
Tom Cruise speel al vir sowat 25 jaar die rol van Ethan Hunt in Mission: Impossible. (Foto: Alex Edelman/AFP)
Inwoners van Hoedspruit sal dalk binnekort die Hollywood-hartebreker Tom Cruise van naderby kan bekyk. Dit is omdat die agtste aflewering van die aksiebelaaide Mission: Impossible-filmreeks na verwagting eersdaags in dele van Suid-Afrika verfilm sal word.
ʼn Plaaslike lodge in Hoedspruit, Limpopo, het foto’s van vliegtuie gedeel wat na bewering tydens die verfilming van dié filmreeks gebruik gaan word.
“Maak gereed, Hoedspruit!” skryf The Boabab Bush Lodge.
“Hierdie vliegtuie is afgelewer vir die verfilming van die nuwe Mission: Impossible-film, met Tom Cruise in die hoofrol.”
Get ready Hoedspruit! These planes have arrived for the filming of the new Mission Impossible film, starring Tom Cruise. Have you spotted the star yet? @ The Baobab Bush Lodge https://t.co/vrSHCMmov8
— The Baobab Bush Lodge (@thebaobab_lodge) February 8, 2022
Internasionale filmtreffers soos Holiday in the Wild en ʼn reeks ander flieks is al in Hoedspruit verfilm.
Variety het reeds vroeër berig dat die regie van Mission: Impossible 8 deur Christopher McQuarrie behartig gaan word. Tom Cruise sal ook weer die rol van die agent Ethan Hunt vertolk.
Besonderhede oor die verfilming van Mission: Impossible 8 is nog nie bekend nie, maar volgens Variety gaan dié film wel op Mission: Impossible 7, wat volgende jaar bekend gestel gaan word, volg.
Dié twee flieks sal dan die laaste in die filmreeks wees.
Cruise speel al vir sowat 25 jaar die rol van Hunt nadat Mission: Impossible vir die eerste keer in 1996 vrygestel is.
Die flieks se verfilming is sedert 2020 geweldig vertraag deur die Covid-19-pandemie en sou aanvanklik verlede jaar en vanjaar al vrygestel word, maar sal nou eerder in 2023 en 2024 te siene wees.
Die hele filmreeks het reeds meer as $3 miljard (sowat R45 miljard) verdien.
- Van die vliegtuie wat na bewering in die nuutste film gebruik gaan word. (Foto: The Baobab Bush Lodge/Facebook)
- Van die vliegtuie wat na bewering in die nuutste film gebruik gaan word. (Foto: The Baobab Bush Lodge/Facebook)
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
18 Kommentare
Fals nuus, hulle skiet in die Kaap en Durban
Hey Tom Cruize…. jy gaan dit maklik hier reg kry, in dié land van ons, is alles possible! Dit sal nie eens n mission wees nie! Easy peasy… :-)
Skat,….jy moet pak, ons gaan Hoedspruit toe!! ;-)
Goeie nuus, hoop nie hulle word ook beroof terwyl hulle hier is nie!
Die naam pas uitstekend met die gemors situasie in SA .