Suid-Afrika beleef nog nie ʼn tweede vlaag van die koronavirus nie, maar kommer bestaan oor die situasie in die Oos-Kaap, en spesifiek die Nelson Mandelabaai-metro.
Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, sal binnekort die provinsie besoek en die nodige ingrypings aankondig.
“Uitbrekings beteken nie dat die hele land ’n oplewing gaan beleef indien ons dit goed bestuur nie,” het Mkhize Sondagaand tydens ’n inligtingsessie gesê rakende die regering se reaksie op die Covid-19-pandemie.
’n Toename in infeksies in die Oos-Kaap asook ’n effense toename in die Wes-Kaap is oor die afgelope twee weke waargeneem. Dit kan moontlik toegeskryf word aan studentepartytjies in die Oos-Kaap asook seisoenwerkers wat tussen die twee provinsies reis.
“Ons kan nog nie sê dit is ’n nuwe oplewing nie. Ons sê basies dat ons hierdie areas gaan dophou.”
’n Toename van 20% in gevalle binne ’n week binne ’n bepaalde area word as ’n oplewing beskou.
’n Toename in provinsies soos die Vrystaat en die Noord-Kaap beteken eenvoudig dat dié provinsies met die eerste vlaag opvang.
Ander lande steek SA ver verby
Suid-Afrika het in Junie tydens sy piek van die pandemie vyfde gelê ten opsigte van lande met die meeste Covid-19-gevalle.
Suid-Afrika het egter sowat drie weke gelede tot die tiende posisie afgeskuif en is nou in die 15de posisie. Daar word boonop verwag dat Pole Suid-Afrika binne die volgende paar dae sal verbysteek.
Kersfees
Tog waarsku Mkhize Suid-Afrikaners om nie op hul louere te rus tydens die komende feesseisoen nie.
“Suid-Afrika se gevalle kan net soos dié van ander lande weer vinnig toeneem.
“Ons moet ons begin voorberei vir ’n effense ander soort Kersfees. Ek praat nie van ’n inperking nie, maar net die manier van doen verander sodat ons nie dit gaan geniet en met ’n infeksie opeindig nie.
“Covid-19 is steeds met ons.”
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
6 Kommentare
Ag dankie tog, Mkhize gaan die provinsies besoek, ons kan maar ontspan.
Hy gaan net Oos-Kaap toe om weer te vroom vroom op die ambulans motorfietse! Pasop ook vir die winde ou Mkhize veral van die Minister Sindiswa Gomba. Staan weg van haar af, en defnitief nie agter haar nie!
Die ANC ramp is ook nog met ons pffft gee my krag op ‘n Maandag
“Covid-19 is steeds met ons.”, so ook vigs, en kanker en moorde. En baie ander ongemaklike goed
Ek woon in die ooskaap mense dra nie maskers, hulle is so onverantwoordelik. Afstande word nie gehandhaaf en geen hand sanitizer in landdroskantoor. Die virus maak dood.