Mislukte transitorooftog: Verdagte was oud-polisieman

Vyf verdagtes is in Secunda, Mpumalanga in hegtenis geneem toe die Valke 'n vermeende transito-rooftog gefnuik het Foto: Verskaf

Vyf verdagtes is in Secunda, Mpumalanga in hegtenis geneem toe die Valke ‘n vermeende transito-rooftog gefnuik het Foto: Verskaf

Een van die verdagtes wat Maandagaand doodgeskiet is in ʼn skietery tussen die polisie en ʼn transitorooftog-bende in Secunda, Mpumalanga, was ʼn polisiebeampte wat vroeër afgedank is nadat hy skuldig bevind is op aanklag van poging tot roof.

Maroela Media het vroeër berig vyf mense, onder wie vier verdagtes, is dood nadat lede van die polisie se misdaad-intelligensie-eenheid, die taakmag en die Valke ʼn transitorooftog naby Secunda gefnuik het. Die Valke het gesê hulle het Maandag inligting ontvang oor ʼn sindikaat wat glo beplan het om ʼn SBV-kontantwa te beroof. Die vermeende rowers is omstreeks 17:00 naby Secunda voorgelê en ʼn skietgeveg het tussen die beamptes en die verdagtes uitgebreek. Vier verdagtes is op die toneel dood en vyf verdagtes is in hegtenis geneem.

Lt.kol. Robert Netshiunda, woordvoerder van die Valke, het gesê twee verdagtes is tydens die skietery gewond.

“Die bestuurder van die polisievoertuig het tydens die hoëspoedjaagtog beheer verloor oor die voertuig en dit het omgeslaan,” het Netshiunda gesê. “Hy is op slag dood. Twee beamptes het die ongeluk oorleef, maar hulle het kritieke beserings opgedoen.”

Hulle is met ʼn helikopter na ʼn hospitaal geneem waar hulle behandeling ontvang.

“Die twee beseerde verdagtes is onder polisiebewaking in die hospitaal,” het Netshiunda bygevoeg.

Die polisiebeampte wat skuldig bevind is aan poging tot roof, is vroeër tot 10 jaar tronkstraf gevonnis.

Die polisie het beslag gelê op vier voertuie, twee AK47’s, een R5-geweer en twee pistole. “Een van die pistole is tydens ʼn rooftog in Marble Hall gebruik.”

Die verdagtes sal na verwagting Woensdag in die Evander-landdroshof verskyn op aanklag van moord en poging tot roof.

Lt.genl. Mthandazo Ntlemeza, nasionale hoof van die Valke, het sy meegevoel betuig met die families van die polisiebeampte wat tydens die motorongeluk oorlede is. Hy het die beamptes in die hospitaal ʼn spoedige beterskap toegewens en hulle beskryf as “ware polisiebeamptes wat hul lewens op die spel geplaas het om te beskerm en te dien”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Ronél Wall ·

Verstaan ek die berig verkeerd, of is een van die manne wat doodgeskiet is, tevore tot 10 jaar tronkstraf gevonnis op ‘n klag van poging tot roof? Hoekom was hy dan nie in die tronk nie? Of was dit lank terug en hy reeds weer op parool vrygelaat?

Sune van Heerden ·

Dagsê Ronél

Jy het inderdaad die berig reg verstaan. Lt.kol. Robert Netshiunda het nie bekend gemaak wanneer die voormalige polisiebeampte afgedank of gevonnis is nie.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Karma ·

Sê maar die pennie vat lank om te val, maar ek verstaan die storie ook nie lekker nie. Die polisieman was lid van die SAPD. Was hy nou in die polisievoertuig wat omgeslaan het en een van die polisiemanne dood gelaat het, wat beteken dat ‘n veroordeelde krimineel in diens van die SAPD is (maar daar is maar seker baie van hulle!). Of was hy nou een van die verdagtes wat doodgeskiet is deur die SAPD? Wat ookal die geval, waarom was hy nie in die tronk nadat hy skuldig bevind is aan poging tot roof nie, of was hy uit op parool of het hy sy tronkstraf al uitgedien? Very confusing ………………………

Sune van Heerden ·

Dagsê Karma

Ons vra om verskoning indien die berig verwarrend is. Die polisiebeampte wat in die motorongeluk oorlede is, was ‘n aktiewe lid van die polisie. Een van die verdagtes, wat na bewering deel was van die transitoroof-bende, en tydens die voorval doodgeskiet is, was ‘n voormalige polisiebeampte wat vantevore skuldig bevind is en daarna afgedank is. Dit is nie duidelik wanneer die tronkstraf opgelê is nie. Dit is dus nie duidelik of hy ten tyde van die voorval op parool vrygelaat was of reeds sy tronkstraf uitgedien het nie.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

gatiep ·

Hoe kan ek daai blurr van hulle gesigte af kry. Ingeval hulle weer uit kom.

Carel ·

Die Polisie bly maar ‘n bron van misdaad, ons lees dit daagliks in die pers.

Janneman ·

Knap gedaan aan die taakmag. Die skrikwekkende werklikheid is die aantal misdade wat plaasvind in elke dorp, elke voorstad en op die platteland. Ek glo nie mense besef hoe groot die misdaad probleem in ons land is nie!
Dit word nou gesien as n beter opsie tot lae besoliging omdat die kanse van arrestasie omtrent nul is en die die ure buigbaar is. Misdaad in ons land kan slegs vasgevat word wanneer daar n politieke wil is. Dit wil se eks zuma, baantjies vir boeties, regstellende aksie, ens.

Lance ·

Die land is vrot van misdaad die polisie neem self deel aan dit ….maar anc doen niks nie …te besig om onder mekaar te stoei oor posisies en geld en om spore te probeer dood vee. SA is in n GROOT gemors …met gemiddeld 37 moorde n dag gaan dit erger in SA as in die midde ooste!

GES ·

Ek hoop die wat dit nie gemaak het nie, dit hulle laaste poging was.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.