Mkhize mag nie ‘agterdeur’ kry

Dr. Zweli Mkhize (Foto: Twitter)

Die spesiale verlof wat pres. Cyril Ramaphosa aan die minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, toegestaan het terwyl die omstrede Digital Vibes-saga ondersoek word, mag nie die minister beskerm om voor die parlement se portefeuljekomitee oor gesondheid te verskyn nie.

Dit volgens Philip van Staden, die VF Plus se woordvoerder oor gesondheid, wat sê die minister moet steeds voor die komitee verskyn om vrae te beantwoord.

“Mkhize se spesiale verlof mag nie vir hom ʼn agterdeur bied om nie voor die komitee te verskyn nie,” sê Van Staden.

Die party het Vrydag gevra dat die parlement se regsafdeling uitsluitsel moet gee oor of die minister ʼn geldige rede gehad het om nie vroeër die week voor die komitee te verskyn nie. Sommige ANC-komiteelede het aangevoer die saak is sub judice en dat Mkhize dus nie vrae daaroor kan beantwoord nie.

Pleks daarvan om self voor die komitee te verskyn, het die direkteur-generaal van die departement, dr. Sandile Buthelezi, in Mkhize se plek vrae beantwoord.

Die VF Plus en ander opposisiepartye het egter van die ANC verskil omdat die spesiale ondersoekeenheid (SOE) en die polisie die kwessie in hierdie stadium net ondersoek.

“Die parlement se regsafdeling het Dinsdag in ʼn skrywe aan die voorsitter van die komitee gemeld dat die saak nie sub judice is nie en dat die komitee ʼn grondwetlike verpligting het om die minister tot verantwoording te roep,” sê Van Staden.

Hy sê daar heers tans heelwat verwarring oor verskeie kwessies en dat slegs Mkhize duidelikheid daaroor kan verskaf.

Van Staden sê die minister se uitsprake Dinsdag dat hy volle verantwoordelikheid neem en sy onvoorwaardelike verskoning bied vir die ontwrigting wat die kwessie in die stryd teen Covid-19 veroorsaak het, maar ook sy uitspraak dat hy nooit ʼn kontrak onderteken het nie, is van dié wat nou verwarring veroorsaak.

“Alhoewel Mkhize nie aangebied het om te bedank nie, is dit duidelik dat daar meer agter die huidige situasie is as wat voorgegee word. Dit moet opgeklaar word.”

Die ANC se nasionale werkkomitee het intussen Mkhize se besluit verwelkom om voor die party se integriteitskomitee te verskyn.

Die minister van toerisme, Mmamoloko Kubayi-Ngubane, neem tans as minister van gesondheid waar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

24 Kommentare

jongste oudste gewildste
Strandloper

Die covid vermiste geld slaan nou uit soos vark massels, gebruik tog soutsuur om die asbes ruikie uit jou lang fingers te kry asb. Hooplik is daar nou genoeg tyd om te shop vir jou nuwe oranje uitrustings.

Martie Smartie

Dalk sal die inentings nou vinniger gebeur

Werner

Ou Cyril het klaar sy kadertjie gehelp met n agterdeur.

Pieter

En met al haar toerismeagtergrondkennis, besit sy genoeg mediese kennis ook om as minister van gesondheid waar te neem….?

Misky

Net miskien sal Covid met vakansie gaan as minister van toerisme nou aan stuur van sake is….. ha ha ha ha