 14% op die prys van ‘n gekaapte vervangingsvoertuig maak een helse verskil aan die slagoffer se sak.

Johann Marx

En moenie dink misdaad het geen invloed op jou omdat jy nog nie beroof of aangeval is nie. Die reuse kettingwinkels verloor jaarliks miljoene Rande deur “misdaad”. Wat doen hulle om dit te voorkom? Niks. Want dis goedkoper om net die prys van die rak-produkte met 10% te “laai” om te kompenseer vir misdaad. As die misdaad gebeur, het die kettingwinkel daarvoor “voorsien”….en as die misdaad NIE gebeur NIE….maak hulle net groter wins. Sonder misdaad sou lewenskoste in SA laer gewees het….vir almal.