Misdaadsyfers ‘onderskat SA se intelligensie’

Foto ter illustrasie. (Foto: pixabay)

Die organisasie Women and Men Against Child Abuse (WMACA) sê die misdaadsyfers wat die afgelope week bekend gestel is, onderskat die Suid-Afrikaanse publiek se intelligensie.

“Vir ons beteken dit niks, want ons weet veral die syfers oor geslagsgebaseerde geweld en seksuele oortredings is nie naastenby akkuraat nie,” het WMACA in ʼn verklaring gesê.

“Die syfers is bloot uiterlike vertoon. Ons wil veel eerder hoor wat is al gedóén. Hoeveel inhegtenisnemings is gedoen? Hoeveel vervolgings was daar? Hoeveel oortreders is in die tronk en hoeveel is al weer vrygelaat om hulle slagoffers verder te terroriseer en nuwes te vind?” het Tania Otto, woordvoerder van WMACA, gesê.

“Gaan vra enige nieregeringsorganisasie wat op voetsoolvlak werk en die stukke probeer optel.

“Diegene wat vroue mishandel, word nie in hegtenis geneem nie. Die polisie gaan beslis die beskuldigde in die geval van huishoudelike geweld die voordeel van die twyfel gee. Vroueslagoffers en hulle kinders moet vlug, terwyl die oortreder gelukkig verder by die huis bly. Ons kry weekliks honderde oproepe, selfs al is ons ʼn organisasie vir kinders, want oënskynlik is daar niemand wat mishandelde vroue kan help nie.”

Volgens die organisasie word verdagtes van kinderverkragting en seksuele aanranding gewoonlik op lae borgtog vrygelaat en kan doodgelukkig in die gemeenskap aangaan, terwyl slagoffers vir assesserings na enigiemand van maatskaplike werkers tot forensiese sielkundiges gestuur word – én vir indringende mediese ondersoeke. Hulle moet hulle storie oor en oor vertel en hofsake kan jare lank uitgerek word.

WMACA het gesê as oortreders nie op heter daad en met die spreekwoordelike bloed aan die hande betrap word nie, lyk dit of die polisie en aanklaers hopeloos onbevoeg is om die saak verder te voer.

(Foto: Unsplash)

Otto sê die situasie is selfs meer beroerd wanneer ʼn slagoffer jonger as vyf is. Die polisie en aanklaers beskou hulle bloot net nie as betroubare getuies nie, het Otto gesê.

Luidens die jongste misdaadstatistieke was daar in die 2018-’19-boekjaar ʼn afname van 0,4% in die getal voorvalle van seksuele oortreding teen vroue wat aangemeld is. Die syfer staan op 36 597.

Daar was ʼn toename in die getal seksuele oortredings teen kinders wat aangemeld is – ʼn styging van 3,8% is aangeteken en die syfer staan tans op 24 387.

WMACA het gesê as dié syfer met 9 vermenigvuldig word – wat hy sê ʼn goed nagevorste getal is – kom die gesamentlike syfer op 548 856 te staan wat ʼn “veel meer geloofwaardige getal is”.

Volgens die organisasie is dit ook kommerwekkend dat moorde op kinders toegeneem het. Die getal minderjarige oortreders het in verhouding daarmee toegeneem, maar die organisasie sê die styging in die getal voorvalle waar ouers hulle eie kinders vermoor, mag nie uit die oog verloor word nie.

“Daar is ook die ysingwekkende werklikheid van kinders wat só mishandel word dat hulle óf in ʼn vegetatiewe staat eindig, óf weens hulle beserings sterf,” het WMACA gesê.

Die organisasie het gesê daar moet baie dringend gekyk word na die gebrek aan staatsondersteuning en dienste vir dié kinders en, weereens, die beweerde onwilligheid van wetstoepassers om beslissend en betyds op te tree.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Arno Scheepers ·

Die misdaadsyfers, en dus die mense van ons land, het bloot n politieke speelbal geword. WMACA Julle is 100% reg, ons word nie daardeur geflous nie.
Die vrouens en weerlose kinders van die land is sonder beskerming van die regering.
Die regstelsel laat hulle in die steek.
Die polisie laat hulle in die steek.
Die regering laat hulle in die steek.
Daarom word hulle oorgelaat aan die genade van gewetenlose misdadigers.
En wat doen die anc……..maak net hulle beursies vol geld.

wilma ·

Hier by ons n ook n hofsaak waar kinders die slagoffers is maar die saak word keer op keer uitgestel. SKANDE

Dries ·

Die hela afrika is n grap ek dink ons bly vir n week almal by die huis praat gaan ons niks help nie ons sit met n klomp terries wat die land regeer

Manie van Worcester ·

Wyle Jaap Marais het gese n terroriste bende regeer die land maar hulle is nie gebore in staat om dit te doen,

Ig ·

Die ANC weet die WMACA praat die waarheid maar doen niks daaraan nie want dit raak hulle nie persoonlik nie. I rest my case!

AndrewL ·

Dis dieselfde met padsterftes. Sowat een derde is voetgangers, maar selfs Arive Alive wil nie kiesers kwaad maak nie. Afrika.

Veronica ·

1) Te veel korrupte wetstoepassers
2) Bou meer tronke. Dit skep werk (bouers en later bewaarders ens.) en daar is nie meer die verskoning dat die tronke oorvol id nie.

sweis ·

Die nr 1 in SA gaan dan op nasionale tv en vertel die wêreld dat daar geen plaasmoorde is nie ,besoek Zimbabwe en sê suid afrikaanse burgers is nie zenofobies nie hulle het n kultuur van lieg en bedrieg so erg hulle glo later dat dit die waarheid is so hoekom sal die misdaad statistieke uitgesonder word ,die afrikaanse media lieg dan indirek vir sy lesers deur nie die feite te gee soos dit is nie ,hierdie land het n verbod geplaas op die gebod van jy mag nie leuens vertel nie

Jannie van Niekerk ·

Die probleem in die SAPD is dat daar hopeloos te veel ANC ondersteuners in hoë posisies aangestel word. Daar is tans meer ANC Kolonels en Brigadiers in die polisie as wat daar in totaal Konstabels en Sersante is. Hulle moet dus die ANC ter wille wees. Daarom word die misdaadsyfers afgewater. Aanklagkantoor personeel word aangesê om misdade anders aan te meld was wat dit is bv ‘n plaasmoord word nou ‘n huisroof wat verkeerd geloop het. Poging tot moord word aanranding en so kan mens aangaan. En dit net om die ANC poliselede beter te laat lyk. Die klein persentasie onkorrupte polisielede wat nie ANC ondersteuners is nie lei ongelukkig daaronder.

Stan ·

Skokkend en hartseer. Hoop regtig daar word daadwerklik iets omtrent hierdie probleme gedoen. Kinders vra: Wat maak ‘n mens soos ‘ek’ in ‘n wêreld met mense soos hierdie? Ek sidder om dit namens die kind te moet antwoord.

Adrian ·

Praat praat en nogmaals praat.. niks sal gebeur nie die vraag is waar is die probleem ??? Elke dag word duisende pornografie videos vrygestel waarin vroue , meisies en tot kinders ingesleep is, sodoende is hul liggame goedkoop en word dit deur sekere mense in die gemeenskap aanvaar en die vroue in die omgewing word dan aangeval. Oral is seksklubs, swinger klubs en meer en meer . Die probleem in die land is die totale MORELE VERVAL IN DIE LAND. Die publiekasie beheer het totaal verval kyk maar na rolprente, videos videospeletjies en clips. Met n druk van n selfoonknoppie spring pornografie op. DIT IS N VERLORE SAAK kyk maar na die geweld op die skerms begin dit te beheer dan sal dit vorentoe beter gaan. daar sal geskreeu word dis my mensereg om te kyk JAMMER DINGE MOET GESNY WORD

John ·

… syfers… syfers… wie jok… waar… hoe baie bloed, presies…. ooo… optogte… gee geld… nog vrouedae… ja… Wat is die oorsaak en wat is die oplossing? Wis John se kommentaar uit, dan voel die anties beter… veral diè wat testosteroon aansmeer vir ‘n growwer stem en meer mag … en toi-toi-krag in daai kaal nommertjie… my mensereg… vir straatoptogte en tv-kameras… Wie pas julle kinders op en waar is julle mans?

Keelvol vir Misdaad ·

Misdaad en korrupsie het Afrika waar hy is. Dit sal nooit verander nie! Begin eerder met n belastingboikot en doen iets aan die saak!

C op C ·

Statistiek tov diefstal sal nooit korrek wees nie. Ons boere meld lankal nie meer diefstal op plase aan nie, want daar kom net mooi niks daarvan nie.

Anja ·

Kan mens regtig die polisie blameer wanneer vrouens sake maak na n aanranding net om dit paar dae later weer terug te trek? Vrouens moet begin besef dat wanneer hulle dit doen hulle self verantwoordelik is dat geweld toeneem want sy gee toestemming dat sy maar mishandel kan word. Vrouens moet ophou om te vinnig saam met n man in te trek voordat sy hom ken. Vrouens moet ook verseker dat hulle selfonderhoudend kan wees. Geweld sal slegs afneem as vrouens hulself beter bemagtig.

Hanna Hoekom ·

Die probleem is dat miljoene mense in SA wel elke woord glo wat die regering uiter! Nie alle stemgeregtigdes is intelligent nie. En as daar dalk n bietjie twyfel is, sal n goedkoop t-hemp alles weer regmaak! Afrika sal homself mettertyd heeltemal insluk.

Barry ·

Graag sou ek wou weet hoeveel va ndie sake is opgelos
Hoeveel is skuldig bevind in n hof.Daardie statistieke word nooit weergee nie en ek weet dit is bekend want ek het vrooeer jare myne elke jaar moes instuur
Ek het gehoor dit is minder as twee persent wat opgelos word en daarvan word net 6 persent in die hof skuldig bevind.
Dit sluit nie in die wie die polisie arresteer
Drank dagga, betreding ens want dit stoot die opgeloste sake se statistieke op

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.