‘Misverstand’ lei tot Delportshoop-geweld

polisie-huisroof-crime

Argieffoto: SAPD/Facebook

Die departement van onderwys in die Noord-Kaap het gesê die situasie by Dikgatlong Hoërskool en Hoërskool Delportshoop is weer rustig nadat daar Vrydagmiddag geweld by Hoërskool Delportshoop uitgebreek het toe leerders en ouers die skool bestorm en klippe gegooi en klaskamers aan die brand gesteek het.

Hoewel die skool se naam Hoërskool Delportshoop is, is daar leerders van gr. 1 tot gr. 12 in dié skool.

Geoffrey van der Merwe, woordvoerder van die Noord-Kaapse departement van onderwys, het aan Maroela Media verduidelik die betoging het gespruit uit ʼn misverstand tussen die skool en die betogers.

“Die departement skuif die afgelope sewe jaar [Afrikaanse] matriekleerders van Dikgatlong Hoërskool na Hoërskool Delportshoop as gevolg van die klein hoeveelheid Afrikaanse leerders [by Dikgatlong Hoërskool]. Dit was meer lewensvatbaar vir die departement om die leerders by Delportshoop te akkommodeer waar daar vir hulle plek is,” het Van der Merwe gesê.

Volgens hom het die hoof van Dikgatlong die nuus dat die 22 matriekleerders na Delportshoop geskuif mag word aan die leerders oorgedra, maar het dié nuus skynbaar nooit die ouers bereik nie.

“Daarom sê ons dié oproer was ʼn misverstand.”

Wynand Boshoff, die VF Plus se leier in die Noord-Kaap, het aan Maroela Media gesê die hele kwessie is eintlik ʼn beplanningsprobleem.

“Die oorsaak van die probleem is ʼn onvoldoende vermoë by die nabygeleë dubbelmedium-hoërskool [Dikgatlong] om aan die behoeftes van Afrikaanssprekende matriekleerders te voldoen. Hoërskool Delportshoop moes daarom oor die jare reeds verskeie kere intree om ʼn krisis af te weer. Vanjaar het die Noord-Kaapse onderwysdepartement na bewering die versekering gegee dat die dubbelmediumskool voldoende personeel sou hê,” het Boshoff gesê.

Volgens Boshoff was dit toe nie die geval nie en moes Delportshoop weer instaan. Die probleemvakke is volgens hom ekonomie en geskiedenis wat Dikgatlong aanbied, maar Delportshoop nie. Delportshoop moes glo elke jaar onderwysers kry om die vakke aan te bied en roosters moes daarvolgens aangepas word.

Volgens hom gaan die leerders tot gr. 11 in Engels skool, maar wil hulle graag in hul matriekjaar in Afrikaans onderrig word.

Van der Merwe het gesê die departement ondersoek elke moontlike oplossing vir die saak. “Ons moedig leerders en onderwysers aan wat Vrydag deur die geweld geraak is om klagte te lê. Ons doen ook ʼn beroep op die gemeenskap om geduldig te bly en hul kinders die geleentheid te gee om onderrig te ontvang terwyl die departement die saak hanteer.”

Van der Merwe het aan Maroela Media gesê daar is 656 leerders in Dikgatlong en 678 leerders in Hoërskool Delportshoop.

Boshoff het gesê dit is nie ʼn kwessie van ras of die weerhouding van onderwys nie. “Slegs sowat 30 van Delportshoop se leerders is wit. Dit gaan net oor die swak beplanning,” het Boshoff gesê.

Leerders is glo Vrydag in klasse toegesluit vir hul eie beskerming. Daar is buitebande aan die brand gesteek by die skool en klippe is gegooi.

Kapt. Sergio Kock, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê een saak van openbare geweld en twee sake van aanranding is ná Vrydag se onluste aanhangig gemaak.

“’n Mansonderwyser is beseer toe een van die klippe wat gegooi is hom deur ʼn venster getref het. Twee skoliere was ook betrokke in ʼn geveg waartydens ʼn 16-jarige [met ʼn skerp voorwerp] gesteek is,” het Kock gesê.

Niemand is nog in verband met die betoging in hegtenis geneem nie.

Die polisie se ondersoek duur voort.

Enigiemand met meer inligting oor die voorval kan ao. Johannes Brace by 060 972 3270 bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Oscar ·

WIE BETAAL NOU VIR DIE MISVERSTAND? Al die vandalisme en vernietiging van eiendom en aanrandings?

Renette van der Walt ·

Leerdergetalle in berig is foutief. Hoërskool Delportshoop het 710 leerders en Dikgatlong 580

Renette van der Walt ·

Die leerdergetalle van die betrokke skole is foutief in die berig. Hoërskool Delportshoop het 710 leerders en Dikgatlong bykans 580.

Landi Slatter ·

Dagsê Renette

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die oorsig, die berig is gewysig om die korrekte getalle te weerspieël.

Groetnis
Landi nms Maroela Media

Anoniem ·

Dit maak nie sin nie. Hoekom sal ‘n kind tot Gr 11 in Engels wil skoolgaan, maar dan skielik Gr 12 in Afrikaans wil doen?

CH ·

Inligting is verkeerd, my kind gaan in Hoërskool Delportshoop skool. 1ste is daar kinders van 4 jaar af in ons skool ons het n Gr 0 tot Gr 12. Daar is oor die 700 kinders in ons skool, skool gebou vir ver minder kinders. En Vrydag was geen misverstand nie. Hul doel was om ons skool te brand, en gerugte tussen die gemeentskap is dat hulle weer sal kom om klaar te maak wat hulle begin het. 22 kinders klink nie baie nie, maar daai kinders het ons kinders seer gemaak, ons onderwysers seer gemaak, hoe kan daar van hulle verwag word om daai kinders met ope arms te verwelkom. Hulle is nou al bang om skool toe te gaan… wat as hulle hoor daai kids is nou daar?

Hans ·

Ek verstaan nie regtig hoe dit werk nie, daar is nie skole nie maar ons wil dit wat wel daar is en funksioneer afbrand. Wat het die skool en sy mense aan die gedoen wat nou so wraaksugtig is. Tog is dit al taal wat hulle ken, dit is hoe hulle grootword, ook nou nie almal van hulle daar is tog van hulle wat dit ook afkeur en nie deel wil wees van sulke dade nie. Ek weet nie meer wat om te dink nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.