Mkhize glo valslik by fluitjieblaser se moord betrek

Dr. Zweli Mkhize, voormalige minister van gesondheid. (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Oudmin. Zweli Mkhize sê hy het met “skok en hartseer” verneem dat sy naam verbind word met die moordsaak teen ses mans wat beskuldig word van die moord op Babita Deokaran, waarnemende finansiële hoof van die Gautengse departement van gesondheid.

Mkhize het dit Woensdag baie duidelik gestel dat hy “absoluut niks” te doen het met die moord op Deokaran óf die beweerde verkrygingsonreëlmatighede wat moontlik tot die moord aanleiding gegee het nie.

Die voormalige minister van gesondheid is uiters ontsteld nadat een van die ses moordbeskuldigdes aanvanklik beweer het dat Mkhize en sy broer opdrag gegee het dat Deokaran vermoor word.

Die beskuldigde, Phakamani Hadebe, het intussen hierdie bewering in die Johannesburgse landdroshof teruggetrek.

Hadebe beweer nou marteling en brutaliteit aan die hand van ondersoekers het gelei tot sy valse verklaring, berig Daily Maverick.

Deokaran is in Augustus buite haar huis in die suide van Johannesburg doodgeskiet. Sy was ten tyde van haar moord ʼn sleutelgetuie in die spesiale ondersoekeenheid (SOE) se ondersoek na bedrog met onder meer persoonlike beskermingstoerusting in die departement.

Babita Deokaran is verlede week vermoor.

Die staat voer aan Deokaran is vermoor om haar stil te maak.

Mkhize wys daarop dat hierdie beweerde verkrygingsonreëlmatighede op provinsiale vlak plaasgevind het, ver weg van die nasionale regeringsfeer waar hy as nasionale minister van gesondheid gedien het.

Mkhize sê voorts hy het sy prokureurs opdrag gegee om ’n skrywe aan die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) te rig waarin ’n ondersoek geëis word na die valse bewering sowel as die terugtrek daarvan.

Die voormalige minister, wat reeds sy amp kwyt is weens die Digital Vibes-skandaal waarin hy gedompel is, meen die jongste bewerings is bloot geopper om hom in die politieke verleentheid te stel.

Hadebe beweer ondersoekers het hom kort ná sy inhegtenisneming ure lank gemartel. Hy voer ook aan die polisie het ʼn plastieksak om sy kop gebind en hom byna versmoor waarna hy eindelik valslik gesê het dat Mkhize opdrag vir die moord gegee het.

Hy het egter intussen erken dat hy nog nooit die voormalige minister van gesondheid of sy broer ontmoet het nie.

“Ek is onskuldig op die aanklagte teen my. Ek dra geen kennis van en was nie betrokke by die moord op Babita Deokaran nie, en ook nie by enige sameswering tot so ʼn moord nie.”

Hadebe en sy medebeskuldigdes, Zitha Hadebe, Nhlangano Ndlovu, Sanele Mbhele, Simphiwe Mazibuko en Phakanyiswa Dladla, is drie dae ná die moord op Deokaran in Rosettenville aangekeer en staan almal tereg op moord, poging tot moord, sameswering om moord te pleeg asook die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie.

Die saak teen ʼn sewende verdagte is vroeër weens ʼn gebrek aan bewyse laat vaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Chris dupreez ·

Het hy nie ook gesê,, hy is onskuldig ,, in die Digital Vibes debakel nie. Waar daar n rokie is !!!

Di ·

Glo dat hy onskuldig is, iemand anders in die politieke kringe wil dit nou blameer op hom! Glo die waarheid sal wel uitkom, “al loop ‘n leuen ook hoe snel, die waarheid agterhaal hom wel”

Shakespeare ·

Diline. Die frase wat jy gebruik is al lankal uitgedien. Die leuen bly seëvier vir die ANC/EFF.

Aai ·

Ondersoek maar deeglik die kaders het seker die verdagtes laat weet trek terug of julle families gaan dit voel.

Misky ·

Nee wat Mkhize, niemand vertrou jou meer of ‘n woord wat uit jou mond kom nie.

JM ·

Hadebe: nie net ‘n moordenaar nie, maar ‘n leuenaar by uitstek.

marius ·

Hoeveel geld is vir Madagaskar se wonder kuur covid tee navorsing geskenk ? Weet seker niks daarvan nie ….

JohanR ·

Die ou was darem besig in 2020, en die eerse maande van 2021 toe mense hulle werk verloor het, moes oorleef op halwe salaris of moes in hulle spaar rekennige ingaan. Party moes leef op R350 – R11.50c ‘n dag!

Casper ·

Iemand in die gesondheidsdepartement wou verhoed dat sy getuig en die opdrag gegee dat sy vermoor moes word.Hierdie verdagtes het nie uit vrye wil opgetree nie want hulle het nie gebaat by die korrupsie nie.Die opdrag het of van iemand op nasionale vlak gekom of iemand op provinsiale vlak.Hierdie verdagtes gaan nie praat nie want hulle families kan in gevaar verkeer.

Suzette ·

En dis feite hoor. Dreig om die naaste aan hulle leed aan te doen

Jacobus ·

Mkhize het ook beweer hy en sy seun wat miljoene rand onwettig ontvang het is vervreem, hy weet niks van hom af nie. Net om onlangse fotos te sien waar hy, sy vrou en seun, by n funksie staan en mekaar omhels.

Yvonne ·

Wie kan n mens deesdae nog vertrou…jammerlik as jou lewe die teendeel bewys

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.