Mkhize: ‘Omvang van probleem nog nie duidelik’

Zweli Mkhize
(Foto: Nqobile Mbonambi/African News Agency)

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het Woensdag nie doekies omgedraai toe hy die jongste inligting in Suid-Afrika se stryd teen die Covid-19-pandemie bekend gemaak het nie.

Volgens Mkhize is daar tot dusver 44 292 mense getoets en het die toetse hoofsaaklik in privaat laboratoriums plaasgevind. Altesaam 47 541 toetse is al voltooi, waarvan ongeveer 6 000 in die nasionale gesondheidslaboratoriumdiens (NHLS).

“Dit is veels te min gegewe die grootte van ons bevolking en ander belangrike faktore soos ongelykheid, armoede en die onderliggende siektelas.”

Met verwysing na pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging dat ʼn grootskaalse mediese bestuursprogram van stapel gestuur sal word, het Mkhize gesê 67 mobiele eenhede sal gebruik word om pasiënte proaktief vir die koronavirus te toets.

Volgens Mkhize sal die fokus op die insameling van nasofaringeale monsters vir polimerase-kettingreaksie- (PCR-)toetse wees. “Ons kapasiteit tans is 5 000 toetse in 24 uur in 10 laboratoriums landwyd. Wanneer ons egter ons volle toetsvermoë bereik, sal ons 30 000 toetse in 24 uur kan verwerk.”

Die stadige styging in positiewe Covid-19-gevalle die afgelope paar dae kan volgens Mkhize aan verskeie faktore toegeskryf word. Dit sluit in die sluiting van die land se grense en dat reisigers in kwarantyn moet bly. Volgens Mkhize het die tydperk van afsondering ook gehelp om plaaslike oordrag te verminder.

Mkhize sê daar moet egter nou meer waaksaamheid as ooit tevore wees. Hy sê plaaslike oordrag het die neiging om stil te versprei en dat armer mense met matige simptome nie noodwendig dadelik hulp sal soek nie. “Ons toetskriteria vir pasiënte met simptome is tans reaktief en beperkend.”

Mkhize sê in die algemeen het pasiënte met toegang tot privaat gesinspraktisyns en die meeste mense met ʼn geskiedenis van reis na episentrums in die westelike hoofstede hulle laat toets. Volgens hom is dit in dié gevalle dus maklik om te vermoed dat hulle dalk Covid-19 onder lede het as hulle simptome opdoen.

“Dit beteken ons het nog nie ʼn ware prentjie van die omvang van die probleem nie. Ons moet derduisende mense toets om ʼn beter prentjie te kry en ons strategie te verfyn.”

Die tydperk van afsondering het volgens Mkhize moontlik die onbedoelde uitwerking gehad dat toegang tot gesondheidsfasiliteite beperk is vir diegene wat afhanklik is van openbare gesondheidsdienste in arm, digbevolkte en onderbediende gemeenskappe weens vervoerprobleme.

Volgens Mkhize kan die griepseisoen wat voorlê ook tot gevolg hê dat mense siek word met soortgelyke simptome.

“Dit kan tot gevolg hê dat ons klinieke en hospitale oorstroom word en dat vrugbare grond geskep word vir die koronavirus om te versprei.”

Dit beteken dat ons dalk tans die stilte voor ʼn hewige en vernietigende storm beleef, het die minister gesê.

Volgens Mkhize sal daar nou daadwerklik uitgegaan en vir pasiënte gesoek word. “Ons sal fokus op die aftakeling van die infeksiesiklus deur proaktiewe optrede, eerder as die reaktiewe benadering wat tot dusver toegepas is.”

Die proaktiewe optrede sluit ook in dat daar bykomende beddens en toegewyde behandelinsentrums bekom word waar slegs Covid-19-pasiënte behandel sal word.

Volgens Mkhize het Suid-Afrika ook versterkings van lande soos China en Kuba versoek via die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) en sal dit van volgende week af gebeur.

“Op grond van persoonlike waarneming het die aftakelende houvas van Covid-19 begin – dié greep sal van dié week af versterk en ons kan moontlik stygende sterftesyfers sien. Ons verloor gesinne, vriende, kollegas, gemeenskapslede, gesondheids- en ander professionele kenners van alle ouderdomsgroepe.

“Ons het nie meer tyd nie. Ons moet sterk, gefokus en dapper wees. Ons moet deurslaggewend optree. Ons moet ons reaksie tot ʼn hoër vlak voer. Die toekoms van die land sal afhang van ons vinnige gekoördineerde optrede.”

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

koos10 ·

Minister Mkhize, ek hoop net nou dat jy en jou party besef dat die land nie kan werk sonder die privaat mediese sorg nie.
Die regering kan en mag nie die nasionale gesondheidsorg plan deurvoer nie. Begin met julle eie fasiliteite en kry dit op standaard, dan praat ons weer.
Dis net vir my bitter jammer dat ons eers die krises moet beleef om die werklike toedrag van sake te sien.

JC Venter ·

Ek sukkel om te sien hoe die aantal laboratoriums en toetse deur onder andere faktore soos ongelykheid en armoede beïnvloed word.

Hy sê ook, en ek haal grepe aan:
….. pasiënte sal ‘proaktief’ getoets word ….
….. ‘wanneer’ ons ons volle toetsvermoë bereik ….
….. in dié gevalle is dit dus maklik om te vermoed dat hulle dalk Covid-19 onder lede het as hulle simptome opdoen.
….. Ons moet derduisende mense toets om ʼn beter prentjie te kry en ons strategie te verfyn.

En dan het hy oor nog ‘n klomp goed bespiegel.

Strandloper ·

Ek kan my net probeer voorstel hoe dol dit moet wees om 57 miljoen mense tevreede te stel. Ek sukkel om my gesin posetief te hou. Dankie ons wardeer dit.

Pampoen ·

Die inkubasie tydperk van die siekte is omtrent 7 dae. As daar dan simptome waargeneem word en die persoon word getoets, vat dit vyf dae voordat die resultate beskikbaar is. Dus is daar gemiddeld 12 dae vandat die persoon die siekte aansteek totdat dit in die statistieke opgeneem word. Die statistiek wat ons vandag sien, is twaalf dae terug se aansteek. Die effek van die afsonderings tydperk sal dus eers op dag 12 van die afsondering begin wys en selfs dan sal dit ‘n stadige verandering bewerkstellig. Die minister verwys dus na die polities-aangepaste resultate en nie na die werklikheid nie.

Erik ·

Die minister se kommentaar en toespraak maak sin. Dink ons almal wil positief wees, maar dat dit dalk nog te vroeg is. Ek vermoed baie mense het reeds die virus, maar is self nie bewus daarvan nie. Ek moet toegee, al verskil ek meestal met ons regering, het hul hierdie situasie uitstekend hanteer. Selfs beter as ou narcisstiese Trump. Krediet mag maar gegee word waar dit toekom – dis ‘n teken van volwassenheid en objektiwiteit.

JC Venter ·

Die minister en ons president uiter dieselfde retoriek soos in vredestyd.

Elmarie ·

Trump gaan soek nie hulp by die Chinese wat lieg oor hulle getalle nie. Hy was die eerste wat ‘n “travel ban” ingestel het teen Chinese burgers wat inkom in die VSA. Gaan leer maar by hom.

Michael 1 ·

Ek verstaan nie hoe jy President Trump en die anc regering of jou president in dieselfde sin kan gebruik nie,totaal onvanpas.president Trump is hiudiglik die beste leier in die wereld.

Talitha ·

Ek verstaan nou glad nie…. 44292 toetse is gedoen, maar 47541 toetse is voltooi. Huh?

Anoniem ·

Hierdie is twak. Hoekom wil hulle nou die hele land se bevolking toets. As mens weet jy en ken jy mos jou liggaam beter as enige dr. Jy weet wanneer jy siek voel en wanneer nie. Ek meen as ek koors kry en hoes dan weet ek erens is daar n infeksie en ek moet dr toe. Jy kry nie net koors omdat jy koors wil kry nie. Jy is nie n kar wat kook as jou water min is nie. Jy word siek of jy bly gesond. Jy weet wanneer jy dr moet gaan en wanneer nie.

Erik ·

Party persone toon GEEN simptome nie, maar het die virus en kan dus ander aansteek wat dan wel simptome kan toon. Dis hoekom…

Simon ·

Watter kant van die munt gaan Homo Sapiens kies? Red soveel lewens ons kan of laat die ding sy natuurlike gang gaan? Hierdie twee keuses gaan die mensdom tot sy uiterste beproef. Uiteindelik sal daar ‘n keuse gemaak moet word. Red soveel ons kan en skep daardeur vir onsself soveel onvoorsiene probleme vorentoe waarvan die uitwerking selfs meer skadelik en venietigend as die virus self kan wees. Of gaan voort met ons normale handel en wandel wat heel moontlik Homo Sapiens se oorbevolking op die aarde drasties gaan verminder? Miskien moet ons die antwoord in die lesse wat die natuur ons leer gaan soek en daaruit leer. Daar is talle voorbeelde. Dink maar aan die springbok migrasie van 1915 wat tot massa uitwissing gelei het of tot so onlangs as 2015 waar massa uitwissing van wildsbokke in Kazakhstan a,g,v. natuurlike omgewins faktore voorgekom het. Dit alles die natuur se manier die balans te herstel. Dit alles is ook maar net my eie mening.

Lorna ·

Ek dink hul lieg vir ons wat die totaal en sterftes betref
Staan al 2 dae stil van hvl nuwe gevalle daar is die total het wel bietjie gestyg maar geen nuwe gevalle nie en ons staan al OP 2 dae op 5 sterftes na ek OP nuus gesien het daar moet meer wees
Se maar net as ek dalk verkeerd is

JC Venter ·

Teen die tempo wat inligting betreffende die virus in die land besikibaar raak, sal die regering ‘n week of so na die virus reeds verslaan is dit eers agterkom, maar dan het hulle die vorige week nog strenger maatreëls aangekondig.

Anel ·

En hoekim Kubaans invoer? Ons het genoeg gesondheidswerkers. Nou wil hy mense van ander lande invoer wat ander siektes saam bring. En wie gaan hulle betaal?

Oujongvrou ·

Hier praat die man nou reg. Ons het nie n idee van hoeveel mense is siek nie. Landelike mense is heel moontlik permanent half siek van wanvoeding ens. Hou op kla en mor oor alles wat die regering probeer doen. Ek kry soms so skaam vir my medemens wat net met vergrootglas sit en kyk waar kan hulle fout vind. Skaam vir julle. Begin liewer bid dat die probleem gestuit sal word.

Marieta ·

Ek wil nie dom klink nie, maar verstaan nie so lekker nie… Daar is 44 300 mense getoets, maar 47 500 toetse voltooi. Is dit nou saam met die opvolgtoetse na die kwarantyn periodes? Beteken dit dan dat daar alreeds meer as 3000 mense onder kwarantyn was? Ek glo dit kan dalk help as hierdie mense hul ervarings met ons deel. Dink dit kan dalk baie mense help om n meer positiewe ingesteldheid te verkry en hulle dan meer toeganklik of bereidwillig maak vir self isolasie of kwarantyn.

4ntj13 ·

1.) Blykbaar toon net 40% van mense met ernstige longontsteking koors van 38°C. Dit moet dus as kriterium vir toetse verwyder word om 60% meer lewens te kan red.
2.) Waarom NHLS nie verwysing vanaf privaatpraktyke af kan aanvaar nie, is ook duister. Dalk het dit met swak hantering te doen. Maak dus asb die wagtydperke vir uitslae, by NHLS en privaat laboratoriums, ook bekend. Dit sal beslis nie werk as dit langer as die kortste inkubasietydperk bly nie. Los asb hierdie probleme dringend op.
3.) Hoe lank het dit geneem om hierdie verpleegster op te spoor wat in Bloemfontein was? Vervolg asb diegene wat haar moes opspoor asook haarself, wat moes aangemeld het weke gelede, namens diegene wat by haar aangesteek het. Doen dit openlik om verdere aspris versteekte gevalle te voorkom. Moenie net vir ons wat tuisbly daarmee dreig nie–wys dat julle ernstig is om sulke gevalle vas te trek strafregtelik ook!

Robert John Edward ·

Om mense te toets vir ‘n virussiekte waarvoor daar geen behandeling of entstof is nie, is onsinnig en vermorsing van geld en ander hulpbronne. Die bevolking moet aan die virus blootgestel word om ‘n kudde-immuniteit te ontwikkel. Slegs antiliggame in die bloed kan die virus dood maak. Ongelukkig gaan die huidige afsondering die epidemie onnodig uitrek teen geweldige groot ekonomiese koste. Holland het besluit op geen isolasie nie en alhoewel daar sterfgevalle was, was dit min en floreer hul ekonomie en die bevolking het ‘n stewige kudde-immuniteit opgebou.

JC Venter ·

Ons gaan koop vanoggend vir die eerste keer in ‘n week kruideniersware. By die winkelsentrum is daar hordes parkeerplek, ons gaan eers by twee apteke aan en daarna maak ons by Pic n Pay ‘n draai, waar als net so rustig is, min mense.

Wat mens by PnP laat grommel het, is die soetrissie se pryse, een se prys is R38-00, ‘n pakkie van twee, rooi en geel, net mooi dubbel, toe los ons dit.

Op pad terug na die kar sien ons ‘n lang tou mense by een van die kitsbanke staan om geld vir aankope te trek, meeste van die mense het gesigsmaskers op, daar is geen spasie tussen hulle nie, net soos in die verlede, maar as die een met die ander gesels, lig dit die masker, hang dit om die nek en as dit klaar gepraat het, word die masker weer terug in posisie gesit.

Maria M S ·

“Versterkings van lande soos China en Cuba”. Werklik??! Daars n hele Westerse Wêreld van waar af julle hulp kan kry.

OW ·

Kuba en China word eerste genader vir hulp,omdat dit die twee lande is wat die ANC ondersteun en gehelp het tydens die bevegting van die apartheidsstelsel in SA.

Jan ·

Snaaks genoeg makeer angus buchan en prins charles skielik nou absoluut niks nie…ek dog die virus is so dodelik

Jan ·

Mense hou op oaniek saai die virus is nie dodelik in die meeste gevalle nie kyk na ou angus buchan hy makker skielik niks nie…wees eerder bang vir aids en kanker…en karongeluuke eis elke dag omtrent 30 lwens maar julle gaan twkere oor corona asof alaml daaraan sal sterf terwyl omtrent almal herstel…

Annelie ·

Kan Lancet en Du Buisson nie uithelp met toetsuitslae nie? 10 Labs is nie genoeg nie…. Asb? Ons almal sit n handjie by met iets… of dit nou kospakkies vir die ouetehuise is of kossies vir die DBV… Nou is juis die tyd om te gee en te help waar ons kan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.