MK-party vies oor OVK se appèl

MK-party (Foto: Emmanuel Croset/AFP)

Die uMkhonto we Sizwe (MK)-party veroordeel die besluit deur die Onafhanklike Verkiesingskommissie om appèl aan te teken teen ʼn uitspraak in die kieshof.

Maroela Media het vroeër berig die OVK het appèl by die Konstitusionele Hof aangeteken nadat die kieshof vroeër vandeesweek beslis het dat oudpres. Jacob Zuma tóg verkiesbaar gestel kan word vir vanjaar se nasionale verkiesing.

“Hierdie optrede dui op ʼn haastige oordeel en moontlike politieke druk deur die OVK van eksterne magte – sommige daarvan buite Suid-Afrika,” sê Nhlamulo Ndhlela, woordvoerder van die MK-party.

“Dit is duidelik dat Freedom Under Law, die Demokratiese Alliansie en talle ander, wat bekend is as koloniale en apartheidsprojekte, onregmatig druk toegepas het en geslaag het om druk op die OVK toe te pas vir dié roekelose besluit.”

Ndhlela meen hierdie oorhaastigheid “stel die deursigtigheid en regverdigheid bloot wat in regterlike verrigtinge verwag word”. “Dit plaas die onafhanklikheid van die OVK onder verdenking. Die MK-party sal dit nie toelaat nie.”

Hy sê die MK-party meen dié appèl deur die OVK hou nie met regsklaring verband nie, maar is eerder oënskynlik ʼn voldoening aan opdragte deur die Ramaphosa-ANC-faksie en sy finansiële ondersteuners.

“Die gevolg is dat die MK-party se vertroue in die vermoë van die OVK, om vry en regverdige verkiesings te verseker, verbrokkel het.”

Ndhlela sê een van die belangrikste, onmiddellike prioriteite van die MK-party, “ná sy tweederde meerderheid op 29 Mei”, sal wees om die “integriteit en onafhanklikheid van die regstelsel, insluitend die OVK, te herstel”.  “Geen bose mag of krag sal ʼn idee stop wat se tyd aangebreek het nie. Die MK-party is die toekoms en in Mei 2023 sal die MK-party as oorwinnaars uit die stryd tree.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.