MK se parlementsdrome dalk net lugkastele

(Foto: EMMANUEL CROSET / AFP)

Oudpres. Jacob Zuma se nuwe uMkhonto we Sizwe (MK)-party weet te vertel hulle sal nasionaal genoeg stemme inwin om ʼn paar setels in die parlement te kry én die meerderheid stemme in KwaZulu-Natal inpalm.

Afgesien van Zuma se tuisprovinsie het hulle hul visier ook op Gauteng, Mpumalanga, die Oos-Kaap, Limpopo, Noordwes en die Noord-Kaap.

“In daardie volgorde,” sê Nhlamulo Ndhlela, MK-woordvoerder.

Drie politieke kenners waarmee Maroela Media onlangs gesels het, is egter nie oortuig nie.

Die kenners stem ook nie saam met die meningspeilings wat toon dat MK nasionaal beter as die EFF in die verkiesing gaan presteer en eindelik die derde grootste politieke party in Suid-Afrika gaan word nie.

Die Brenthurst-stigting se onlangse peiling plaas die MK se steun in aanloop tot die nasionale en provinsiale verkiesing op 13% nasionaal en 25% in KwaZulu-Natal.

Zakhele Ndlovu, politieke ontleder verbonde aan die Universiteit van KwaZulu-Natal (UKZN), meen wel die voorspelling oor KwaZulu-Natal kan realisties moontlik wees en dat die MK moontlik die tweede of derde grootste party in dié provinsie kan word.

Hy kan egter nie sien dat Zuma se party elders as KwaZulu-Natal, en dalk onder Zoeloe-kiesers in Gauteng en Limpopo, veel aftrek gaan trek nie.

“Die MK gaan wel die ANC weg van 50% nader aan 40% druk,” sê dr. Theuns Eloff, onafhanklike politieke kommentator.

Hy meen elke stem wat die MK kry, kan eintlik maar van die ANC afgetrek word, “behalwe in KwaZulu-Natal, waar hulle dalk ʼn paar stemme by die IVP gaan steel”. “En dit is slegte nuus want mens het gehoop dat die IVP en die Veelpartyverdragouens saam naby aan 50% sou kom,” praat hy reguit.

Oudpres. Jacob Zuma (Foto: EMMANUEL CROSET / AFP)

Net soos Ndlovu, voorsien Eloff ook nie dat die MK nasionaal die pyp gaan rook nie. “Hulle gaan nie in die parlement veel van ’n faktor wees nie.”

Ndlovu meen die MK gaan vanjaar kiesers na die stembus lok wat voorheen ontmoedig was en nie hul stem uitgebring het nie.

“Ek dink wat Zuma suksesvol gedoen het, is om die indruk te skep dat die mense wat keelvol is vir die ANC nou ’n alternatief het,” sê Ndlovu.

Prof. Musa Xulu, Zoeloe-kultuurkundige, sê die aanname dat die MK ’n groot party is, berus nie op feite nie, maar eerder op die aanname dat Zuma gewild is. “En waar is hy gewild? Hy is gewild onder die etniese Zoeloe-kieser wat vir niemand anders wou stem nie.

“Die etniese stem is nie ’n groot stem nie, maar wel ’n stem wat gehoor word.”

Xulu wys ook daarop dat Zuma graag die Zoeloe-etniese kaart tot sy voordeel gebruik. “Daarom sal die sogenaamde etniese Zoeloe-stem waarskynlik aan die MK party gaan.”

Op Maroela Media se vraag aan Ndhlela oor wie die MK se deursneekieser is, antwoord hy egter  “die armste van die armstes” wat deur die huidige regering benadeel is.

Die party verwag ook dat die swart werkersklas sowel as die jeug hul kruisies op 29 Mei agter die MK se naam op die stembrief sal trek.

Ndhlela hou egter vol dat dit nie net in KwaZulu-Natal sal wees nie. “Om te sê dat ons net in KwaZulu-Natal gaan goed doen, is om die kar voor die perde te span.

“Ons het ’n nasionale voetspoor en gaan in al nege provinsies deelneem.”

(Foto: EMMANUEL CROSET / AFP)

Koalisie met ANC nie onmoontlik

Ndhlela sê indien die MK -party nie ʼn meerderheid in KwaZulu-Natal behaal nie, sal die party bereid wees om “met eendersdenkende” partye in koalisiegesprekke te tree “om ’n patriotiese front te vorm”.

Ndhlela sê enige sprake van koalisies is in die stadium voortydig. Hy bevestig wel dat die MK nié in koalisie met die ANC sal gaan nie. “Ons kan ons nooit in ’n koalisie met pres. Cyril Ramaphosa se ANC bevind nie.”

Ndlovu wys egter daarop dat daar nie so ʼn groot verskil tussen die MK en die ANC is nie. “My vermoede is dat hulle tog ’n koalisie sal aangaan indien die ANC nie die mag in KwaZulu-Natal wil opgee nie.”

Volgens Eloff is die EFF waarskynlik die enigste party wat bereid sal wees om in dié stadium in koalisie met MK te regeer. “Enige ander party sal ver van die MK af bly want hulle beleid is nie duidelik nie.”

Geweld op pad?

Daar heers intussen groeiende kommer dat Zuma se MK gekaap kan word deur individue wat Zoeloe-nasionalisme wil bevorder, en dus kan opruk indien die party nie genoeg stemme kry om te regeer nie.

Die kenners meen die moontlikheid van onrus soortgelyk as dié van Julie 2021 kan dus nie uitgesluit word nie.

Ndlovu wys daarop dat Zuma homself immers tot op hede nog nie gedistansieer het van die destydse onluste nie en dat die sogenaamde meesterbreine agter die Julie-onluste nie suksesvol vervolg is nie.

Ndlovu, Eloff en Xulu glo egter die regering se sekerheidsdienste sal hierdie keer meer gerat wees, sou onrus voor, gedurende of ná die verkiesing  uitbreek.

“Hierdie keer sal dit ook net een relatief klein party wees wat opruk en ek verwag groot teenkanting van die ander partye,” sê Eloff.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Di ·

Gaan my verstand te bowe dat enige iemand na die korrupsie en staatskaping gepleeg deur hom, steeds hulle stemme sal gee aan hierdie party. Wys mens net die denke van sekeres in die land. Die man het ons land letterlik in die grond in gedryf en word steeds toegelaat om deel te neem aan die verkiesing, SKOKKEND

Karina ·

Hy was dan “so siek” dat hy ontslaan is uit die tronk! Hoe kan hy nou so gesond wees dat hy weer kan staan vir verkiesing? Di ek stem saam met jou stelling.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.