Mishandelde pitbull dolgelukkig by nuwe eienaar

Cooper en sy nuwe eienaar gaan stap gereeld langs die strand (Foto: Cooper’s New Life, Facebook)

“Cooper is gelukkiger as ooit tevore.”

Só vertel Allan Perrins, woordvoerder van die Dierewelsynsvereniging, nadat Cooper, ʼn eenjarige pitbull-reun, Donderdag ʼn nuwe, permanente tuiste gekry het.

Cooper is einde verlede maand in ʼn beroerde toestand na die vereniging se Philippi-tak in Kaapstad gebring nadat gedeeltes van sy ore wreedaardig met ’n skêr afgesny is.

Maar dié hartseer is nou iets van die verlede. Cooper en sy nuwe eienaar, Suné Human van Hermanus, het reeds met hul eerste ontmoeting aanklank by mekaar gevind.

“Ek het in ʼn kort tydjie baie lief vir Cooper geword. Hy is soos my skaduwee. Hy is ʼn baie liefdevolle hond,” het Human vertel.

Cooper en Suné het dadelik aanklank by mekaar gevind (Foto: Cooper’s New Life, Facebook)

Human het vroeër vandeesmaand Cooper se foto in die media gesien en besluit sy wil hom aanneem. Sy glo die Here het hom oor haar pad gestuur. “Hy wou hê ek moes vir Cooper aanneem, want ons al twee is deur moeilike tye en sal mekaar kan heelmaak. Saam maak ons ʼn goeie span.”

Maroela Media het vroeër berig twee tieners van Mitchells Plain digby Kaapstad is vroeër vandeesmaand van dieremishandeling aangekla nadat hulle erken het dat hulle Cooper se ore geskend het. Hulle het die wonde daarna met vislyn toegewerk, maar sonder om enige verdowingsmiddels te gebruik.

Die tieners, onderskeidelik 19 en 17 jaar oud, het sowat twee weke later hul verklarings aangepas toe die polisie hulle ondervra het. Hulle ontken nou dat hulle Cooper se ore gesny het en voer aan hulle het iemand gevra om dit namens hulle te doen.

Volgens Perrins ondersoek die polisie ’n derde verdagte se moontlike betrokkenheid.

‘n Verminkte Cooper toe hy net by die dierewelsynsvereniging se Philippi-tak aangekom het (Foto: Verskaf)

“Ek kan net nie verstaan waarom hulle aanvanklik in hul beëdigde verklarings die misdaad erken het nie en dit daarna ewe skielik ontken nie,” sê Perrins.

Hy sê hy vermoed Cooper se ore is dalk nie met ’n skêr gesny nie, maar eerder met ’n skerp lem.

Vir Perrins was dit ’n bittersoet ervaring om Cooper aan sy nuwe eienaar te oorhandig nadat hy vir sowat ’n maand in die vereniging se sorg was.

“Hoewel ek dankbaar is dat Cooper ’n goeie huis gekry het, is ek terselfdertyd ook hartseer. Hy het in die kort tydjie diep in my hart ingekruip.

“Jy kan nie glo dit is dieselfde hond wat ’n maand gelede by ons aangekom het nie. Hy het getraumatiseerd met vrees in sy oë hier by ons aangekom. Nou kraai hy koning waar hy gaan.”

Human het intussen ’n spesiale Facebook-blad vir Cooper geskep om bewusmaking van pitbull- en hondegevegte te skep in ʼn poging om dit te help stuit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Leonie ·

Dis nou goeie nuus. So bly vir jou en Cooper. Elke hond verdien net die beste en ‘n goeie tweede kans Nadat hy so sleg deur die mensdom behandel is. Geniet elke oomblik..

Cobus ·

Pitbulls is lieflike honde en is ander aan jou as jou eie kind…mis my Neo erg nadat hy 2 jaar terug weggeraak het…one het hom 8 jaar gehad..

Elize ·

Dit is ‘n pragtige hond. My groot liefde is ‘n bullterrier. Myne het kanker gekry en moes ek haar laat uitsit wat nog ‘n gat in hart is. Impi was dierbaar en niemand het naby my hekke gekom nie. Vandat sy weg is is daar al drie keer by my ingebreek. Sal bitter graag weer ‘n bullterrier wil hê maar hulle is baie duur en het ek nie die geld nie. Sy was my beskermer en was ek nie bang omdat ek alleen bly nie

Pandora ·

Elize, dis fantasties dat jy so ‘n hart vir bullterriers het. Moet nie vergeet nie – dis nie net geregistreerde hondetelers wat bullterriers verkoop nie. Sluit aan by ‘n Bullterrier Facebookgroep, en jy gaan bes moontlik ‘n wonderlike vier-voetige vriend raakloop wat sakpas en hartpas is. :)

Ronel ·

kyk rond by jou naaste DBV of diereskuiling, dan betaal jy net ‘n aannemingsfooi, om by ‘n teler te koop dra net by tot die land se probleem, so vermy hulle in elkgeval. Kyk ook op FB sal daar ‘n groep wees vir Bullterriers, jy sal daar een kry, ek is seker.. sterkte:-)

isabelle ·

mense is wreed Ai ek is so bly dat sulke diere gered word en n beter lewe kry Dankie aan die SPCA wat gereeld tot die redding kom

Toy ·

Ag my dierbaarheid, kyk die gesiggie. So bly die hondekind het ‘n liefdevolle huis gekry. Hy verdien dit.

Smurf ·

Mooiste honne !! Ons is baie baie erg oor ons Popeye..ook n pitbul….die liefde vanself.As die weer net dreig om op te kom gaan kruip hy agter die bed weg dat net sy oe uitloer….so bang dat die hemel op sy kop gaan val.

Magda ·

Baie goeie nuus, hoop daai “tieners” gaan sommer vir n baie lang ruk by die DBV werk sonder vegoeding en NA ure – want duidelik is hulle vervelig en kort iets om hulle besig te hou. Bly wees hulle is nie my kinders nie.

Genis ·

Ek is so bly die hondekind het n goeie einaar gekry, en kan liefde beleef… Die mens gaan nog hard gestraf word vir wat hulle aan diere doen… Julle wat diere so mishandle, julle dag kom!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.