Misdaadsyfers ‘onaanvaarbaar’ sê partye

Die jongste misdaadsyfers word Donderdag in die parlement bekend gemaak. (Foto: GCIS)

Dit is duidelik dat die jongste misdaadsyfers wat vroeër vandag in die parlement bekend gemaak is, nie ʼn gevoel van geborgenheid ingeboesem het nie.

Die jongste syfers is vir die tydperk van 1 April verlede jaar tot 30 Maart vanjaar en toon dat misdaad in Suid-Afrika oor die algemeen toeneem.

Die portefeuljekomitee vir polisie sê in reaksie dit is onaanvaarbaar dat daar elke jaar ’n toename in misdaad is en dat daar steeds met geen strategieë vir die bekamping van misdaad na vore gekom word nie.

Maroela Media het vroeër berig die moordsyfer het in die afgelope boekjaar met 3,4% toegeneem en staan op 21 022 moorde vir hierdie tydperk. Dit is 57 moorde per dag. In die vorige jaar is 20 335 moorde aangeteken. Dit is ʼn styging van 686 moorde.

Poging tot moord het met 4,1% tot 18 980 voorvalle toegeneem.

Altesaam 170 979 voorvalle van ernstige aanranding is aangemeld, ʼn styging van 2,2%. Voorvalle van verkragting en seksuele aanranding het met 4,6% gestyg – altesaam 52 420 voorvalle is aangemeld.

“Die komitee is van mening dat die trajek van misdaad nie teen die huidige tempo kan voortduur nie en dat die manier waarop ons polisiëring beskou vanaf reaktief tot meer voorkomend verskuif moet word,” het Tina Joemat-Pettersson, voorsitter van die komitee, gesê.

Volgens Joemat-Pettersson kan dit slegs gedoen word as die polisie met gemeenskappe hande vat en saamwerk.

Die komitee vra ook dat polisieteenwoordigheid oor naweke opgeskerp moet word aangesien meer en gevaarliker misdade dán plaasvind.

“Die polisie moet hard werk om hul geloofwaardigheid en die publiek se vertroue te herwin. Dit sal bereik word deur te reageer op gemeenskappe se bekommernisse en diegene wat korrup is, te verwyder.”

Die VF Plus glo dat die jongste misdaadstatistiek bloot as bewys dien dat Suid-Afrika al hoe meer gewelddadig en onveilig vir sy inwoners word.

“Vir die eerste keer nóg het al sewe die kategorieë van kontakmisdade wat teen ʼn persoon gepleeg word, ’n toename getoon. Moord het ook vir die sewende agtereenvolgende jaar toegeneem,” sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.

Groenewald bevraagteken in ʼn verklaring die plaasmoordsyfer wat in die statistiek weergegee word en beweer dat dié syfer nie korrek weergegee word nie.

Volgens die statistiek het 47 plaasmoorde tydens 41 voorvalle die afgelope boekjaar plaasgevind. “Landbou-unies se statistiek toon ʼn veel hoër moordsyfer,” sê Groenewald.

Die DA sê op sy beurt dat die statistiek bloot daarop dui dat die polisie en die ANC nie in staat is om gemeenskappe veilig te hou nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

leser ·

met die vermeerdering van polisie en sigbaarheid oor naweke, en tye gemeld, kan ‘n mens die afleiding maak dat die misdadigers ook in die week hul eie werk het

J ·

Maar Mmusi, julle is dan in beheer van 11 van die top 30? Wat’s jou plan champ?

Nugter ·

Daar is van die polisie wat nie daar hoort nie, soos in baie ander beroepe ook, maar ‘n moordenaar of krimeneel het geen gewete of enige respek vir ‘n lewe nie, en ‘n polisieman/vrou is ook maar net ‘n mens soos ek en jy.

Johann cb ·

Die politieke partye meen die misdaadsyfer is “onaanvaarbaar”! Het hulle egter ‘n werkbare/uitvoerbare plan om dit te bekamp of te laat afneem?

Ferdie ·

Begin by die polisie self verwyder die politieke aanstellings die korruptes en misdadigers en onbevoegdes uit die polisie. Kyk hoe papsakkig lyk die lede geen trots respek of dissipline nie. Aanstellings wat gemaak word omdat ons pelle is is om van naar te word en as jy wit of bruin is vergeet van bevordering of om by polisie aan te sluit jou kleur is te wit jy is te bevoeg

Hanna Hoekom ·

Solank die SAPD plofbare situasies slegs “monitor” sal niks verander nie! SAPS het selfs geweier om onwettige grondbesetters laas week te verwyder (of enigsins op te tree) en privaat maatskappye en organisasies moes maar instaan om die eienaar te beskerm en die wet af te dwing. Dis nou dieselfde SAPD wat onlangs stert tussen die bene voor die onwettige immigrante in Jhb se middestad moes vlug. Wat n sirkus het die polisie nie geword nie!

Anel ·

Ons seun sukkel al 10 jaar om polisieman te word. Dis wat hy wil word en dit is in sy bloed. Hoeveel van die wat nou in die kolleges is hoort regtig daar? Hoeveel kan regtig lees en skryf en hoeveel is bevoeg om vuurwapen te dra? Is mos net”I need this job”! Wil net in kantoor sit!

jan ·

PRAAT PRAAT,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,???????????????????????? BA .

PJ Kruger ·

Ja almal praat maar niemand doen iets nie….bla-bla-bla. Whats the use?????

Ben van Staden ·

Dit is ongelukkig waar dat in hierdie land wolf die skaapwagter is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.