MIV-positiewe ma skenk deel van lewer aan terminaal siek baba

Argieffoto.

ʼn Gedeelte van die lewer van ʼn vrou wat MIV-positief is, is in haar terminaal siek baba oorgeplant nadat dokters besluit het dat die moontlikheid om die baba se lewe te red swaarder weeg as die risiko dat die kind dalk met MIV besmet kan word.

Die span van die Wits Donald Gordon- mediese sentrum in Johannesburg het gesê dat die ma en die kind herstel het ná die oorplanting in 2017, maar dat dit nog nie duidelik is of die kind die virus het wat vigs veroorsaak nie. Die baba is 13 maande oud.

Die span kundiges van die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) het die prosedure verduidelik in ʼn artikel wat Donderdag in die AIDS-joernaal verskyn het.

Volgens die universiteit is dit vermoedelik die eerste keer ter wêreld dat daar bewustelik ʼn leweroorplanting gedoen word waar die donateur ʼn MIV-lyer is op ʼn ontvanger sonder die virus. Die universiteit meen die sukses van die oorplanting baan die weg vir ʼn “potensiële nuwe poel van lewende donateurs wat meer lewens kan red”.

Volgens die kundiges is dit moontlik dat die medikasie wat voor die oorplanting aan die kind gegee is die oordrag van MIV kon keer hoewel dit eers mettertyd sal duidelik word. Volgens die artikel was ʼn lewer van ʼn donateur sonder MIV nie beskikbaar nie in Suid-Afrika waar daar ʼn chroniese tekort aan organe vir oorplanting is.

Die ma wat op antiretrovirale middels is, het by talle geleenthede gevra of sy nie ʼn deel van haar eie lewer kan skenk om haar kind se lewe te red nie.

Dr. Jean Botha, die dokter wat die oorplanting gedoen het, het gesê in die weke ná die oorplanting het hulle gedink die kind is MIV-positief aangesien hul MIV-teenliggaampies waargeneem het. Verdere toetse deur MIV-spesialiste by die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) het egter nie enige aktiewe MIV-infeksie by die kind opgetel nie.

Suid-Afrika het die wêreld se grootste antiretrovirale terapieprogram. Dr. Anthony Fauci, hoof van aansteeklike siektes by die VSA se nasionale instituut van gesondheid en leier op die MIV-gebied, het gesê as dit ʼn keuse is tussen dood en om ʼn redelike goeie, kwaliteit lewe te lei met ʼn behandelbare infeksie dink hy die kundiges het ʼn billike besluit geneem.

Fauci het wel beklemtoon dat dié geval nie nou die groen lig gee vir die benadering om weer probeer te word nie. “Alles moet op ʼn geval-tot-geval basis plaasvind.”

Daar was al gevalle waartydens MIV-positiewe organe per ongeluk na MIV-negatiewe pasiënte oorgeplant is. In die VSA het die Johns Hopkins-universiteit onlangs die weg gebaan vir oorplantings van MIV-positiewe donateurs op MIV-positiewe ontvangers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Casper Labuschagne ·

Dit was ‘n billike besluit in die lig daarvan dat babas se immuunstelsel inderdaad in enkele gevalle die MIV virus kan oorwin. Maar daar was onlangs ‘n berig oor ‘n jong vrou wat gesterf het en dat vier ontvangers van haar organe in ‘n afsienbare tydperk na die oorplanting ernstige vorme van kanker opgedoen het terwyl ‘n vyfde ontvanger kort na die oorplanting vanweë komplikasies oorlede is. Dit laat opnuut vrae ontstaan oor die toetsing van geskikte organe vir skenking asook oor die eintlike oorsake of oordrag van kanker.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.