Mkhize: ‘Beperkings dalk gou strenger’

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid. (Foto: Twitter)

Die koronavirus gaan voort om eksponensieel te versprei en die verspreidingstempo is baie vinniger as met die eerste golf – met die piek van die eerste golf wat in die komende dae oortref sal word.

Só het dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, gesê met die aankondiging dat Suid-Afrika nou 954 258 bevestigde Covid-19-gevalle het, met 14 046 nuwe gevalle wat aangemeld is.

Die sterftesyfer weens Covid-19 staan nou op 25 657 nadat nog 411 sterftes aangemeld is. Tot dusver het 811 372 mense reeds van die virus herstel. Suid-Afrika het tot dusver 6 269 776 toetse vir Covid-19 gedoen, 54 048 sedert die vorige verslag.

“Ons moet Suid-Afrikaners waarsku dat ons die huidige beperkings sal moet hersien en verdere maatreëls sal moet oorweeg om te verseker dat ons die kommerwekkende tempo van verspreiding beperk.”

Buiten die Oos-Kaap gaan al die provinsies voort om ’n toename in gevalle aan te meld, terwyl KwaZulu Natal (30%), die Wes-Kaap (28%) en Gauteng (23%) die meeste nuwe gevalle aangeteken het en tans 81% van die nuwe gevalle uitmaak.

Dit is volgens Mkhize belangrik dat die situasie in dié provinsies geëvalueer word, brandpunte geïdentifiseer word (ook in ander provinsies) en aanbevelings gedoen word gegrond op die bevindings en die uitkomste van aanbevelings wat reeds in ander brandpunte in werking gestel is.

“Ons kan nie genoeg beklemtoon nie dat burgers die nodige voorsorg moet tref terwyl ons die feesseisoen vier. Ongelukkig is Covid-19 onverbiddelik en daarom kan ons dit nie bekostig om selfvoldaan te wees nie.”

Mkhize het ’n beroep op alle Suid-Afrikaners gedoen om aan die Covid-19-regulasies en ‑aanbevelings te voldoen. “Vermy groot byeenkomste en oorvol areas, maak seker daar is voldoende ventilasie in plekke waar bymekaar gekom word en dra jou masker, pas sosiale distansiëring toe en ontsmet jou hande en gedeelde oppervlakke gereeld.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.