Mishandel en verkrag, maar só inspireer sy ander

Rene Maree

Rene Maree (26) is as tiener deur ʼn familielid verkrag. Ná jare se sessies by sielkundiges en talle mislukte pogings om haar eie lewe te neem het haar wêreld weer in duie gestort toe sy wéér verkrag is – dié keer nadat haar drankie by ʼn kuierplek gedokter is.

Maree het egter na alles tot die besef gekom dat jy jouself moet help deur op te staan en ʼn besluit te neem. Nou help sy ander vroue om hulself en hul identiteit te vind. “Dit is my passie en my roeping. Ek wil hoop gee en ʼn verskil in die lewe maak,” het Maree in ʼn onderhoud met Forum TV gesê.

Dit het op 14-jarige ouderdom aan die lig gekom dat Maree jare lank deur ʼn familielid verkrag is. “Dit was ʼn skok vir my familie. Ek het baie goeie ouers en dit was vir hulle baie, baie hartseer. Ons het probeer om daaroor te kom en dit te verwerk.”

Talle selfmoordpogings en sessies by sielkundiges het gevolg. “In matriek moes ek die skool verlaat en was ek vir omtrent vier weke in die hospitaal nadat ek omtrent die sesde keer my eie lewe probeer neem het. Ek het ʼn baie groot identiteitsprobleem gehad en ook spraakprobleme ontwikkel. Ek was verskriklik angstig en het angsaanvalle begin kry.”

Maree het later in Potchefstroom gaan studeer. “Dit was vir my ʼn nuwe begin. My ma-hulle moes intussen Zambië toe trek en ek en my suster het in Potch gebly. Ek het goed gedoen en was primaria van my koshuis en op die studenteraad. Ek het vir die eerste keer gevoel of ek iets bereik, en rêrig begin trots voel op myself.”

Maree se wêreld het egter weer in duie gestort nadat sy een aand by ʼn kuierplek bedwelm en verkrag is. “Dit het die wonde weer van voor af oopgemaak en dit het ons familie geknak. My ma moes van Zambië af teruggekom het om na my te kyk.

“Ek kon vir ʼn jaar lank glad nie werk nie, want ek het begin siek raak. Dit is nie net ʼn emosionele ding nie – jou lyf reageer ook daarop. Ek het weer sielkundiges begin sien en dit het my omtrent twee jaar gevat om dit te verwerk.”

Maree se lewe was weer op dreef en sy het boonop ʼn kêrel gekry. “Ek het gedink hy is dalk my trouman. Dit was liefde met die eerste oogopslag en vir ses maande het dit goed gegaan. Toe begin hy my aanrand. Hy het my met glase gegooi.”

Rene Maree

Maree was vir drie jaar lank in dié verhouding. “Mense vra altyd hoe bly jy in so ʼn verhouding. As mens flieks kyk waar vroue in sulke verhoudings is, dan dink jy ‘maak oop jou oë,’ maar dit is baie anders as jy self in so ʼn verhouding is.

“Jy het nie ʼn selfbeeld nie. Jy dink nie jy verdien beter nie en dink dis al wat jy kan kry, veral as dit jou eerste verhouding is. Jy raak so gewoond aan die mishandeling dat jy dink dit is wat liefde is.”

Maree het egter uiteindelik uit die verhouding gekom en het intussen ʼn motiveringspreker, modestilis en haarkapper geword.

“Jy besluit of jy in so ʼn verhouding gaan bly, of jy die mishandeling jou lewe gaan duld en of jy minderwaardig gaan voel. Jy besluit of jy gaan opstaan en baklei, en of jy die slagoffer gaan bly. Jy moet een of ander tyd ʼn keuse maak; jy kan nie in daai kringloop bly nie.”

Maree help nou vroue om hulself en hul identiteit te vind. “As jy mooi lyk, voel jy ook goed. Ek werk dus saam met vroue aan hul voorkoms en ook emosioneel. Ek motiveer hulle, want hulle weet hulle moet beter voel, maar hulle weet nie hoe om daar te kom nie.

“Ek was daar en nou is ek hier, en ek kan hulle wys hoe ek hier gekom het. Ek wil elke stap daar wees vir die vrou, want ek gee om. Die eerste stap is om die Here te vind. Dit was vir my moeilik om heeltemal aan die Here oor te gee. Dis nie vir my ʼn werk nie, maar ʼn passie en ʼn roeping om ʼn verskil in die lewe te maak.”

https://youtu.be/FAFlblQ8Q9o

 

 

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Anoniem ·

Ek weet – Jesus gee Jou krag, vat dit en DOEN wat JY DOEN ! Volhard in die GOEIE, ander het JOU nodig !!!

Wonder ·

Jy is n wonderlike voorbeeld vir baie van ons vrouens wat nie weet hoe om op te staan nie. Wens jou net die aller beste toe.

Sue ·

Glo my, die arme vrou het baie baie wil, krag en ondersteuning nodig. Mens se lewe bly maar net dieselfde agter toe deure en n verhouding is amper soo moeilik om te laat werk soos wat dit was om oor die aanvanklike verkragtings te kom. ?

Riekie ·

Toe Ek as ma weet daars fout met my dogter het Ek vele dokters terapeute dominees en vele Christelike beraders gesien en my oop gestel vir raad.. Dokters verwys jou na die sielkundige Sal weet, die sielkundige se jou kind is net stout en moeilik en probeer n neuroloog wat alle sterk pille probeer.. Onvergeefs. So word jy rond gestuur vir Jare.. Elke Julie trigger die seer en Dan probeer ons weer. Soos met Dood is hierdie ook ‘n Lang pad van Baie trane en verdriet, vergifnis in gebed. Daars geen boek behalwe God as geneesheer wat’ n mens van so diep wond kan genees nie.. Vir die vroue daar buite.. Daar is hulp by vroue wat die pad gestap het. Sterkte . Rene se Ma

Lola ·

Ek raak van voor af vies as ek dink my maatskaplike werker pel se kinders is ongemanierde, ongeskikte boelies en sy werk met ander mense se kinders!? Sielkundiges, maatskaplike werkers, hulle laat my koud, want elkeen het sy eie opinie en dit is seker waar die probleem inkom.

Rupert Ashford ·

Sterkte vir julle. In die laaste paragrafie is die antwoord. As die Oplossing nie daar begin nie, kan jy maar almal gaan sien wat jy wil…

Callie van der Merwe ·

Jy is n ware inspirasie vir almal. Mag dit met jou goed gaan Rene.

Baie sterkte vir jou ·

Jy is ‘n dapper vrou. Baie sterkte met jou lewe vorentoe.

Ruby ·

Rene, mag jy van krag tot krag gaan met Jesus se hand styf in joune.

Ek ken jou nie maar is ongelooflik trots op jou.

Hasie ·

Ek vra ook die vraag wat le roux vra, is die verkragters aangekla? Kan iemand hierop antwoorde gee?

Riekie ·

Hi.. Ons het die familie lid begrawe wat ‘n baie diep moelike tyd was. Die 2 de saak is by die polusie aan gegee. Geen suksesvolle arrestasies van verkragting en aanranding, was ooit suksesvolle nie.. Dis so moelike proses vir ‘n “victim”.’ ‘n Dr het met ondersoek vir ons reguit gese om nie sy tyd’ n Hof te mors nie. Ek het nog altyd gese dat daar werklik meer stap vir stap aan ons as dames, inligting beskikbaar gemaak kan word, pressies hoe die geregtelike stappe werk. Miskien Kan Maroela Media pressies in ons vroue maand so rubriek publiseer. Bv hoe werk die gereg
met verkragting. Hoe kry ‘n mens’ n interduk teen iemand wat jou aanrand, ens. Dit sal Baie vroue die self vertroue te kan gee om te kan praat as hulle net weet hoe om reg te werk te gaan. Asb help die dames daar buite.

Santie ·

So sien ‘n mens maar weer dat God altyd ‘n minus in ‘n plus kan omdraai.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.