Mkhize kap terug oor Prasa-bewerings

Dr. Zweli Mkhize. (Foto: Twitter)

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid en voormalige tesourier-generaal van die ANC, het teruggekap ná bewerings deur Lucky Montana dat hy gehelp het om geld vir ʼn omstrede kontrak in ʼn ANC-bankrekening te laat beland.

Montana, ʼn voormalige hoof van die Passasierspooragentskap (Prasa), voer aan Mkhize het in sy destydse hoedanigheid as tesourier-generaal van die ANC betalings van R3,5 miljard vir ʼn Prasa-kontrak vir die aankoop van nuwe lokomotiewe – wat uiteindelik nie geskik vir Suid-Afrika se spoorweë was nie – na die ANC help kanaliseer.

Luidens berigte het Mkhize voorgeskryf watter bankrekenings Maria Gomes, ʼn sakevrou wat betrokke was by die tender vir die lokomotiewe, die geld tot voordeel van die ANC moes inbetaal. Dit het glo by verskeie geleenthede gebeur wanneer Mkhize die Gomes-woning saam met Montana besoek het.

Montana hou vol dat hy die versekering gekry het dat die betalings deur Gomes en die direkteur van Swifambo, Auswell Mashaba, blote skenkings aan die ANC was en nie omkoopgeld was vir die korrupte lokomotieftransaksie nie.

Mkhize het in reaksie gesê hy het in Februarie 2018 al ʼn omvattende verklaring aan die parlementêre portefeuljekomitee oor openbare ondernemings verskaf waarin hy gereageer het op die “ongegronde en valse bewerings” deur Montana.

In dié verklaring sê hy onder meer Gomez het hom die verskering gegee geen betalings is in verband met die Prasa-tender aan die ANC gedoen nie en dat enige skenking wat sy of een van haar maatskappye aan die ANC gedoen het uit die goedheid van haar hart was en niks met die regering te doen gehad het nie.

Mkhize sê hy staan steeds by dié verklaring en dat hy nie in ʼn moddergooiery met Montana gaan betrokke raak nie. Hy sê die bewerings behoort aan ʼn formele en onafhanklike ondersoekproses onderwerp te word, eerder as om in die media bespreek te word.

Lwazi Manzi, Mkhize se woordvoerder, sê die minister aanvaar die kommissie wat staatskaping ondersoek het die magte om die bewerings behoorlik te ondersoek en dat hy dié werk steun.

“[Mkhize] sal enige inligting of duidelikheid wat die kommissie van hom as voormalige tesourier-generaal van die ANC benodig, verskaf,” het Manzi gesê.

Natasha Mazzone, die DA se hoofsweep, het intussen ook ʼn beroep op die Zondo-kommissie gedoen om Mkhize te dwing om oor die bewerings te kom getuig.

“Dat Suid-Afrika drooggebloei word, is vir niemand meer ʼn skok nie. Die omvang van die onbeskaamde betrokkenheid van ministers en senior politici binne die ANC is egter uiters ontstellend.

“Die ekonomiese krisis, die hongersnood en hopeloosheid, die stygende werkloosheidskoers en misdaadsyfers kan alles regstreeks met staatskaping en die verrotte kern van die ANC wat toenemend blootgelê word, verbind word,” het Mazzone gesê.

Die DA sê die grootskaalse korrupsie met Covid-19-kontrakte was so ooglopend dat pres. Cyril Ramaphosa dit nie langer kon ignoreer nie.

“As die president ernstig opgeneem wil word, moet hy verseker dat die nodige ondersoek gedoen word na die grootskaalse korrupsie waarby sy huidige minister van gesondheid glo betrokke was.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Alleen Wolf ·

Natuurlik sal hy dit ontken, hulle lieg almal aanmekaar.

domheks ·

Waar ‘n rokie trek is daar GEWOONLIK ‘n vuurtjie, in die geval ‘n HELSE VUUR!!!!!
anc kaders sal NOOIT skuld erken nie!!! Zupta se voorbeeld…….

Adam Adriaan ·

iets stink en ek ruik dit van ver af!!!! Snaaks dat hulle dit nie ruik nie?

Sarel ·

Wel niemand was ooit verantwoordelik gehou vir daardie Lokomotiewe nie en waar is dit nou.

Sarel ·

So hy het gevorder van Tesourier ( Finansies) na Minister van Gesondheid. Wat is sy kwalifikasie

jzjz05 ·

Kwalifikasie :-Hy het die regte kleur.is n anc en sal nooit erken dat hy verkeert was nie.Altyd iemand anders.

Persheks Adri ·

Joh tot jy is totaal en al deel van die ANC cartel pffft genade! Pragtig geleer by kaders ne? Dit skok my nie eers meer nie regtig vrot tot in die kern pffft

Nie Verbaas ·

Mkhize net nog n ANC lafaard, bedrieer en skelm soos almal van hulle.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.