MiWay-e-pos: Dís hoekom ons nie stappe doen nie

René Otto, MiWay se uitvoerende hoof (Foto: MiWay)

René Otto, MiWay se uitvoerende hoof, het Maandag bekend gemaak waarom die korttermynversekeraar besluit het om nie stappe te doen teen ʼn persoon wat ʼn vervalste e-pos van die maatskappy op sosiale media rondgestuur het nie.

Maroela Media het vroeër berig ʼn vervalste e-pos, met rassistiese uitlatings, is op sosiale media rondgestuur deur ʼn ontstoke kliënt wie se eis afgekeur is. Die kliënt is later geïdentifiseer as Mondli Madlala.

“Die voorval het ongekende seer en woede veroorsaak by alle besorgde burgers, maar dit het uiteindelik ontwikkel in ʼn storie van vergifnis, hoop en versoening,” het Otto in ʼn verklaring gesê. “Dit het ook tot persoonlike groei vir myself en talle van my kollegas gelei.

“Die maklike deel was om die oortreder te vang. Die moeilike deel was om te besluit watter stappe volgende gedoen sou word,” het hy verduidelik. “Die maklikste opsie sou bloot wees om regstappe te doen. Die uitdaging was egter om die alternatiewe te oorweeg en die spesifieke omstandighede van die saak in ag te neem om die huidige negatiewe kringloop van rassehaat in die land te breek.

“Ons jong demokrasie het ʼn legendariese voorbeeld van versoening en vergifnis in Nelson Mandela. Ons mag dit nie vergeet nie. Hy het besluit om moordenaars in die apartheidsregime te vergewe vir die hoop en droom van ʼn verenigde, versoende nasie.

“Dit beteken egter nie dat ons blatante rassisme onder die mat kan invee nie. Dit moet aan die lig gebring word en met minagting verwerp word. Die les wat ons uit die Waarheid- en Versoeningskommissie geleer het, is dat die waarheid aan die lig gebring moet word en opregte berou getoon moet word voor versoening kan plaasvind.

“Ek het mnr. Madlala gekontak en hom gevra om die gemors wat hy veroorsaak het, te bespreek. Ek wou verstaan wat hom gemotiveer het om só irrasioneel op te tree. Ek wou ook weet of hy van mening is dat hy swak behandel is deur MiWay se personeel of dat hy enige rassisme beleef het. Hy het ingestem om met my te vergader. Ek was onder die indruk dat hy onder geweldige druk is.

Die vervalste e-pos van MiWay wat op sosiale media versprei is

“Madlala is ʼn 32-jarige entrepreneur wat drie poste beklee.

“Dit was ʼn geweldige finansiële knou toe sy eis afgekeur is. Sy ongelukkigheid is aangevuur toe MiWay versuim het om opnames van gesprekke met die versekeraar aan hom te stuur, soos hy versoek het. Dit was ʼn fout. Ons het dit aan die ombudsman gestuur, maar versuim om dit aan hom te stuur. Dit het egter nie ʼn invloed op die meriete van die saak nie – die ombudsman het steeds in ons guns beslis. Maar ek kan verstaan dat ons tekort aan dienslewering hom geweldig ontstel het. Ons sal nooit weet of sy gedrag meer rasioneel sou wees indien ons wel die opnames vir hom gestuur het nie. Daar is egter steeds geen regverdiging vir sy irrasionele en onaanvaarbare gedrag nie. Dit is egter, in my mening, versagtende omstandighede wat in gedagte gehou moet word.

“Mnr. Madlala het my in die oë gekyk en my opreg om verskoning gevra vir sy roekelose gedrag. Hy wou vergoed vir sy optrede wat sy eie en MiWay se wêreld hel gemaak het. Hy het ook aangebied om om verskoning te vra vir die twee onskuldige personeellede wat in die vervalste e-pos geïmpliseer is, en aan die land dat hy rassehaat aangevuur het. Ek glo sy berou is opreg.

“Mnr. Madlala het ook ingestem om ʼn sterk boodskap teen rassisme uit te stuur en die misbruik van sosiale media, en om oor hierdie onderwerpe te gesels by skole waar MiWay gemeenskapsprogramme het.

“Ek was dankbaar om te hoor dat mnr. Madlala nooit rassisme beleef het deur die personeel van MiWay nie.

“Ek het tot die gevolgtrekking gekom dat mnr. Madlala nie ʼn sosialemedia-terroris is nie, maar eerder ʼn impulsiewe jong man wat ʼn vreeslike oordeelsfout begaan het wat hom nog lank gaan bybly. Ek het gevoel sy verskoning is opreg en ek het dit dadelik aanvaar. Die wêreld kan nie sonder vergifnis funksioneer nie. ʼn Benadering van ‘ʼn oog vir ʼn oog’ lei net tot meer geweld, onverdraagsaamheid, haat en oorlog. Vergifnis, aan die ander kant, maak egter die deur oop vir hoop en versoening.

“Die feit bly staan: hy het die wet oortree en twee onskuldige mense geïmpliseer wat haatpos en doodsdreigemente ontvang het as gevolg van irrasionele gedrag. Ons kan dit nooit goedkeur nie.

“Ek het besluit om nie mnr. Madlala te vervolg of ʼn siviele geding te begin nie, vir ʼn aantal redes, naamlik:

“MiWay het bygedra tot sy woede deur nie die opnames aan hom te stuur soos versoek nie. Ek haat dit wanneer groot maatskappye versuim om verantwoordelikheid te aanvaar vir hul foute. Ons werk met mense, en mense maak foute. As jy ʼn fout gemaak het, erken dit, neem regstellende aksie en beweeg vorentoe.

“Mnr. Madlala het ʼn moeilike les geleer en hy sal die gevolge moet dra. Hy kan moontlik sy werk verloor en sal sukkel om in die vervolg ʼn ander werk te kry. Hy sal altyd verbind word met hierdie voorval. Hy sal die gevolge moet dra op sosiale media. Google vergeet nie.

“Mnr. Madlala het die wederregtelikheid van sy optrede erken en aan MiWay, die twee personeellede en die land om verskoning gevra. Hy het opregte berou getoon. Hy het ook ingestem om in die openbaar teen rassisme en die gevare van sosiale media te praat.

“Die twee geïmpliseerde personeellede het sy verskoning aanvaar (hy moet nog persoonlik vir hulle om verskoning vra) en hulle het aangedui dat hulle hom nie wil dagvaar nie (ek salueer hulle vir hul ongelooflike vrygewige gees).

“Die skade aan MiWay se handelsmerk, indien dit gemeet word teen die polisse wat gekanselleer is, is gelukkig onbeduidend. Tyd sal leer wat die langtermynimpak sal wees, maar ons sien nie ʼn groot hoeveelheid van kliënte wat hul polisse kanselleer nie.

“Ek het gevoel dit is nie in die publiek (of MiWay) se belang om uitgerekte regsprosesse te volg wat moontlik rassespanning in die land sal vererger nie.

“Laastens, MiWay se onskuld is suksesvol bewys.

“Het geregtigheid geskied? Ek dink so. Geregtigheid is nie iets wat net in ʼn hof kan geskied nie, en vergelding is nie altyd behoorlik vir geregtigheid om te seëvier nie. Ek glo mnr. Madlala het baie gely – emosioneel, sosiaal en moontlik ook finansieel. Ek glo hy is reeds gerehabiliteer en dat hy moontlik ʼn ambassadeur kan word teen rassisme en die misbruik van sosiale media. Die feit dat hy so vinnig gevang is, sal ook as ʼn afskrikmiddel dien teen diegene wat moontlik soortgelyke sinnelose dade oorweeg het.

“Ek aanvaar dat nie almal met my sal saamstem nie, en dit kan ek begryp.

“Dit is ʼn ingewikkelde saak met verskillende hoeke wat alles oorweeg moet word. Ons kyk almal na die wêreld met ons unieke perspektiewe, wat beteken dat ons na dieselfde situasie kan kyk, maar iets anders kan sien. As ons verdraagsaam is vir ons verskille en luister en daaroor nadink, kan ons mekaar moontlik op ʼn menslike vlak vind en die wêreld ʼn beter plek maak.

“Wat van die twee onskuldige personeellede wat haatpos en doodsdreigemente ontvang het? Die blote feit dat hulle besluit het om hom nie te dagvaar nie, beteken dat hulle nie baie ernstig gely het nie. Daar is nog baie wat gedoen moet word om die skade te herstel. Ek is toegewyd om hierdie proses te oorsien.

“ʼn Groot les uit hierdie voorval vir my, is om nooit die rassesensitiwiteit in die land te onderskat nie, en om selfs harder te werk om rasseharmonie te bevorder. Alhoewel daar bevind is dat MiWay nie rassisties is nie, sal dit verkeerd wees van ons om nie onsself af te vra of ons nog meer kon gedoen het om transformasie te bevorder nie.

“Nog ʼn les is die belangrikheid om ʼn sterk handelsmerk en korporatiewe kultuur te bou en om goeie en lojale mense te hê. Dit help om deur die storm te kom. Wat met MiWay gebeur het, kan met enige onderneming gebeur…

“Aan die positiewe kant wys hierdie krisis weereens die gehalte van die wonderlike MiWay-mense wat lang ure werk en hard baklei om die handelsmerk te verdedig, en dit versprei ook die boodskap van die wonderlik suksesverhaal van MiWay.

“Hierdie voorval het ons almal uitgedaag om na te dink oor die tipe wêreld waarin ons wil woon en wat ons vir ons kinders en kleinkinders wil nalaat.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

41 Kommentare

Piet Pompies ·

Rassisme is volgens wetgewing strafbaar, al wil MiWay nie stappe neem is die wetgewer veronderstel om te vervolg. Volgens my opinie wou die person rasse haat aanvuur deur vals beskuldigings op sosiale media te plaas, indirek is ander kulture daardeur benadeel en nou kies MiWay die kant van die oortreder wat ook ‘n belediging is teen ander kulture.

LB S ·

Duidelik verstaan jy nie dat daar ander maniere van straf ook is nie en dat die meeste blankes met MiWay se optrede sal saamstem. Die man HET sy laakbare gedrag erken en verskoning gevra sowel as om iets aan die gemeenskap terug te gee.

Griki ·

Wat ‘n pragtige voorbeeld stel René Otto en MiWay. Almal kan iets hieruit leer. Aan die klomp negatiewe kommentators: Mondli Madlala het om verskoning gevra en opregte berou getoon. Hy het nie sy optrede op ‘n arrogante wyse probeer regverdig nie – iets waaraan baie bekendes hulle wel skuldig maak. Sou julle nie ook graag wou hê dat iemand julle verskoning aanvaar as julle ‘n fout gemaak het nie?

Ellisras ·

Ek sien ‘n paar mense hier wat nodig het om meer in die Kerk moet kom. Of dalk moet oplet as jy daar is. Maar nou ja Christelike beginsels soos sewentig maal sewe vergewe is duidelik nie iets wat meer geld nie..

Pieter ·

Shame en toe doen MiWay die teenoorgestelde as Spur. Dit gaan tot gevolg hê dat hulle baie kliënte gaan verloor. Rassehaat aanvuur is gepleeg en kan nie herroep word nie! Vervalste e-posse is bedrog!! ‘n Skande dat die kommentaar deur MiWay ‘n “mooi prentjie” van die beskuldige skilder :-(

anton ·

Na die voorval sal ek nooit van hulle gebruik maak nie al wil hulle my gratis versekerings gee!!!
Moeg dat sekeres altyd wegkom met alles en ons moet altyd 2de viool speel.
Wens ek kan werklik sê hoe ek oor baie dinge in die land voel maar dit sal nimmer ooit gepubliseer word nie want die waarheid mag mos nie meer gepraat word nie!!!

Gogga ·

Piet Pompies ek stem volkome saam met jou baie goed gestel. Matlaba hierdie keer kom jy weg pasop vir die volgende keer sal jy dalk nie so gelukkig wees nie!!!! Daar is geen verskoning vir wat hy gedoen het en gese het nie.

Mossie ·

Laat my dink aan die 2 pers studente en waar hulle moes draai

DS ·

As sy naam Piet of Jan of Penny was of sy van van der Merwe of du Toit of Sparrow was sou hy’n boete van R150 000 moes betaal vir sy uitlatings. Maar nee sy van is mos Madlala so net ‘n verskoning is aanvaarbaar. Waar is die regverdigheid?

Besemryer ·

Jaaaa, René jaaaaa *gaap* en van nou af gaan talle van ons versekering doen: we’ll do it ourrrrrrr wayyyyyyyyy……..

Besemryer ·

Ek twyfel stérk of die twee personeel lede uit vrye wil nie wou optree nie…..

Sê ook maar NET! ·

Robert, dit wys jou net, blankes word in die publiek verneder terwyl Mondie Madlala en ander soos hy verhef word omdat hy rassisme aanblaas en dan sogenaamd verskoning vra waarvan niemand weet. Op Twitter is hy skielik bang hy gaan sy werk verloor, dis seker die verskoning wat hy aan MiWay gevra het maar nooit het hy sy mede burgers om verskoning gevra vir sy blatante aanblaas van rassisme.

Kaspaas ·

Jammer glo julle nie. Was dit n wit persoon het die MRK teen vrydag al n skuldig bevinding gedoen met n boete. Die persoon het doel bewus die raskaart gespeel want hy het geweet dit gaan werk. Nou wil julle regter en jurie speel.

Johann ·

Ai, hoe verder? Hierdie land word so uitmekaar geruk deur rassisme. Miway het niks gedoen om in hierdie situasie te beland nie – moet ons regtig op hulle toesak soos roofdiere? Is ons nie besig om derm uit te ryg soos ‘n bobbejaan nie? Raak realisties – ons leef in ‘n land wat polities so verwronge is dat ons darem ook begrip moet he vir instansies soos Miway. Terloops, ek is nie by hulle verseker nie

Christien ·

Ek stem saam. Ai tog, almal se onvergewensgesindheid – Meeste bovermelde kommentare basuin dit uit.

Wiehan ·

Hoe bepaal Rene Otto of hy op reg is met sy verskoning. Ek sal ook “op reg jammer” wees as ek R150000.00 boete in gesig staar

Nico ·

Hoekom is sy eis regtig afgekeur so van die begin was hy nie eerlik nie en nog steeds voort gegaan om moeilikheid te veroorsaak en word vergewe nee mi-way julle bluf julle net self as dit nou volgens julle nie erg was nie het hy sy versekering nog behou

CCB ·

Ag kom oor jouself, skuif dan as jy so voel. Die “seergemaakte” witmens storie en SPUR sage is nou holrug gery. Kry ruggraat en beweeg aan. Vergewe man. My magtig julle is erger as kinders wat nie ‘n storie kan laat gaan nie ?

Christien ·

Laat my dink aan die grappie wat die rondte doen van die Spur….
Hierdie een sê: Sien Ek ‘n Miway plakker op Jou venster?

Donkie ·

MiWay is nou ourway … die groot trek uit – baie dankie!

Annette Stander ·

Dankie tog ek is nie een van MiWay se kliente nie. Sou hulle in elk geval maan toe en teruggestuur het

Sakkie ·

Well done MiWay.

Pragtige voorbeeld van Christelike waardes.

Frik ·

Ja Sakkie ons moet nie teen misdadigers optree nie want die wraak of veroordeel kom ons nie toe nie en dan moet ons nie kla dat ons misdaad nie ksn stop nie en oor die geweldige misdaad in ons land nie. Ook moet ons nie kla oor rassisme en dubbele standaarde wanneer studente aangekla word oor slegs fotos op kampus?
Lees net weer jou Bybel in konteks

Jaques ·

Frik en Sakkie,
Maar as jy aanmekaar net jou wang gaan draai, gaan jy in die graf eindig, daar kom ook ‘n tyd wat jy jou wapentuig moet opneem, opstaan en terug baklei teen onregte wat teen jou as mens gepleeg word.

TDW ·

Ek salueer jou Mnr Otto, dis die regte manier om so iets te hanteer. Mag julle ‘n voorbeeld wees vir die regering wat rassehaat bevorder.

Maggie Pringle ·

Ons moet vergewe. Al is dit hoe moeilik. Welgedaan Otto.

Raymond ·

Persoonlik dink ek die Spur se CEO kan iets hieruit leer. Instede van om vingers te wys en te “brag” oor hoe syfers nie ge affekteer is nie, kan hy gerus bietjie terugsit en kyk na wat werklik in ons land gebeur en dat net soos Madlala het die “Spur Man” uit frustrasie opgetree. Ons woon in ‘n land waar daar waarskynlik die beste verhouding tussen mense van alle kulture is, maar dit word nie erken nie.
Rasse verhoudinge word opgebou en dan klim die Politikuste en Unies in en, en vertel ons almal hoe rassisties die land is. Kyk bietjie in julle gemeenskappe en werksverhoudinge hoe goed ons almal eintlik oor die weg kom.
Mnr. Otto solank jou motiewe nie Polities was nie, kan ek vir seker my hoed vir jou afhaal. Om op te bou is baie moeiliker as om af te breek.

Ek hoop die CEO van Spur maak so nou en dan ‘n draai op Maroela Media en leer iets

Susan ·

Ag wat sou dit tog help om kwaad met kwaad te vergeld? Dit sou rassehaat net nog meer aangeblaas het. Ek weet as die skoen aan die ander voet was, sou die hél los gewees het. Maar dalk kom hier iets wat goed is uit vir die toekoms. Al is dit net dat hierdie ou sy kinders eendag reg kan opvoed – sonder haat en vergelding.

LB S ·

Presies! Is dit nie ook ons plig om hulle dalk te leer dat verdraagsaamheid en vergifnis nie so onmoontlik is nie?
Terloops, ek kan nie help om te merk hoeveel Christelike kommentare hier verskyn sonder dat hulle aangeval word nie. Lees bietjie Netwerk24, ja, ‘n Afrikaanse webblad en sien hoe MIN Christene daar werklik is. Dit is skokkend van ons eie nasie, om die waarheid te sê.

Wat!!!!!! ·

Neem stappe. Onregverdig! Ander word vervolg. Julle stel nie n voorbeeld nie. Ek bedank julle as my versekeraar. Totsiens

Agnee ·

Ek lag my n papie oor hierdie stelling. Van mnr MyWay oor Mandela
“Legendariese voorbeeld van versoening en vergifnis in Nelson Mandela. Ons mag dit nie vergeet nie. Hy het besluit om moordenaars in die apartheidsregime te vergewe vir die hoop en droom van ʼn verenigde, versoende nasie. ”

Die mense vergeet dat Mandela ‘n moordenaar was in die ou SA nou is hy ikon en god. Dit gee my pyn as hul sulke twak kwyt raak.
Nou kom ons terug by MyWay en die man met sy rassistiesse epos. As dit nou n blanke was en ook vir mnr MyWay in die oe gekyk het en omverskoning gevra het sou hy dieselfde gedoen het en die persoon ook vergewe het. GLO NIE. MyWay het nog n klient verloor

GES ·

Lyk my die lyssie is besig om te groei. Spur, MiWay, …… Die dae is verby dat daar op ons blankes gespoeg en getrap word. Wat my naar maak is die sieklike manier waarmee met die Bybel omgegaan word. Oortredings moet vergewe word maar dit het ook gevolge wat vir almal dieselfde moet wees. Wat van Penny … ??

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.