Misdaadsyfers: Effe beter in Wes-Kaap, erger in Oos-Kaap

Alan Winde, premier van die Wes-Kaap (Foto: Alan Winde/Twitter)

Die Demokratiese Alliansie in die Wes-Kaap en Oos-Kaap het onderskeidelik reageer op kwartaallikse misdaadstatistieke vir die derde kwartaal van 2021/22 (Oktober tot Desember) wat polisieminister Bheki Cele Vrydag bekendgemaak het.

Wes-Kaap

Die premier van die Wes-Kaap, Alan Winde, en die waarnemende minister van gemeenskapsveiligheid, Anroux Marais, het ʼn 6,9%-daling in moord en 24,5%-afname in poging tot moord in die provinsie verwelkom.

“Hierdie statistieke wys dat ons provinsiale plan vir die bevordering van wetstoepassing (Leap) ʼn verskil maak. Ons sien afnames in die moordkoers in Kraaifontein (40,5%), Harare (14,5%), Khayelitsha (21,1%) en Nyanga (24,1%),” sê Winde. “Hierdie is die mees beduidende afnames in moorde onder die top-30-moordstasies in die land en is ook gebiede waar ons Leap-hulpbronne vrygestel het as deel van ons plan om die moordkoers met 50% te laat daal teen 2029.”

Sedert die plan afgeskop het, is 1 056 Leap-beamptes na misdaadbrandpunte ontplooi. “Die werksure van die Leap-beamptes is ook uitgebrei na ʼn 24 uur-skofstelsel en dit het bygedra tot ʼn toename in ontplooiing oor naweke wanneer moorde, volgens ons data, toeneem. ʼn Reaksie-eenheid van Leap-beamptes is ook aangestel om dringend te reageer op enige uitbrekings van geweld wanneer dit plaasvind.”

Afname in kriminele aktiwiteit in die Wes-Kaap oor die afgelope kwartaal is ook vir die volgende aangeteken:

  • seksuele misdrywe (10,7%)
  • aanranding met die doel om ernstig te beseer (5,6%)
  • aanranding (1,2%)
  • roof (8,9%) en
  • roof met verswarende omstandighede (10,9%)

Marais het bygevoeg daar is gebiede waar daar ʼn toename was in kriminele aktiwiteit, insluitend poging tot seksuele misdrywe, bankrooftogte, opsetlike saakbeskadiging en kommersiële misdaad. “Dit is kommerwekkend en my departement sal sy deel doen om te voldoen aan ons grondwetlike mandaat van oorsig en om seker te maak dat ons kan sien waar die gapings is sodat ons dit kan aanspreek. Ons wil die provinsie veiliger maak vir almal wat hier woon.”

Marais sê haar departement sal ook sy monitering van polisiestasies uitbrei met ʼn fokus op geslagsgebaseerde geweld en huishoudelike geweld, polisiegedrag, sigbare polisiëring en die doeltreffendheid van misdaadondersoeke.

“Die departement van gemeenskapsveiligheid sal ook herdoop word as die ‘departement van polisie-oorsig en gemeenskapsveiligheid’ in die Wes-Kaap.”

Winde sê dit is belangrik om die provinsiale veiligheidsplan na ʼn volgende vlak te neem en hy kondig dus ʼn nuwe geweldsvoorkomingseenheid aan wat in die Wes-Kaapse departement van gesondheid gevestig sal word. “Dié eenheid sal data uit openbare gesondheid gebruik om plaaslike strategieë te bepaal om geweld te voorkom nog voor dit gebeur.”

Winde het die SAPD en plaaslike wetstoepassers bedank vir hul dapperheid die afgelope kwartaal. “Ons weet dat julle elke dag jul lewens op die spel plaas en daarom loof ons julle. Baie dankie ook aan die SAPD se provinsiale leierskap vir ʼn goeie gees van samewerking.”

Oos-Kaap

Bobby Stevenson (Foto: DABhisho/Flickr via Wikimedia Commons)

Daar is egter ʼn kommerwekkende toename in moorde in die Oos-Kaap en alle tekens is daar dat voor Covid-19-vlakke verbygesteek sal word.

Só sê Bobby Stevenson, die DA se skadu-LUR vir gemeenskapsveiligheid in die provinsie.

“In die laaste kwartaal het die koers met 8,3% toegeneem vir die periode van Oktober tot Desember 2021. Hierdie kommerwekkende neiging wys dat daar ʼn afname is in respek vir menselewens en mense pleeg sinnelose en gewelddadige misdaad. Kriminele is duidelik nie meer bang om gevang te word nie.”

Stevenson sê gekombineer met die eerste drie kwartale van die 2021/22-boekjaar was daar 3 425 moorde in die provinsie, met polisieminister Bheki Cele wat Vrydag tydens sy verslag oor misdaadstatistieke onthul het dat 1 304 moorde in die derde kwartaal in die provinsie aangemeld is.

“Dit is ʼn gemiddeld van byna 13 mense per dag in ons provinsie! Die Oos-Kaap het die hoogste moordkoers in die land – op 18,7 per 100 000.”

Die laaste syfers voor Covid-19, in 2019, was 3 965 vir die periode onder hersiening. Dit is ʼn gemiddeld van net minder as 11 mense per dag.

Moord-brandpunte sluit Mthatha, Lusikisiki, Kwazakhele, New Brighton en Motherwell in.

Die hoë vlakke van verkragting in die provinsie is ook kommerwekkend met Lusikisiki wat die hoogste getal verkragtings in die land aangemeld het vir die drie maande onder hersiening.

Die getal motorkapings in die provinsie het ook in die derde kwartaal skerp toegeneem met 32,5% van 277 tot 367.

Nie-residensiële rooftogte het ook met 8,8% toegeneem en Oos-Londen het die tweede hoogste getal gevalle in die land.

“Ons moet wet en orde herstel as een van die sleutelpilare van die samelewing. Dit beteken ʼn nuwe tipe vennootskap-polisiëring. Ons het ʼn kollektiewe poging nodig van die SAPD, die gemeenskap, ondernemings, sekuriteitsmaatskappye en munisipaliteite sodat ons meer doeltreffende gemeenskapspolisiëringsforums op die been kan bring wat weer beheer kan neem oor ons strate. Ek haal my hoed af vir dié lede van die SAPD wat die ekstra myl loop en met beperkte hulpbronne alles in hul vermoë doen om ʼn verskil te maak in die lewens van ons gemeenskappe. Wat nodig is, is die politieke wilskrag om seker te maak dat behoorlike hulpbronne verskaf word, saam met stewels op die grond.”

Hy sê die DA sal voortgaan met sy stryd om ʼn veilige provinsie te verseker waar mense sonder vrees hoef te lewe in hul gemeenskappe en woonbuurte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.