Misdaadsyfers ‘geen verrassing’

(Argieffoto: SA Polisie)

Benewens die energiekrisis sit Suid-Afrika met ʼn “misdaadprobleem wat rampspoedige vlakke bereik” het, en die VF Plus waarsku die situasie kort dringende ingryping voordat dit, nes Eskom, te laat is om te red.

Bheki Cele, minister van polisie, het Vrydag die jongste misdaadsyfers bekend gemaak, wat dui op toename in onder meer moord, aanranding en verkragting.

Altesame 27 066 mense is verlede jaar van Januarie tot Desember in Suid-Afrika vermoor – sowat 76 mense elke dag. Ander kontakmisdaad het ook skerp toegeneem in vergelyking met die ooreenstemmende tydperk ʼn jaar gelede.

“Elke ander misdaadkategorie lees ewe skokkend. Vandag se misdaadstatistieke vir Oktober tot Desember verlede jaar maak dit duidelik dat die minister van polisie die stryd teen misdaad verloor het. ʼn Nuwe minister is dringend nodig om die situasie om te keer,” sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.

Hy sê die vraag is nou op pres. Cyril Ramaphosa gaan toekyk hoe misdaad verder buite beheer toeneem – soos hy met Eskom gedoen het – en of hy bereid gaan wees om in te gryp.

Die toename in sogenaamde minder ernstige misdaad was ewe skerp en Groenewald sê dit is juis die soort misdaad waarmee gewone Suid-Afrikaners daagliks te kampe het. Dit sluit in inbrake by huise (+7,4%), diefstal van motors en motorfietse (3,3%), diefstal uit motors (9,9%) en winkeldiefstal (23,3%).

“Dit beteken dat buiten die gevaar teen persone self, ook mense se eiendom toenemend die teiken van misdadigers en raak. Suid-Afrikaners wat reeds swaar gebuk gaan onder die krimpende ekonomie, moet groot kostes aangaan om hulself, hul geliefdes en eiendom te beveilig terwyl die polisie al hoe minder beskerming bied,” sê Groenewald.

TLU SA sê ook die jongste misdaadsyfers is “geen verrassing nie”.

“Ek kan ook nie sien dat dit vinnig beter sal gaan nie. Hoe kan enigiemand verwag dat polisiebeamptes op voetsoolvlak ʼn doeltreffende misdaadvoorkomingsdiens moet lewer wanneer senior aanstellings in die polisie geen operasionele ondervinding het nie?” sê Ronnie Schilling, TLU SA se streeksbestuurder Oos en Natal.

Van Oktober tot Desember verlede jaar was daar 86 moorde in landelike gebiede en 92 voorvalle van poging tot moord.

Schilling sê intelligensiegedrewe optrede is boonop iets wat Suid-Afrikaners net in rolprente sien.

“Die vonnisse wat vir misdade toegeken word, indien enige, is ook lankal nie meer ʼn afskrikmiddel vir die misdadiger nie.”

Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, sê die statistieke wys boonop slegs “hoe onbevoeg” die regering is om na Suid-Afrikaners se veiligheid om te sien, terwyl Bertus van der Westhuizen, TLU SA streeksvoorsitter in die Vrystaat, van mening is dat Cele verantwoordelikheid vir die misdaadsyfers moet aanvaar.

“Ons as publiek betaal hom met belastinggeld ʼn salaris om hierdie baie belangrike en verantwoordelike taak te verrig. Hy moet ons beskerm en ʼn veilige en ordelike omgewing skep waarbinne ons kan werk en leef.

“Hy doen dit nie. Hy faal in die taak waarvoor ons hom betaal. Hy moet sy pos ontruim en plek maak vir iemand wat die werk kan doen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Laksman ·

Dan is daar natuurlik BAIE voorvalle waar die polisie die slagoffers wegwys (of getalle/klagtes kook) of nie opdaag nie en ook die slagoffers wat dit nie aanmeld weens n gebrek aan vertroue.

Eugene ·

Ramp-phosa moet n’ minister aanstel om misdaad te help bekamp. Hoedman is useless. “MINISTER VAN MISDAAD BEKAMPING.”

Eugene ·

Hoedman kan nie eers ‘n bier in ‘n kroeg organice nie. Hoe gaan Hy misdaad bekamp!!

Hercules ·

as oud moord en roof speurder sal ek my mond moet hou anders het Bheki Cele werk om te kom doen en ek koop nie KFC vir hom nie!!

gpsa ·

Solank daar nie grens beheer is nie en nie voor al die uitlanders uit is nie, sal die misdaad elke jaar aanhou toeneem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.