MK-party onttroon dalk EFF – peiling

Oudpres. Jacob Zuma is uMkhonto weSizwe (MK) se presidentskandidaat. (Foto: Skermskoot)

Die moontlikheid bestaan dat uMkhonto we Sizwe (MK), oudpres. Jacob Zuma se party, beter as die EFF in die komende verkiesing gaan presteer en eindelik die derde grootste politieke party in Suid-Afrika gaan word, aldus ’n nuwe peiling.

Dié onlangse peiling deur die Brenthurst-stigting – ’n Johannesburgse dinkskrum wat in 2004 deur die Oppenheimer-familie op die been gebring is – toon (nes talle ander) dat die ANC ál meer steun verloor in aanloop tot die nasionale en provinsiale verkiesing.

Luidens die peiling staan die regerende party se steun in dié stadium maar op 39% en die Veelpartyhandves op 33%.

Die DA geniet tans 27% in nasionale steun, gevolg deur Zuma se MK-party met 13%.

Die EFF geniet maar 10% steun.

Die Veelpartyhandves blyk aldus die peiling meer gewild as die ANC in Gauteng en KwaZulu-Natal te wees.

Die groepering geniet aldus die peiling tans 38% steun in Gauteng vergeleke met die ANC se 34%.

Die Veelpartyhandves, ’n groepering van 11 opposisiepartye wat hoop om kragte saam te snoer en die ANC te ontsetel, geniet selfs nóg meer steun (39%) in KwaZulu-Natal.

Die nuwe MK-party se logo (Foto: UMkhonto Wesizwe Party/Facebook)

Die MK-party, wat eers in September by die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) geregistreer is, blyk egter in dié stadium die grootste enkele party in KwaZulu-Natal te wees, met 25% van die stemme, vergeleke met die ANC se 20%.

Die ANC in KwaZulu-Natal het vanaf Oktober tot Februarie 12 persentasiepunte teruggesak.

Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut, het Vrydag aan Maroela Media gesê die MK-party blyk die voorste party in KwaZulu-Natal te wees en vaar besonder goed vir ’n party wat eers verlede jaar geregistreer is.

“Die MK-party is beter georganiseerd en gefinansier as wat mens dink. Daar is geld én beplanning.”

Die DA vat luidens die peiling voor in die Wes-Kaap met steun van 53% teenoor die ANC se 35% in die provinsie. Die ANC het egter tussen Oktober en Februarie 13 persentasiepunte bygekry, terwyl die DA drie persentasiepunte verloor het.

Die Brenthurst-stigting bestempel die MK-party en die DA as die peiling se “grootste wenners”.

  • Die Brenthurst-stigting se peiling is gegrond op telefoniese onderhoude met 1 506 geregistreerde kiesers gedurende die laaste twee weke van Februarie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

piet ·

Ek stem nie saam nie. ANC en EFF sal meer kry as in hierdie peiling en die DA minder.

J. J. ·

Indien die MK party iewers beheer kry, sal ons weer soos in die 1970’s 80’s moet mooi kyk vir onverwagte aanvalle van mense met uniforms wat nie aan die weermag/polisie behoort nie. Die anc regering sal hulle gebruik om hul ideologie af te dwing.

Manie ·

Die DA moet wakker loop in die Wes-Kaap. Vanwaar kom die ANC se 13% groei?

Andre ·

…die DA sal moet wakker slaap met die stemtellery!
Vra maar vir Trump!

piet ·

Manie – Swartes ingery van die Oos-Kaap. Omtrent al die swartes stem ANC in die Wes-Kaap en ‘n beduidende gedeelte (maar nie die meeste nie) van die Bruin-gemeenskap ook.

Jan Jacobs ·

Zuma se hoof doel is KwaZulu-Natal. Sy hoof borg is Rusland. Hierdie verkiesing van suid afrika het groot implikasies vir die wereld. Die VSA soek die kaapse seeroete en Rusland Natal se hawens. Die VSA en Isreal het klaar die midde ooste se see kanaal.

Republikein in die Wes Kaap ·

Nee wat, die ANC in die WK is begrawe. Dié party se takke hier is disfunksioneel. Selfs die Top 7 in Luthuli Huis weet dit. Die migrante besef met die ANC in beheer sal die WK dieselfde pad volg as die OK, veral hospitake en skole. Hier word darem nog werk geskep. Die OK migrante is ook ongelukkig met migrante wat van buurlande hierheen stroom, met komplimente van die ANC.

Annamarie ·

Die ANC en MK gaan daam staan na die verkiesing, miskien die EFF ook! ANC het hul afname jare terug gesien kom en eers vitr Julius “boos” gemaak en toe vir Jacob. Die kaders is lief vd ANC nie vir Rampies nie. Hul gaan dan soos die kommuniste regeer soos hul nog altyd wou, dit is hoekom hul hul skaar by Rusland en voel net niks vir die VSA… whatch this space

Republikein in die Wes Kaap ·

Jan Jacobs, SA is waarskynlik reeds gekoloniseer. Die land se toekoms is klaar deur buitelanders bepaal. Die gestemmery hier is van geen waarde.

KB ·

“Shame”, Brenthurst…deur die Oppenheimer-familie op die been gebring, “shame”…geld is niks. Julle versuur baie mense se lewens, nou wil julle kom “slimwees”. Julle gaan baie skape vang…gelukkig sê ek nie mêêê nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.