Misnoeë oor goedkeuring van Nkandla-verslag

Pres. Jacob Zuma se woning in Nkandla, KwaZulu-Natal

Pres. Jacob Zuma se woning in Nkandla, KwaZulu-Natal

Verskeie opposisiepartye het hul misnoeë uitgespreek nadat die ANC Donderdag sy meerderheidstem gebruik het om die ad hoc-komitee se verslag oor Nkandla amptelik te aanvaar. Dié verslag skeld president Jacob Zuma vry van enige blaam vir die opknappings van R246 miljoen aan sy persoonlike woning by Nkandla in KwaZulu-Natal.

Mmusi Maimane, parlementêre leier van die DA, het gesê die aanvaarding is ʼn bespotting van parlementêre toesig. Hy het Donderdag tydens ʼn vurige debat oor die verslag tydens die Nasionale Vergadering gesê dat Zuma sy grondwetlike plig verontagsaam en dat die ANC sy “sondes” goedkeur.

Hy het gesê die ANC-lede van die komitee het geen begeerte getoon om agter die waarheid van Nkandla te kom nie, en het “blindelings lojaal” aan hul leier gebly. “Dit was weens hul duidelike begeerte om die president toe te laat om sy aanspreeklikheid te ontduik dat die lede van die opposisiepartye van die verrigtinge onttrek het,” het hy onder andere gesê.

Dr. Corné Mulder, die VF Plus se hoofsweep, het gesê die goedkeuring is ʼn blatante poging om Zuma te verontskuldig. Die party het die verslag in die parlement opgeskeur om sy afkeur daarin te toon.

Mulder, wat verskeie kere tydens die verrigtinge deur die ANC onderbreek is, het Zuma se optrede met dié van die Franse koning Louis XIV vergelyk wat onder meer gesê het: “Ek is die staat”, en “Dit is wettig, want dit is hoe ek dit wil hê”.

Volgens Mulder tree Zuma se volgelinge ook op asof “die koning niks verkeerd kan doen nie”.

In ʼn ongewone aanbieding het Mulder onder meer ʼn groot foto van Nkandla vertoon, asook ʼn foto van twee lede van die ad hoc-komitee waar hulle besig is om hulle naels ten tyde van die sitting te poleer. “Dít is hoe ernstig die komitee was oor die ondersoek wat hulle moes doen na R246 miljoen van die belastingbetalers se geld wat vermors is,” het hy hierop gesê.

Oor die Nkandla-foto het Mulder gesê Suid-Afrika se staatspresident is waarskynlik die “gelukkigste man in die wêreld” aangesien hy ʼn “miljoen rand lotto” nie net een keer gewen het nie, maar “246 keer agtereenvolgens”.

Hy het bygevoeg die verslag is bloot ʼn poging om Zuma te verontskuldig en dat daar “net een ding” is wat met die verslag gedoen kan word, waarop hy die verslag aan stukke geskeur het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

alet ·

Die hele spul van hulle weet as hulle teen Zuma draai het nie een werk more nie want hulle ry die sous trein saam met hom.Hy is die vlagman en hulle die springhase want as hy se spring vra hulle hoe hoog.Waarom wys hy nie sy gesig in die Parlement of hou ou Mackie hom toe in n baka kombers dat hy nie moet koud kry .wanr Suid Afrika is baie warm vir hom agterbaks se moses. Nie n leier se kleintoontjie werd nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.