Mishandelde vrou, kinders van plaas gered

plaas-noordwes

Argieffoto: Johni Edwards

Die polisie het Woensdag op ʼn plaas in Keimoes in die Noord-Kaap toegeslaan nadat berigte ontvang is van ʼn man wat sy vrou en drie stiefkinders glo teen hul wil aanhou en mishandel. Die 40-jarige man is in hegtenis geneem en sal na verwagting eersdaags in die landdroshof op die dorp verskyn.

Die man het na bewering sy 15-jarige stiefdogter seksueel mishandel en sy 10-jarige stiefseun aangerand. Hy het ook, na wat verneem word, sy vrou sedert verlede maand emosioneel mishandel.

Kol. Mashay Gamieldien, woordvoerder van die polisie, sê ʼn familielid van die vrou het brig. Nicky Mills, die provinsiale hoof van die Noord-Kaapse polisie-eenheid teen gesinsgeweld, kindermishandeling en seksuele misdrywe (FCS), van dié voorval in kennis gestel. ʼn Multidissiplinêre span bestaande uit lede van die polisie in Keimoes, die polisie se honde-eenheid in Upington en lede van Kakamas se FCS-eenheid is saamgestel en na die plaas gestuur.

“Met die span se aankoms op die plaas het hulle die stiefpa in besit van ʼn pistool en tuisgemaakte geweer aangetref. Die pistool se reeksnommer was afgevyl,” sê Gamieldien. “Polisielede het ook 508 rondes ammunisie van ʼn 9 mm-pistool, 60 rondes ammunisie van ʼn 6,35 mm-pistool, vyf R5-magasyne en vier 9 mm-magasyne ontdek.”

Die stiefpa is in hegtenis geneem en aangekla van die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie en die oortreding van die Wet op Gesinsgeweld. Dit sluit emosionele mishandeling, seksuele misbruik en aanranding in.

Lede van Kakamas se FCS-eenheid het die vrou en haar kinders van die plaas verwyder en in ’n plek van veiligheid geplaas, waar hulle die nodige ondersteuning en hulp sal ontvang.

Genl.maj. Henriëtte de Waal, waarnemende provinsiale kommissaris in die Noord-Kaap, het die multidissiplinêre span se vinnige optrede geloof. Sy het ook ’n ernstige waarskuwing gerig aan oortreders wat enige vorm van geslagsgeweld pleeg. “Sulke gedrag sal nie geduld word nie,” sê sy.

Sy het ook ’n beroep op slagoffers gedoen om die stilte te verbreek en hul mishandelaars aan te gee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Misky ·

Dis ontstellend om sulke dinge te hoor. Dink daar is baie gevalle daarbuite wat nie aangemeld word of aangemeld KAN word nie. Baie vroue en kinders is gevangene in hul eie huise. Hoop die man kry wat hom toekom

Casper ·

Dit is kommerwekkend.Waar het hy dieR5 magasyne gekry.Wat se tuisgemaakte geweer was dit. Waar het hy die 9mm pistool gekry en soveel ammunisie.Dit was nie vir selfverdediging nie.Hy moes dit iewers onwettig bekom het.

VaalDonkie ·

Magasyne is nie ‘n ding wat gereguleer word nie. Jy kan by enige geweerwinkel instap en ‘n R5/LM5 magasyn koop. Maar jy kan nie sonder ‘n lisensie enige ammunisie koop nie, so dis oukei. Ek sou nie daaroor stres nie.

Kokerboom ·

Die emosionele skade is onberekenbaar!!!!!So hartseer!!!

Genis ·

Hoe wreed en onmenslik… Dis regtig siek verby, hoe gaan die kinders herstel van sulke gru misdade?

Jeanette ·

Soos enige ander verhouding, party mense verander net heeltemal as jy eers getroud is. Ek weet waarvan ek praat ek en my man is al 36jaar getroud en ek is nog steeds die esel wat onder sy skerp vuil tong deurloop, die ding is jy hoop en bid altyd dinge sal verbeter ai toggie as ek net lankal my tassie gepak het. Nou is ek 56 en waarheen nou, darem nog gesond om te werk maar glo my dit raak moeiliker en moeiliker. Maar ek gaan maar my tassie pak voordat ek met my alie in die tronk sit vir moord. Dis net hoe mens voel vat ‘n geweer en skiet daai mond wat jou so vloek en skree uit mekaar uit. Dis moeilik maar mens moet daar uit. Ek weet hier is dames wat hier lees en dieselfde deurgaan as ek so al wat ek kan se hou by jou besluit en voer dit uit. Sterkte!

Korrelkop ·

Dankie aan die polisie eenhede vir die reddingsoperasie van die familie. Maljan moet maar boet vir sy sondes!

Wat op dees Aarde ·

Die wêreld is mal. Sterkte aan die vrou en kinders. My kinderjare was ook tragies met my stiefpa wat my ma mishandel het. Ek was 10 jaar oud toe ek hom met ‘n mes gesteek het (nee nie dood nie) om my ma te beskerm. Mens verwerk nooit die trauma nie. Ek is nou 31 en kry nogsteeds nagmerries van daai aand.

Louise ·

@Vaaldonkie
Die verhouding begin beslis nie met die geweer op die tafel en emosinele behandeling met die eerste instap nie.
Neee nee nee… Dis gewoonlik die mense wat jy dit die MINSTE sal van verwag, daai wat oortyds met die hening KWAS werk, wat altyd MOOI praatjies voor mense maak. MAAR as daai persoon jou eers in sy BOSE greep het agter DAAI toe deur. Neewat dan raak jou wereld DONKER en alleen.
Maklik om te se stap UIT. Glo vir my die lewe is baie meer gekompliseerd as dit. Wanneer n persoon self waarde verloor, dan loop enige logiese denke by die agter deur uit.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.